Chris Chameleon: Die stortkop-protesoptog

Chris Chameleon by die #SaveSouthAfrica-optog op 7 April. Foto: Chris Chameleon, Twitter

Ek moes die dag KKNK toe ry. Maar tydens my oggendritueel, wanneer ek tipies op sosiale media rondsnuffel terwyl my beminde die lekkerste koffie ter wêreld vir my voorberei, merk ek toe dat die land in rep en roer is vir optogte teen die bewind van Jacob Zuma.

Vroeër die week het ek teruggekeer vanaf agt weke se harde werk gedurende my jaarlikse Europese konserttoer. Na die orde, relatiewe vreedsaamheid en eerlikheid van ons stamlande het van die donkerste geaardhede van Afrika – korrupsie, geweld en openbare versuim – my meer dwars in die krop gesteek as gewoonlik. Ek besluit toe om, voordat ek die pad kunstefees toe vat, vlugtig ook my gewig agter my landgenote in te gooi.

Onderweg na die naaste protespunt aan my, waar Beyers Naudé (vroeër DF Malanrylaan) oor die N1 snel, sien ek rye der rye mense ook daarheen op pad.

Suid-Afrikaanse wit mense in protesoptogte is skaarser as witrenosters in Chinese wildreservate

Suid-Afrikaanse wit mense in protesoptogte is skaarser as witrenosters in Chinese wildreservate. Daar is redes daarvoor: kulturele onbekendheid met die gebruik, ʼn toegewyde ekonomiese besiging, ʼn ekonomiese status wat in meeste gevalle te hoog is om deur ʼn gratis braaihoendertjie tot aksie gemotiveer te word en, les bes, ʼn apatiese gemaksugtigheid. Maar op hierdie wonderbaarlike dag was hierdie faktore skynbaar ontoereikend om die opmars van menige wit Suid-Afrikaner te stuit. Ek moet bieg, ek was trots, verlig. Verheug.

Daar was ook swart mense. Ek kon sien hoe hulle die behoudende witlui van ons buurt probeer aanhits tot ʼn dans, ʼn lied of selfs ʼn kreet, meestal sonder sukses. Uiteindelik besluit hulle toe (in weerwil van ʼn wyd gesirkuleerde, selfverpestende Facebook-plasing wat vroeër die week tot die teendeel aangemaan het) om met ‘Shosholoza’ darem ʼn gesingery (suksesvol) aan te wakker.

Ek is sensitief vir kritiek. Soms kry ek ʼn negatiewe resensie, of lê iemand ʼn eiertjie oor my tekortkominge. Ek lag dit altyd af, maar moet in alle eerlikheid toegee dat dit tog seermaak. As dit ek was teen wie duisende mense landwyd geprotesteer het, sou dit my gepla het. Erg gepla het. Maar of dit vir Zuma pla sal ek nie weet nie. Want ons verskil alreeds in die opsig dat, as ek hy was, sou ek nie die land so deur die riool gesleep het nie. Om te doen wat hy doen verg, na my beskeie mening, ʼn sekere ontkoppeling van die werklikheid van ander mense se leed. Dalk ontbreek daardie vermoë tot meegevoel in sy psige. Dalk word daardie vermoë tot meegevoel mettertyd deur selfbelang en hubris geërodeer.

Sy ervaring van die protes is egter ʼn bysaak. Hy is wat hy is as gevolg van die burgers se ervaring van hom. En die kudde het begin verset

Sy ervaring van die protes is egter ʼn bysaak. Hy is wat hy is as gevolg van die burgers se ervaring van hom. En die kudde het begin verset. Die winde van verset waai hard genoeg om selfs ʼn wit man op straat te kry, waai genoeg om die kiesers van byna alle ander partye buiten Zuma se eie party, in die land saam te snoer tot ʼn verenigde aksie.

Op my plasie in die Vrystaat staan daar ʼn enorme kliprots bo-op ʼn koppie. Wanneer jy hom van naderby beskou, sien jy dat die ganse, enorme rots se gang na die vallei, doer onder, gestuit word deur ʼn enkele steen, so groot soos ʼn kar se wiel. Dis duidelik dat wanneer daai ou klippie padgee, die hele kolossus van die bokant van die kop na benede gaan stort. En van stort gepraat, daar is ook ʼn ander stortkop kolossus wat op soortgelyke wyse op ʼn gevaarlike nippertjie staan.

*Lees gerus al Chris Chameleon se rubrieke op Maroela Media

 

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ken2 ·

Sing nie net goed nie maar skryf uitstekend. Lekker gelees en gelag nou.

John ·

‘n Groot bekommernis is juis die rotsmassa se groot val wanneer die wiel wegrol. Wat wel sekerlik sou kon volg… maar daar is een kragtige Stut en Teenwig vir hierdie oorhellende verwoede massa. Hoe groot is ons volk se geloof en vertroue in Hom en die etiese waardes wat die Bybel verkondig, want Sy magtige Hand verkrummel sonder moeite rotse tot ‘n groen vlakte waar bokkies rustig kan wei.

SARIE VAN HEERDEN ·

Vir net eenmaal het ek geen kommentaar behalwe om te se dat ek van die Verkleurmannetjie hou nie. Ek hou van dit waaroor hy skryf, ek hou van die onderhoude wat met hom op televisie gevoer word want ek hou van sy Afrikaans.

Amanda ·

Ek hou ook van sy Afrikaans. Sowaar n goeie spreker en skrywer.

Maria Van Dieweeck ·

Dankie, dis tyd vir meer publieke persoonlikhede om so op te tree.

Antjie ·

Chris….jou ou DORING!!!
Jy skryf Afrikaans soos my St 4 meneer my geleer het. Pragtig!!
(En jou opinie verwarm my hart as n trotse Afrikaner!!)
#chrisjoudoring!! #TrotsAfrikanerhart

ken benoni ·

Chris, jou suiwer afrikaans val altyd op, trots op jou.
Baie ander kunstenaars kan by jou leer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.