Chris Chameleon: Gert se voete en ʼn kyk in die oë

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Gert is ʼn aangename kêrel. Sy op-die-oog-af saai werkslewe as bankier in Rotterdam het skynbaar weinig invloed op sy interessantheid as mens. Hy hou van ʼn goeie grappie, is altyd besig om je ergens de kast op te jagen (die spot met jou te dryf) en opper af en toe ʼn buitengewone perspektief op die algemene.

Gert is ook waardevol vir ons, want hy het ʼn paar jaar gelede dol geraak op ons orkes se klank en besluit om optredes vir ons te reël. Sedertdien het dit baie goed met ons begin gaan in Europa, met optredes so ver as Hongarye en Kroasië wat inmiddels op ons toerskedule ingesluit is. Dit alles doen hy vanuit sy huisie in Holland – reël konserte vir ʼn punk-orkes en gaan dan die volgende dag doodluiters weer sit agter sy lessenaar in die groot korporatiewe derms van die bank.

Een somer het hy egter tyd vry geneem om ʼn bietjie saam met ons te toer. Dit was warm in Europa, almal het hulle vrolikste gesiggies opgehad en die meisies van Italië het mooier as ooit gelyk, die asters van Bavaria het met wange bronstig beblos gesellige biere aangedra en die Franse dames het subtiel geflikflooi. Maar die toer sal veral vir een ding onthou word: die geur van Gert se voete in die warm Mercedes-dieselbussie.

O aarde wat ʼn oorweldigende geur was dit nie! As jy bloukaas en gerasperde uie vir ʼn dag saam in ʼn tennissokkie onder die oksel van ʼn loodgieter op ʼn bouperseel vasbind, kan jy die geur min of meer naboots. Ons het reukwater gespuit vir ʼn vale en ʼn skoene-moet-agterin-reël toegepas, maar niks wou help nie. Dit was moeilik en het almal se olfaktoriese lankmoedigheid tot die uiterste en daarby verby beproef. Die toer was egter andersins ʼn groot, avontuurlike en banale plesier en ons almal het êrens “die vrou van ons drome” ontmoet.

Behalwe Gert.

Eers toe ons terug in Nederland aangekom het en daar nog ʼn paar optredes gehad het, het Gert die liefde van sy lewe ontmoet. “Nogal ʼn mooi aster, Magriet,” het ons almal gedink, “glad nie sleg nie, wag net tot hy sy skoene uittrek,” het ons vir mekaar geknipoog. Uiteindelik was ons almal se liefdes bra kortstondige afleidings in die sleurstroom van ons rock en roll bestaan.

Behalwe Gert.

Want Gert het Magriet nie net gehou nie, maar uiteindelik met haar getrou en hulle dogtertjie is die fraaiste, liefste kind.

Ons het ná daardie toer en in die jare daarna waartydens Gert en Magriet se liefde van krag tot krag gegaan het, ons gereeld afgevra hoe dit dan nou met die voete werk? Want dit is tog, volgens ons eie ervaring, ʼn blywende, oorweldigende fenomeen. Wanneer ʼn mens in haar oë soek, merk jy nooit die geringste afkeur nie.

***

Ek was sopas weer vir tien dae uitstedig. Eers ʼn kunstefees op ʼn skip vanaf Durban na Mosambiek meegemaak en van daar Kaap toe gevlieg vir nog optredes. Met die vlug Kaap toe het ek al begin stal ruik en my siel het gehunker na die stad van my herkoms.

En toe ek gisteraand vanaf die lughawe hier by my buurt, waarin ek al 47 jaar woon, ingery kom, die mammies en pappies met hulle kinders sien wandel, die warm son deur die ruit op my vel voel en die geur van die laat somer met ʼn vleugie herfs in die lug inneem, toe weet ek ek is tuis in die plek waar ek die gelukkigste is op aarde, waar my siel tot ruste kom, my hart sy gang vind.

Tuisgekom bel ek gou die belangrikste mense – ma, sus, ʼn vriend of twee. En dis toe ek vir Matt bel, my makker sedert 1978 dat een van my lewe se groot raaisels opgelos word. Want Matt, wat saam met my in hierdie stad se strate kerjakker het voordat hy besluit het om die plek sy rug toe te keer en hom elders te gaan vestig, het my gevra hoekom ek so vrolik klink. Ek vertel hom toe dis oor ek weer tuis is.

“Tuis? In Johannesburg? Goeie dinges Chris wat kan daar nou vir jou in daardie hool van ʼn stad wees, dis die aakligste plek op die aarde!”

Ek was toevallig besig om deur die huis te stap en toe hy dit sê, sien ek myself vir ʼn oomblik raak in die portaalspieël. En die kyk wat ek daar in my oë raakgesien het, was presies soos die kyk wat ek in Magriet se oë gewaar het.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Eish ·

Die seun kan skryf, Afrikaans skryf!
Jy kan behoorlik sintuiglik die hele skryfskets beleef!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.