Chris Chameleon: Die spesiaalste Kersfees ooit

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Dis die spesiaalste Kersfees ooit. Tydens die eerste week in Desember het Lafras sy klein dogtertjie opgetel sodat sy die ster bo-op die Kersboom kon sit. Die hele gesin het voor die Kersboom gestaan toe hy sy seun die skakelaar laat aansit het, waarop ʼn klein firmament van liggies tussen die blink, kleurryke versierings ontsteek het. Hoop op beter dae, die warm gloed van gesinsgeluk en die liefde in haar vrolikste soel somerbuie reën op hom en sy mense se gemoed neer.

ʼn Paar dae later, voor hy die Kersboom as nuwe voorwerp in sy huis al gewoond kan wees, skuur Lafras net-net te naby die Kersboom verby en die ligte, dun kristalster bo-op die Kersboom val grond toe. Dis gelukkig te vroeg in die dag vir die eerste glas pons en sy reaksies is blitssnel. Tesame met die instink wat deur jare se skoolkrieket êrens in sy weefsels op pensioen vertoef, skiet sy linkerhand uit en uit die hoek van sy oog sien hy wat hy reeds in sy sagte vanggreep voel – die ster is van ʼn gewisse skerwelot gered. Lafras se hart klop steeds teen sy effens opgejaagde tempo terwyl hy die ster weer terugsit.

En dan gebeur die vreemdste ding, hy hoor die klank van singende kristal, soos wat ʼn vinger, strelend al om die rand van ʼn glas van die Kaap se beste tot groot vermaak van die kinders sou maak. Die kristalster begin sowaar met hom praat!

“Dankie, Lafras, dat jy my gered het. Ek was vir ʼn oomblik daar ʼn verskietende ster. Maar jy het my gevang en gered en vir jou heldedaad kry jy drie wense.”

“Watwou waar kom die wind in!” roep Lafras verbaas, “’n ster wat praat … ek is seker ek het nog nie ʼn enkele glas pons gedrink nie!”

“Nee, jy het nie, Lafras,” glimlag die ster liggies gelate. “Ek weet jy is verbaas, maar hier is ek, tot jou diens. Jy kry drie wense, maar ek moet jou waarsku, ek kan hulle nie terugneem nie, en hulle kom met voorwaardes.”

“Voorwaardes?” vra Lafras effens agterdogtig, “Watse voorwaardes?”

“Dis maklik,” sê die ster, “die voorwaardes is:

Jy mag nie wens dat al jou wense waar word nie, dis kierang.

Jy mag vir enigiets wens, maar dit mag nie ander se lewens omverwerp nie. As jy byvoorbeeld wens om te kan vlieg, dan moet jy dalk ʼn tweede wens van onsigbaarheid tydens jou gevlieg opgebruik, want as jy hier voor almal begin rondvlieg, gaan die sesuurnuus ʼn storie daaroor doen, die wêreld onherroeplik verander en gaan niemand se lewens ooit weer dieselfde wees nie.”

“Mmm …” peins Lafras hardop, “ek verstaan. En jy sê ek kan enigiets wens?”

“Ja Lafras, enigiets. Wil jy ʼn miljardêr wees? Wil jy die taal van die diere kan praat en verstaan? Wil jy altyd kan weet of iemand die waarheid praat? Wil jy die res van jou lewe blakend gesond wees? Wil jy deur tyd kan reis? Sê maar wat jou hart begeer, jou wens is my bevel.”

Lafras krap sy baard nog meer deurmekaar as wat dit is en die vier, permanente, horisontale plooie op sy voorkop word tydelik deur die drie vertikale plooie tussen sy wenkbroue halveer.

“Jy lyk of jy hard moet dink daaroor, Lafras,” sê die ster, “dis amper asof jy nie al jou ganse lewe groot wense met jou saamdra nie?”

“Ja, Sterretjie,” gee Lafras te kenne. “Ek weet ek dink hard. Maar sien, ek het jare lank ʼn klomp wense gehad, en toe deur harde werk en hoop en seker ook ʼn bietjie gebedeverhoring meeste van daardie wense gekry.”

“Ek verstaan,” sê die ster, “maar wat dan van die wense wat ek so flussies genoem het? Jy het tog sekerlik nie een van daardie dinge nie?”

“Nee, ek het nie. Maar ek is nie so seker van daardie voorstelle nie. As ek byvoorbeeld wens om ʼn miljardêr te word …”

“Ja..?”

“Wel, Sterretjie, sien … ek het nog nooit ʼn skatryk man ontmoet wat so gelukkig soos ek is nie. Inteendeel, ek het al na baie rykes gekyk en gewonder of hulle geld hulle so ongelukkig gemaak het en of hulle uit skone ongelukkigheid maar hulle toevlug in die maak van baie geld gevind het. Ek is amper te bang en neem ʼn kans met my gesin se geluk.”

“Jy is ʼn denker, Lafras!” sê die ster.

“En as ek die taal van diere kan praat, sal dit vir my moeilik wees om ʼn muisval te stel as ek môre, oormôre die hartverskeurende gefluister van die gesinnetjie in die dak oor hulle pappatjie se nekslag in die muisval moet aanhoor. Hoe sal ek ooit weer ʼn skaapribbetjie op die kole kan gooi?”

“Jy is ʼn man met fyn gevoelens, Lafras!” sê die ster.

“En as ek altyd moet weet of iets waar is, of ʼn leuen … wat ʼn vaal, deprimerende verhaal sal my lewe dan sonder enige verrassing wees?”

“Jy is dapper, Lafras!” sê die ster.

“En as ek wens vir gesondheid vir die res van my lewe, sal ek vir ewig lewe en almal wat ek liefhet oorleef, want die lewe eindig immers altyd as gevolg van een of ander ongesteldheid – ʼn kiem of ʼn koeël of ʼn kramp.”

“Jy is wys, Lafras!” sê die ster.

“En as ek deur tyd kan reis, sal die gewig van verantwoordelikheid, en die onmag om iets daaraan te doen, as gevolg van jou voorwaardes, my lewe in ʼn foltering omskep!”

“Maar Lafras, wat kan ek dan vir jou doen?” vra die ster.

“Wel,” sê Lafras, “ek dink die beste sal wees as jy my hiervan kan laat vergeet, sodat ek nie eendag met berou sal terugdink nie. Dit is my enigste wens.”

“Jou wens is my bevel, Lafras!” sê die ster en verdwyn in ʼn ligskittering.

Deur die wasige newels bo hom sien Lafras drie figure. Hy knip sy oë en stadig, maar seker kom sy vrou en sy kinders weer in fokus bo hom, waar hulle besorgd op hom neerkyk.

“Pappa lewe, mamma!” roep sy seun bly.

“Pappa het teen die Kersboom geval toe Pappa oor die kat gestruikel het!” roep sy dogter verlig.

“My man, is als reg, hoe voel jy?”

Lafras gaan sit penorent regop op die voorkamermat.

“Genugtig vrou, ek voel nie ʼn ding nie, ek is perdfris en gesond!”

“Ai, my man, ek is bly!”

“Maar sê my,” vra Lafras effens bekommerd, “waar is die ster bo-op die Kersboom?”

“Ster? My man, is jy seker jou kop is nie seer nie? Ons het mos net ʼn kristalengeltjie bo-op die kersboom en as jy moet weet, sy’t ewe mooitjies bo-op die sofa beland, nie ʼn skrapie nie!”

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.