Chris Chameleon: Dood, waar is jou angel?

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ek weet nie waar my liefde vir geskiedenis vandaan kom nie. Dit moes seker wortel geskiet het êrens in die klein woonstelletjie op die besige straat in Johannesburg waar ek groot geword het. Wanneer die vier mure te eng om my vernou het, het ek my toevlug gevind in boeke – stories, geskiedenis, aardrykskunde. My ma het ʼn gesonde ontsag vir kennis gehad en daar was voldoende leesstof in die woonstel.

Die Suid-Afrikaanse vryheidsoorloë van die laat 1800’s en vroeg 1900’s, die Amerikaanse vryheidsoorlog, Napoleon se manewales en die twee wêreldoorloë het uit die blaaie van boeke gespring en omvangryk in epiese taferele op die verhoog van my verbeelding afgespeel.

Deesdae, meer as veertig jaar sedert my eerste boekeavonture, vind ek nog steeds die herhaling van patrone en feite van destyds en voel ek meestal dat daar slegs die geroesemoes van meer gedetailleerde feite daarby gevoeg kan word, sonder om die verhaal of my begrip daarvan veel te wysig.

Meestal.

Want soms val die skone genot van nuwe insig my te beurt, wat opnuut my leerkoors ontsteek, my filosofie verlei en my begrip verdiep om die liefde vir kennis weer te bevestig en met veerkrag in my gedagtegang op soek te gaan na nuwe ontdekkings. En van al hierdie bekentenis is die verdieping van begrip waarskynlik die een faktor wat hierdie kennis praktiese waarde kan gee. Dalk raak ek nou te kripties – tyd vir ʼn voorbeeld:

ʼn Goue draad loop deur alle Westerse oorloë van die verste verlede tot en met die eerste wêreldoorlog. Dit verg heelwat lees en meelewing, maar wanneer jy dit uiteindelik raaksien is dit duidelik waarneembaar en skep dit ʼn blywende indruk:

Die goue draad van vreeslose omhelsing van die dood op die slagveld.

Krygers, soldate, het mekaar met knuppels en spiese, pyle en boë, later swaarde en lanse en nog later met bajonette en gewere fisies te lyf gegaan. Manskappe het in linies teenoor mekaar te staan gekom en die brutale, gewelddadige fisiese kontaksport van verowering met verwonding, bloed, splinterende beendere en septiese verminking getrotseer vir welke saak ook al. Selfs die koninklikes het dit nie ontkom nie. Die geskiedenis is propvol ter dood veroordeelde Europese koninklikes wat met stille waardigheid die skavot betree en ná die preweling van ʼn gebed en ʼn weerbarstige laaste wens koprollend die tydelike met die ewige verwissel. Dit kom vandag vir ons so vreemd voor, hierdie bloubloed lui, hierdie naamlose krygers wat die dood op hierdie wyse tegemoetgaan.

Hoe spartel ons nie vandag nie.

Die dood het ondenkbaar geword. Die dood moet ten alle koste, selfs teen die hoë prys van eie waarde, eie beginsel, vermy word. En wanneer die dood onvermydelik intree, moet dit geëufemiseer word deur die sagkense swymeling wat deur doepas van onverstaanbare chemiese samestellings en lang mediese name toegedien word, of dan met die skielikheid wat die sterwende onverwags in ʼn ommesientjie wegneem. In die afwesigheid van verlossing deur doepas of die onverwagse, het die moderne dood ʼn nare, onaantreklike gespartel, volkome sonder enige waardigheid of sweempie van stoïsisme geword.

Hoe het ons hierby gekom? Die dood is onafwendbaar en ewe veel ʼn deel van elke lewe as nog altyd, dit is so seker soos die geboorte self. En tog het dit vreemder geword, asof die dood nou tot onreg verklaar is en daar in die ydele hoop op geregtigheid wat hierdie verklaring kan verteenwoordig, die goue graal van immortaliteit kan wink.

Die antwoord, die goue draad wat uit die geskiedenisboeke te voorskyn kom, is: God.

Dit kan die God van jou vaste geloof wees, of die god van mitologie of die god wat jy besluit het nie bestaan nie, dit maak nie regtig saak nie. Die punt is, eg of nie, die sekerste beskerming teen die gruwel van die dood is God. Teen die dood self beskerm God nie, die dood is immers die onmisbare voertuig wat Sy mense weer terug aan Hom besorg, maar teen spesifiek die gruwel van die dood, dáárteen beskerm God. Want wat die kryger van weleer, die koninklike, knielend onder die lem van die guillotine of die stuiptrekkende pous op sy sterfbed met waardigheid en stoïsisme die dood tegemoet laat gaan het, was die geloof in God. Dit was ʼn geloof so sterk, so vry van vertwyfeling, so deurgrondelik oortuig, dat dit die dood van sy angel ontneem het, dat dit die dood demoveer het tot ʼn veerbootstuurman, ʼn swart lapsluier waardeur geskeur kan word om die ewige lig van onsterflikheid in die genadige aangesig van God te betree. Dit verklaar die hordes jong manne wat smeek om in die voorste linie die dood jillend en juigend tegemoet te storm.

En toe God vir die westerling sterf, kort na die eerste wêreldoorlog, is die dood ineens bemagtig, het sy skrikbewind die westerling van sy waardigheid in die aangesig van die onvermydelike ontneem, en van hom ʼn spartelende, vreesvervulde, gillende barbaar in sy laaste lewensoomblik gemaak.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Psyggie ·

Chris Chameleon, soos altyd ‘n stukkie uitstekende skryfwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.