Chris Chameleon: Die kruis van vriendskap

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Pontius Pilatus het nie ʼn goeie naam nie. Hy is vir ons ʼn voorbeeld van ʼn man wat sy plig ontduik het deur die maklike weg te neem van selfverontskuldiging en die lot van Jesus oor te laat aan die gepeupel.

Simon van Sirene het ʼn goeie naam, hy het gehelp om Jesus se kruis te dra, maar hy kon uiteindelik nie die lot van daardie kruis op hom neem nie.

Die Romeinse soldate met hulle “In Ri”-bordjie, spons vol asyn en steekwonde in die sy van die Gekruisigde het hulle ons ewige afkeur op die hals gehaal met hulle optrede.

Judas het dalk die slegste naam van hulle almal, die verraaier wat Jesus oorgelewer het in die hande van diegene wat Sy dood gesoek het.

***

Reeds voor ek die e-pos oopgemaak het, het ʼn krieweling in my krop begin.

Mens weet dit soms net, hier kom ʼn ding en ʼn goeie ding gaan dit nie wees nie. Ek maak die e-pos oop en daar is dit, ʼn dringende oproep om hulp. Ek het hom al vantevore gehelp. Van die kaiings uit die vuur krap, tot verblyf, tot werk, tot investering in van sy skemas, tot ʼn geldjie hier en daar.

Wanneer jy iemand so lank reeds ken, die paadjie van dekades deur goed en kwaad gewandel het, ontwikkel jy ʼn lojaliteit, ʼn liefde wat baie verdra en die kwaad nie toereken nie. Wat dit uiteindelik baie moeilik maak om hulp te weier. En liefde… daardie liefde wat die beste wil hê vir die wat jy liefhet. Boonop lei ek ʼn bietjie aan nostalgie en is die verknogting aan hoe dit in die verlede was, ʼn gom wat my gang in die hede af en toe striem.

Hy is haweloos en gaan op byna 50-jarige ouderdom sak en pak met sy laaste besittings by sy pa in ʼn klein kothuisie agter in iemand se erf intrek.

Ek onthou al die goeie tye, die lag, die sorgeloosheid van ons jeug. Ek onthou sy beskerming van my toe ek dit nodig gehad het. Ek onthou die tyd van ons jeug toe ons harte oop, onbewaakte deure vir mekaar was, soos dit met kinders is, en ʼn direkte, onbelemmerde vloei van energie, hoop, liefde, pyn en eerlikheid sonder die tolgeld van volwasse agterdog vryelik tussen ons beweeg het. Ek onthou sy vriendskap.

Die vriendskap se grootste uitdaging was nie so lank gelede nie. Hy het van my gesteel. Dit was nie ʼn beskeie gediewery nie, dit was behoorlik groot. Die pyn van daardie skending van vertroue het my diep geraak. Maar uiteindelik was dit nie genoeg om die liefde van jare te blus nie. Wat ek wel besluit het, was om die vloei van alle materiële dinge van my na hom te staak. Op my emosionele ondersteuning, vriendelikheid en die andersins normale gang van ons vriendskap kon hy nog steeds staatmaak, maar ek moes die materiële, die geldelike aspek verwyder.

Nou is daar egter hierdie dilemma. ʼn Man wie se ganse lewe in duie stort, wat hom op ʼn plek bevind waarin ek hoop, bid en werk om nooit te wees nie. Dis ʼn gat so diep dat selfs ek wat daarbuite staan nie die lig bo kan sien nie. Hy het hulp nodig en ek is hier. Ek kan help!

***

Uiteindelik het Jesus ʼn gruwelike dood aan die kruis gesterf wat voorafgegaan is deur gewelddadige foltering. Ek onthou hoe ek en my sussie, toe ons klein was, een aand onsselwers in ʼn koma in gehuil het toe ons vir die eerste keer besef het wat daar aangegaan het. Die wrede onmenslikheid daarvan. As ons maar Pontius Pilatus was! Of Simon van Sirene, of Judas of ʼn soldaat met ʼn gewete!

En dan?

Dit sou ons beter laat voel het, dit sou as ʼn deugsame en dapper daad beskou kon wees, maar dit sou ook die ganse mensdom die verlossing deur sy dood ontsien het.

Dis ʼn moeilike gedagte, maar Jesus moes ly, en dood moes Hy.

***

Ek kliek op “Reply” en laat my boesemvriend weet dat ek sy kruis vir hom kan dra, dit reeds gedoen het, maar dat ek die lot van daardie kruis nie vir hom kan neem nie.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Annie Oosthuizen ·

JA SKITTER VAN MENSLIKE WYSHEDE MAAR WIL JOU HERRINNER JYS REG JESUS MOES LY.. SODAT JOU VRIEND KAN LEWE… HY jou vriend, IS N SONDAAR NIE JESUS NIE… DIE BARMHARTIGE SAMIRITAAN…. is dit jy… IS JOU LOJALITEIT TOT DIE DOOD TOE… Soos JESUS s’n ? liefde is onvoorwaardelik…. maar die prys betaal ons net, net solank dit ons nie verontrief nie….

