Chris Chameleon: Die mes

Chris Chameleon (Foto: Chris Chameleon, Facebook)

Ons gaan kerk toe wanneer ons kan. Met die baie ryery, die elke aand op ʼn ander plek gewesery en die soms 3 uur soggens tuiskom is ek een van daardie lidmate wat taamlik ongereeld gesig wys by die NG Kerk waar ek gedoop en aangeneem is en waar my testament graag my laaste gedenkdiens wil hou.

Maar wanneer ek kan, gaan ek.

Dis nie net ʼn geestelike saak nie, dis ʼn kulturele saak. Dit gaan om my kerkkultuur, my Afrikanerkultuur en, les bes, my persoonlike kultuur. Want daardie gebou huisves menige van my herinneringe.

Ek onthou hoe ek as kleuter op die mat in die moederkamer rondgekruip het. Ek onthou hoe my ma elke Sondagoggend in ʼn geweldige haas deur die agterstraatjies die bergpad plat gejaag het met die geel Volksie om betyds by die kerk uit te kom. So is ons geloof ook goed in stand gehou, want die feit dat ons lewendig by die kerk aangekom het en dat ons geen ander lewens op pad geneem het nie was al ʼn reëlregte, weeklikse wonderwerk.

Ek onthou die opgewondenheid van my eerste nagmaaldiens, toe ek uiteindelik daai broodjie en ʼn slukkie wyn kon neem. (Hulle het sedertdien die wyn na druiwesap verander, ʼn andersom wonderwerk wat dalk die gevolg is van die kwynende ekonomie van dalende lidmaatskap.)

Ek onthou die ‘poefblommetjies’ buite in die kerktuin, waar ek en my sussie altyd na die diens ʼn klein wit blommetjie gepluk het, papgedruk het om dan die reuk van… ja, ons het dit maar poefblommetjies genoem.

Ek onthou die tel van ligte. Met die rustige, stem van die dominee in die agtergrond wat ons tot ootmoed maan het ek obsessief al die ligte in die kerk getel. Altyd geweet watter lampies geblaas het, watter lampies vervang is. Die syfer was nie altyd dieselfde nie, omdat dit baie afgehang het van waar ons in die kerk gesit het. Ek kon net die ligte voor my tel, want sodra ek wou omdraai om die ligte agter ons te tel het my ma my aan die korthare voor my ore getrek.

En ek onthou die gesigte. Baie van hulle is nou natuurlik veel ouer, sommige van hulle het intussen vertrek om die Grootbaas in persoon te gaan ontmoet.

En so loop ek ʼn tydjie terug ʼn tannie uit my verre verlede ná ʼn diens raak. Ons gesels ʼn bietjie, haal bietjie in. Na afloop van die gebruiklike tee en koekies na die diens, ry ek en my beminde weer huis toe. Ek vertel haar van hierdie tannie, hoe, toe ons klein was, my ma soms naweke gaan tennis speel het by die tannie en haar vriende. My ma het nie heeltemal ingepas by hierdie grênd mense nie, sy was maar ʼn sukkelende enkelouer. Maar die kombinasie van haar brandewyntert en formidabele voorhand het haar ʼn onmisbare onderdeel van hierdie tennisklub gemaak.

My ma wou so graag hê dat ek ook moes tennis speel, maar die grootword tussen die vier mure van ʼn woonstel het my hand-oog-koördinasie nie voldoende toegerus vir sulke streke nie. Ek het maar met die mense se hond gespeel en myself vermaak soos wat kinders maar op daardie leeftyd doen.

En so drentel ek toe eenmaal by die tannie se seun se kamer in. Hy het ook ʼn “onderste laai” gehad soos ek, ʼn laai vol los en interessante dingetjies; seunsgoed. ʼn Stukkende ou karretjie, onpas blokkies, albasters, ʼn ou Mercedes Benz kenteken en… ʼn knipmes. ʼn Pragtige knipmes. ʼn Voortrekker-knipmes, met ʼn fakkel op die hef. Ek het nog nooit ʼn knipmes gehad nie en het daardie knipmes in weerwil van die tiende gebod se sterkste vermaninge op daardie oomblik meer begeer as enigiets anders op aarde. Die ding het so lekker in my hand gele, dit was stil, ek was alleen. Alles was so maklik… (word vervolg)

Lees gerus Chris Chameleon se rubriek elke maand op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zuquina ·

…….en net daar verander hy na die kleur van die mat, vandaar die naam “Chameleon” hahaha.

Uncle Buck ·

Kom ons praat van die Almagtige Ewige God met respek en nie net as Grootbaas, Man daarbo en sulke name nie. Ek dink ons as mens mag dink dit is oulik, maar ondersoek jouself en kyk of dit so is. Die Jode is vir ons ‘n vooebeeld om met respek oor God of met Hom te praat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.