Haar rug open in ʼn pragtige, groot, wit blom.
Die wit blom staan regop en die soet muskusgeur vul die aandlug. Lewe, lewenslus en die pronkerige fierheid straal daaruit.
Die bouer het haar hier aangebring. Hy het by die hek ingery vir dakwerk wat vir hom geskep is deur die genade van die Liewe Vader, wat die winde hier so hard laat waai dat elke dak in die Malutiberge een of ander tyd ʼn geleentheid kry om herstelwerk na die bouers en dakwerkers van die kontrei se kant toe te gooi.
Dit is ook hierdie einste Liewe Vader wat hierdie onmeetbare skoonheid vir ons saamgestel het; die kranse, klowe, sagte grasvelde en krioelende lewe wat in siklusse van lewe en dood en steeds meer lewe hier gedy soos dit nog sedert die vroegste tye gebeur.
Dit is weens hierdie einste uitspattige opwinding en lewe dat ons maar besig bly met die uitvoering van die opdrag wat destyds reeds in die tuin van Eden gegee is: om die aarde te bewerk en daaroor te heers. Die tuin van Eden het ook maar ʼn grens gehad, daarom dat Adam en Eva daaruit gesit kon word – waar daar ʼn binne en ʼn buite is, is daar ʼn draad gespan, hetsy deur Oom Jaap en sy werkers of deur die bedrading van Gods bevel. En so sit ons nou nog, sesduisend jaar ná Adam en Eva, met ons hande vol werk. Omdat ons ʼn grens het, moet ons die wildgetalle beheer, soms deur hulle te vang, soms deur hulle uit te skiet. Ons moet, want jy wil nie weet hoe ellendig lyk ʼn ooi of koei wat met ʼn lam of kalf in haar of langs haar van die honger vrek omdat daar nie genoeg weiding is binne die grense wat deur die onverbiddelikheid van ʼn heining gestel word nie.
Dit was dalk juis sedert verlede week se wildvangery dat sy in die heining gaan vassit het. Arme, stommer dier. Dit het eintlik net ʼn eenvoudige draai van die poot geverg en dan sou sy vry wees, iets wat selfs ʼn kind kan uitpluis, maar vir ʼn dier, veral ʼn springbok, is sulke denke meestal onnodig, en word dit nie ontwikkel nie. Haar ontwikkeling word liewer toegewy aan handiger oorlewingstrategieë soos om vinniger as die wind te hardloop, hoër as ʼn klein boompie te spring en te kan lewe op slegs ligene as die reën nie kom nie.
Ek sê dit was ‘dalk’ van die vangery, want dit is ook nou reeds ʼn onwaarskynlike vier dae terug en soos Jan van langsaan sê: “ʼn Springbok is maar ʼn pieperige ding, ek dink nie sy gaan dit maak nie.”
Nietemin, ons maak afwisselend flou sout- en soetwateroplossings en spuit dit in haar keelgat af. Sy is ʼn wilde dier, maar spartel nie en hardloop nie weg nie. Daarvoor is sy te swak en uitgeput.
Sy drink gulsig, soos ʼn lammetjie sou, en haar groot bruin oë met die aantreklike wimpers hou my dop. Ek weet nie wat sy dink nie. Plek-plek het haar hare afgeskaaf teen die hoekpaal waar sy in die draad vasgesit het en haar nek het ʼn swelsel van die gespartel. Ek wonder of ʼn mens ʼn inspuiting kan waag, maar besluit daarteen – nou-nou is dit een van daardie goed wat vir ʼn mens skaflik is maar dodelik vir ʼn dier. Sy kan nie opstaan nie, en lê maar. Ek sit lusern voor haar neer, maar sy wil nie eet nie. Ten minste eenmaal per uur gaan ons uit en gee vir haar weer water en elke keer drink sy. Sy moes vreeslik gedehidreer het. Die son skuif oor maar sy bly lê. Vlak asempies, af en toe ʼn skop met die bene asof sy in haar beswyming weer spartel om vryheid.
Ek en my vrou wonder of sy dit gaan maak. My vrou sê nee, ek sê ja. Dis ʼn gewigtige saak, want eerstens wil ʼn mens haar nie laat ly nie, en tweedens, as sy geslag moet word moet sy geslag word terwyl die hart nog klop, sodat ʼn mens haar kan uitbloei en nie met ʼn hoop swart vleis sit nie. Ek neem, in weerwil van my vrou se voorspelling, die besluit: die ooi gaan dit maak, ons gaan haar hier regdokter. As ek vleis soek sal ek dit gaan jag, dankie.
Die skemer trek haar kil sluier oor die berge om ons, en die swart lap van die nag daal oor ons huis neer. Steeds gaan ons af en toe uit om die ooi te versorg. Ná aandete gaan ons weer na ons ateljee toe, werk ʼn bietjie, maak iets moois, raak verdiep.
Skuins voor middernag stap ons weer by die ateljee uit, die koel berglug in ons longe. Ons gaan kyk hoe die ooi vaar.
En presies op die oomblik dat ons by haar kom, asof hierdie oomblik in afwagting van ons oë gereserveer is, begin sy met baie lewe spartel, sy lê nog, maar skop hard met haar bene.
En dan ʼn steun.
En dan ʼn laaste asem.
Haar bene verstyf vir ʼn paar sekondes, en dan is die lyf slap.
Haar rug open in ʼn pragtige, groot, wit blom.
Die wit blom staan regop en die soet muskusgeur vul die aandlug. Lewe, lewenslus en die pronkerige fierheid straal finaal daaruit.
Genade Chris, jy het ‘n manier met woorde!!!
Baie oulike skrywe!
Wow, skitterend……
Hartverskeurend treurig…
Skitterende Afrikaans… Keurig verwoord.
Ek “hoor” die netjiese ronde uitspraak van ons pragtige taal. Deesdae erg verplat..
Dankie.
My taal …….Afrikaanse taal die heel mooiste!!!!!!!!!!!!! Ek hoop hulle wat ons Afrikaanse taal so met engelse taal vermink, blood net om “grand” te wil wees, lees hiedie skrywe dan behoort hulle tot besinning te kom.
Ek weet ‘n dier het nie ‘n siel nie!
Maar onthou tog altyd, soos hier mooi beskryf is, dat hulle ook lewe, gevoel het, vrees ervaar en versorging in die moeilike tyd verseker waardeer.
Wees baie “menslik” teenoor diesulkes in ons lewe hier op aarde en heers met uiterste meegevoel.
Maar hoe dan nou? Mense is ook mos diere. Ander diere het ewe veel (of ewe min) ‘n siel as ons.
Pragtig,sielvol…sensitief geskryf,dankie Chris!
Uitmundende woordkeuse,uit ons Afrikaanse Woordeskat