JMC ·

Almal het soms hulp nodig, maar meestal help jy mense deur hulle nie te help nie, of help jy hulle nie deur hulle te help.

jan_alleman ·

jy help jouself deur ander te help , want wat jy weerhou hier op aarde sal van jou weerhou word in die hemel , dit is wat Christus duidelik gemaak het in die gelykenis van die oneerlike bestuurder , of lees jy nie jou bybel nie ?

ChrisE ·

Baie goeie samevatting van vriendskap. Ek het myself ook al menigte kere afgevra, wat is vriendskap. Wat wil die ander persoon van jou hê of kry. Wat is sy bedoeling met jou. Ek is ook al deur ervarings wat ek slegs aan myself kan toedig. Toe dit met my “goed gegaan” het, het ek baie vriende gehad, toe my borrel bars, weg is al my vriende. Ek het ‘n kennis gehad wat altyd gesê het, “I walk alone, I cry alone and I laugh alone”. Daar is mos ook ‘n spreekwoord in Engels wat sê, “a friend in need is a friend in deed”. Laat ek julle vertel, dit is snert, ” a friend in need is a pain in the ass”

Arnos ·

Dit was die regte ding om te doen. Soos die Engelse sê: “You have to be cruel to be kind.”
Hy sal nog eendag besef jy was nog altyd daar vir hom.

Ella ·

Dankie ….’n mens wonder soms hoe moet jy “nee” sê?
Briljant uiteengesit!

Pieter ·

Dankie vir die uitstekende woorde. Daar is soveel vriende wat hulp nodig het, en ek het saam met elkeen ‘n wonderlike pad gestap. Mens help soveel moontlik, maar dan kom die dag wat jy moet terug staan. Dis bitter moeilik….. Maar dit moet gedoen word

Jordaan ·

Vriende, en familie, ja – hoeveel keer help mens en word jou vertroue geskend voordat jy dan terugkeer na waar Chris nou beskryf mens slegs emosionele ondersteuning bied? ‘n Baie moeilike vraag, as die mense na aan mens se hart is vind ek dit onmoontlik om te weier.

alwyn burger ·

Ek dink nie Judas kan as sleg beskryf word nie. Tragies wel. Hy het geen keuse gehad nie. Hy MOES verraad pleeg. Jesus het hom nodig gehad…..anders kon die Skrif nie volbring word nie??

E ·

Alwyn, ja ek voel soos jy in die saak met Judas. Wat ek wel raaksien is dat hy selfmoord gepleeg het omdat hy agterna so sleg gevoel het. Sou hy met sy lewe aangegaan het sou ons dalk anders oor hom voel?
Ek kan nie aanvaar mense oordeel oor sy lewe ‘in die hel’nie! Petrus het Jesus dan ook verraai, 3 maal en ek hoor bitter min mense se oordeel oor sy lewe.

Bollie ·

Ai, vir my die heel moeilikste ding om “nee” te sê wanneer iemand finansiële hulp vra. Agterna is ek vies vir myself, maar dan help ek maar weer volgende keer. Sê nou net ek was daardie persoon se laaste toevlugsoord?

Von ·

Baie maklik om van die kantlyn af raad te gee maar om self in so n situasie te wees is n kruis. As jy die enigste hoop is wat dan ? 70 x7 ? Dankie Here vir U volmaakte offer.

André Badenhorst ·

Die laaste paragraaf gooi my om (soos enige briljante stuk).

Valie ·

Chris, die harde realiteit is dat daar ook die meester manipuleerders tussen ons is. Die toets vir julle vriendskap sal wees om te let op die manier waarop die hulpbehoewende vriend jou wyse standpunt hanteer. Sterkte

gedagte ·

Die verskil tussen Judas en Petrus is… Petrus het berou getoon en teruggekom na Jesus en Sy Vergifnis aanvaar. Judas het berou getoon maar kon nie vergifnis aanvaar nie. Dit was DAAR vir hom. Mense het keuses.

Wil net sê, ek het nuwe respek vir Chris gekry. Hy is ‘n diep seun.

Verstom ·

Dit is so pragtig geskryf Chris, en baie van ons het sulke familie en voel partykeer die kruis wat ons dra is te groot, maar jou skrywe van vandag is so inspirerend en die wete dat Jesus Christus se kruis soveel groter was as wat enige van ons op aarde moet dra. Ons kan net sê dankie Jesus vir die Kruis wat U gedra het vir die hele wêreld en dat vir die wat let op die Wil van die Vader en doen soos Hy verlang, ons die onverwelkte kroon sal dra, eendag wanneer Hy weer kom.

Alete Muller ·

No good deed goes unpunished. Toe ek dié woorde die eerste keer hoor, was dit vir my ‘n vreemde stelling. Ek kan egter ná jare van hulp in verskillende vorms aan verskillende familielede en vriende, aan geen waarder woorde dink nie. Ek voel soos ‘n uitgesuigde lemoen in ‘n asdrom.

Besemryer ·

Chris is ‘n man met wysheid vêr bo sy jare! Ons almal vorl soms só. Mense misbruik en gebruik mekaar in die naam van vriendskap al vir eeue. Nee sê is net so moeilik maar mens moet jou voet neersit en opstaan vir jou eie beswil. Ek sê deesdae graag “nee” en voel nou hoegenaamd geen skuldgevoel daaroor nie, en ek hou my varkies mooi op hok :D

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.