Chris Chameleon: Goed gebek

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Die Liewe Vader skep mense en dinge met redes wat ons klein verstandjies te bowe gaan.

’n Ding soos ʼn skilpad kan ek nog verstaan. Ek kyk na hom en herinner my daaraan dat die teenprestasie van ʼn bietjie ontbering ʼn sneller gang deur die lewensbane gun. Om so huis-op-die-rug te drentel lyk my maar moeisaam, en dan is dit ook nie asof die oupatjie daar êrens in sy doppondok plek het vir ʼn leunstoel of ʼn bekertjie sawwe lyf nie. Maar hy word oud – ouer as ʼn mens – en ek hoor hom nooit juis kla nie. So dalk is dáár iets wat werk.

Maar hoe nou gemaak met myself? Ek het ʼn lont so kort soos ʼn krokodilkuif, maar is liggaamlik volslae ontoereikend toegerus met die plofstof van spiermassa om daardie lont se ontbranding in ʼn respektabele ontploffinkie teen ʼn verdienende opponent in ʼn plattelandse kroeg om te sit. En soos dit maar met mansmense gaan, raak ek al hoe bedonnerder hoe ouer ek word. Kyk ek na my tydgenote, dan sien ek manne wat darem ʼn bietjie lyf bygekry het met die jare, asof die natuur besluit het om hulle jare met ʼn tikkie liggaamlike gravitas toe te bedeel. Ek sê ‘tikkie’ met my tong in my kies, want ek bedoel daarmee 50 kg ekstra of so iets. Vir my, persoonlik, is ‘tikkie’ egter die juiste maatstaf.

Toe ek in 1989 uit matriek is, het ek 64 kg geweeg. Die Suid-Afrikaanse Weermag kon niks daaraan toevoeg nie (dit begryp ek – jy kan ʼn troep nie só laat rondhol en selfs op die plek laat draf wanneer die manne tou staan vir kos en dan ʼn gewigstoename verwag nie). Gedurende die dertig jaar van rock ʼn roll ná my uiters spoedige militêre loopbaan kon ek so af en toe die skaal by 64,5 kg laat draai. En toe gaan staan en trou ek in my laat 40’s en kry boonop my eersteling (soos Zorba the Greek gesê het: “Am I not a man? And is a man not stupid? I’m a man! So, I married. Wife, children, house… the full catastrophe!”)

En soos dit hoort, kry ek toe die gevreesde ‘dad-bod’. Uiteindelik! ʼn Lyf wat wíl uitsit! En hier sit ek nou, ná amper vier jaar se lekker eet en getroude lewe, ʼn fris Vrystaatse bulletjie wat die skaal laat kreun met my 66 kg. Jip, jy’t reg gelees. Ek het in die afgelope 33 jaar twee kilogram kon optel.

Maar my lont bly kort.

En in Sy groot genade gee Hy my toe ʼn bek. Kyk nè, ek kan praat. Ellelange monoloë stroom soomloos oor my lippe ten tyde van gedagte-uiting, skellery of argumente. Jy gaan nog probeer om in die kryt van twis jou voete te vind dan het hierdie tong al drie keer om jou gedans en jou met snedige spitsvondighede toegetakel. Wanneer jy uiteindelik tot verhaal kom, is jy reeds spreekwoordelik pimpel en pers gepypkan. Oh heng! Daar mik jy lomperig ʼn oorveeg van logika! Logika? Kind se speletjies, en hier is die bewyse 1, 2 en drie! Intussen is die gehoor al oorgehaal, die omstanders ondersteunend …

En waag dit nou net om jou hand vir my op te tel. Ek het die ganse gereg en die beskawing agter my!

Maar mense, dis mos nie reg nie? Dit kan mos nie reg wees nie? Van wanneer af waarborg welsprekendheid geregtigheid? Het die hakkelaar geen aanspraak op regverdigheid nie?

Ons leef in ʼn tyd in ʼn samelewing waarin fisiese geweld by die beslegting van geskille geheel en al verwerp word. En ek moet bieg, ten spyte daarvan dat hierdie konvensie ondersteunend is vir my eie vaardighede, is dit iets wat ek in die kern van my wese nooit volkome kan aanvaar nie. Want, en ek het dit al met my eie oë beleef – soms is die ou met die min woorde en groot vuiste reg, en is die gladdebek wat sirkels om hom dans, verkeerd.

Ek hou nie daarvan dat ons die uitkoms en waarneming van daardie geskil beperk tot die vaardighede van slegs een party nie.

Voeg boonop daarby die feit dat die ding wat my nog die seerste van alles in my eie lewe gemaak het die woord was, nie die vuis nie. Ek was in ʼn hele paar vuisgevegte in my lewe, maar daardie letsels het almal goed herstel. Die geweld van woorde woed egter nou steeds af en toe in die wonde en ou letsels in my hart.

Ek weet nie hoe nie, maar ek wil tog êrens in ons samelewing ʼn plekkie gun vir diegene wat hakkel soos Moses en haak soos Simson.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.