Chris Chameleon: Die reine waarheid

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Hennie was een van my vreemder vriende. Buitengewoon kreatief in ʼn verskeidenheid kunsvorme, skreeusnaaks, vol verrassings en ʼn skadukantjie wat die plooie van die lewe sigbaar maak, sonder om te verraai presies hoe diep daardie plooie sny.

Na skool is hy, nes ek, weermag toe en het hy ʼn menasiehaas geword. Hy het teruggekom met verhale van verveelde kombuisstaf wat mariebeskuitjiegooikompetisies hou en een van sy lekkerste vertellings was van die keer toe hulle bier met pynappel en gis gebrou het en die twee liter Coke-bottel op die menasie se platdak vergeet het. ʼn Paar dae later, terwyl almal op die paradegrond doenig was, het die bottel in die son ontplof en ʼn knal so groot veroorsaak dat die hele basis vir oorlog gemobiliseer het. My vrou het hierdie verhaal met ʼn knippie sout verneem toe ek haar dit vertel het en paar keer met agterdog gevra of so iets eens moontlik is.

                                                                        ***

Ek sit die bakkie in rat en trek vriendelik en deur die venster wuiwend weg by die nuwe vriende op ʼn buurplaas. Ons mae staan ongemaklik knop van die tweede porsie osstert en mieliegruis waarmee ons tot in die afgrond in bederf is deur hierdie gemeenskap wat ons sedert ons verhuising hierheen met ope arms ontvang het en met ouwêreldse gasvryheid bejeën.

Maar daar is ʼn ander ongemaklikheid in die kar wat niks met osstert te make het nie. Dit is ʼn lewenslange kruis wat ek dra: Skuld deur verdenking.

Ek kan so onskuldig wees soos die heilige Petrus self, maar as jy my verdink, spoel daar oor my gelaat en gevolglike uitstraling ʼn gevoel van skuld wat so sterk in die gees na vore tree dat dit my die skroomlose veroordeling van algar op die hals haal.

En nou moes dit mos vanaand gebeur. Die boere vra toe mos aan tafel ʼn bietjie uit oor my loopbaan en my vermoedelik luisterryke agtergrond en kleurryke verwysingsraamwerk.

Ek geniet dit nie baie om stil te bly wanneer mense my uitvra oor my wonderlike lewe nie en trek dan gewoonlik los met verhale van transvestiet rock en roll in 34 lande en die herhaaldelike beproewing van alle dinge net om seker te maak dat dit wat behoue word wel die goeie is, ensovoorts.

Dis wanneer die stories begin uitbrei oor óf geselsies met Josh Groban en Morgan Freeman óf aan tafel met Bill Clinton aan die oorkant óf onwettig onderdeur die radar landsgrense oorsteek in ligte vliegtuie waarvan ek die loods se verkoeler sodanig as toilet misbruik het dat ons ʼn noodlanding moes maak, dat daar ʼn vae sluier oor die gehoor se oë trek en ʼn tikkie teleurstelling in hulle gelate te merke is.

Want hulle glo my nie.

Ek het byna my eie vrou so verloor nog voor ek haar gewen het. Ons het in die smoorverliefde ban van ons prille verhouding eenmaal ʼn rit van Gordonsbaai af Oudtshoorn toe en terug onderneem waarna, so het sy veel later beken, sy met diepe teleurstelling die sinvolheid van ons verhouding moes heroorweeg omdat ek, volgens haar, myself onthul het as ‘a sad old man’ wat wolhaarstories moet opmaak om haar te probeer beïndruk. Sy het my desondanks verdere kanse gegun en in die afgelope nege jaar vanuit my vriende en kennisse reg oor die wêreld darem die stelselmatige verifiëring van hierdie verhale uit ander perde se bekke verneem.

Maar vanaand, in die kar wat die stil, ongemaklike grondpad agter hom uitstof, maan sy my.

‘Chris’, sê sy, ‘jy moet versigtig met die stories. Moenie te vroeg te veel weggee nie want die mense verloor hulle geloof in jou nog voor dit goed gevestig is, nog voor hulle jou werklik ken.’

Geïrriteerd dat ek kritiek kry wanneer ek bondgenootskap en begrip verlang, hap ek terug dat ek in die halfeeu se lewe agter my darem al agtergekom het dat die waarheid ʼn manier het om homself uiteindelik onmisbaar en onontkenbaar aan mense op te dring.

Maar vroulief hou vol, want sy het gesien watter skade gedoen word en dat die tyd en tasbare bewyse hulle dalk nie betyds, indien ooit, gaan voordoen hier in die grammadoelas nie.

Ons kom tuis, doen wat ʼn mens doen voor jy gaan slaap en in ooreenstemming met ons gewoonte na ʼn onplesierige woordewisseling, word ons weer maatjies en gaan slaap aan dieselfde kant van die sperstreep.

Teen ongeveer twee uur die oggend ruk ʼn gewelddadige knal ons uit ons slaap. Ons gryp na beskerming, kry onsselwers oorgehaal vir die geoefende noodsein en noodweer van plaasaanval protokol. Maar alles is weer stil. Tot die tande bewapen en paraat sluip ek voorhuis toe, waar die oorsaak van die nokturnale ellende my begroet. Ek gaan terug kamer toe en gaan haal my vrou, om vir haar te wys hoe lyk dit wanneer ʼn dik glas Coke-bottel vol gemmerbier in die kombuis ontplof.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Manie

Ek het dit nou baie geniet. Hou van jou skryfstyl.