Chris Chameleon: Die verlede, genade en vrede

Argieffoto (Foto: DariuszSankowski, Pixabay)

Soms sit ek in my eie gedagtes versonke. Dink oor ʼn tikkie dat, ʼn bietjie dit.

En oor die verlede.

Om beter, verder in die verlede in te kan kyk, sit ek my verledensbril op, want die bril waarmee ʼn mens na die verlede kyk, is ʼn wonderlike ding. Sy lense maak die lelik minder lelik, die mooi des te mooier. Swaarkry word byna lekkerkry soos die vernis van onskuld dik en gemaklik smeer oor alle krapperigheid. Dis seker waarom woorde soos belhamel, skurk en swernoot hul venyn deur die jare verloor het en nou in Afrikaans handiger te pas kom as grappige verwysings na ondeugde wat destyds werklike erns gekonstateer het maar deur die rooskleurige loep op die verlede van alle erns ontneem is.

So word van my swaarste tye ligte uitdagings: Die bleek, dun snytjie brood wat op sy tyd die enigste vertroosting vir ʼn skreeuende maag was, word lekker terwyl jy onthou hoe jy hom 30 keer gekou het sodat hy selfs koek word, omdat speekselamilase stysel in suiker omskep. Die skaal van armoede word in balans gehou deur die geweldige waardering vir klein genadetjies: Die koue bestaan net om die agtergrondtoneel te skets vir die heerlike vertroosting van ʼn uiteindelike kaggel.

Maar dan begin ek myself in die verhale raaksien.

Helaas werk die loep nie op my blik na binne nie. Hy doen die teenoorgestelde – maak dinge erger, leliker, meer foutief. Dalk is dit net ʼn loeplose blik, wat natuurlik erger is, want daar is ʼn sekere vertroosting in die vermoede dat jy onregverdig benadeel word deur jou eie selfkritiese beskouing. Die derdepersoonsverteller hef sy stem en doen dit soms letterlik, soos wanneer ek in ʼn stiller oomblik met my gedagtes in die verlede rondkrap en dan luidkeels ʼn “Ai!” of ʼn “Aggenee man!” uitroep. Dan vra my verwarde geliefde wat dan nou oor my lewer geloop het en ek sê maar net ewe verleë “Nee niks nie”, want, moet ek nou weer daar gaan krap waar die rofie van die verlede so pas verwyder is?

Vanwaar dan hierdie vreeslike selfkritiek? (Ek skryf hierdie rubriek vir ʼn slag ná ʼn lekker skemerkelkie, dus, verskoon asseblief die filosofiese geskarrel.)

Ek dink die antwoorde lê by vergifnis en genade. Twee dinge wat dieselfde lyk, maar tog verskillend is.

Genade is ʼn diens aan die ‘vyand’. Deur genade word vergelding gespaar. Maar dit geskied nie onvoorwaardelik nie. Dit verg berou as teenprestasie. Met die aanbod van berou, kan genade gebied word, want om die berouvolle te straf is soos om vir die bekeerde te preek.

Vergifnis is ʼn diens aan die self. Vergifnis verklaar die saak as afgehandel, sodat die verlede nie met sy moddervuil skoene hier in die voorkamer van die hede of in die toekoms sal rondstrompel nie. Dit beteken nie mens hoef te vergeet nie – anders word die skoolgeld onnodig betaal.

En hoe kry ek hierdie twee uitgangspunte op myself toegepas? Hoe maak ek prakties werk van my eie filosofiese hoogdrawendheid?

Deur ʼn tikkie nederigheid. Want sien, in beide genade en vergifnis kom ek agter dat ek myself aanstel as die verontregte, maar ook die regter. Dis darem ʼn vreeslike belangrike posisie daardie. ʼn Mens moet kies, jy staan óf in jou eie beskuldigdebank, óf jy sit in die regterstoel. Dis slegs in ʼn wêreld van waansin dat ʼn mens beide posisies tegelykertyd kan beklee en die prys van daardie waansin is… ja, wel, die waansin van hardop uitroepe van selfverleentheid.

ʼn Mens moet dus kies: regter of beskuldigde? Dit klink dalk selfbelangrik, maar ek kies dan vir regter, omdat dit nader aan die waarheid is. Die beskuldigde is ʼn weergawe van myself uit die verlede – iemand wat ek nie meer is nie. Die regter is wie ek nou is, voor wie my vorige self nou verantwoording moet doen vir die ongemak van die hede. En hierdie regter moet met genade en vergifnis oordeel. Die voordeel daarvan is dat dit ook goeie oefening gee vir ʼn gesonder ingesteldheid teenoor ander mense se onreg teen jou. Dit maak jou eie emosionele wêreld gemakliker, en, só vertel ʼn ou tannie met helder katoen klere en wilde hare my, keer dat ʼn mens die siekte van onbuigsaamheid, artritis, kry.

“Liefie, wat praat jy nou weer daar met jouself?” vra my beminde.
“Nee, ag, ek sê maar net ‘Toemaar ou Chrissie, ek vergewe jou, gaan in vrede’.”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Ek weet nie wat in daai skemerkelkie was en of dit die Oos – Vrystaatse vars lug is nie, maar die resultate is puik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.