Chris Chameleon: Hoe môre oor gister sal voel

Argieffoto (Foto: J_Mankin, Pixabay)

Daar is maar ʼn paar dinge in hierdie ou lewe wat seker is; die dood, die toekoms, dat die son môreoggend eers oor Mpumalanga gaan opkom voor hy Pretoria tref.

Die een ding wat hierdie sekerhede in gemeen het, is dat hulle skynbaar nie gemoeid is met hoe jy daaroor voel nie. Jy kan skop en skree tot jou kieue pers word, maar dit is hoe dit is en geensins anders nie.

Oor sekere dinge kan jy wel iets doen en daar dra jy die kruis van verantwoordelikheid vir die uitkoms. Tja… die lewe is nie maklik nie, nè?

Die lewe is ook nie maklik vir diegene van my vriende wat nou, tien maande na die verkiesing, nog steeds by ons erfenisdagbraaie gal braak oor die huidige Amerikaanse president nie. Dis asof die mense so oortuig was dat die uitslag anderkant toe sou swaai, en dat hulle so ʼn volledige prentjie van die toekoms opgebou het, dat hulle hulself nie met die huidige werklikheid kan versoen nie, in weerwil van die feitelike.

Stel jou dus voor hoe die lamstjoppie in ʼn paar keelgate gaan stilsit het toe ek by die braai aandring dat die aard van hierdie presidensie die toekoms is en daar nou daaraan gewoond geraak moet word.

Ek gaan nie lieg nie, ek hou daarvan om dit soms ʼn bietjie in te vryf – as iemand so sterk oor iets voel dat hulle velletjie dun strek oor die groot bulte spiere van hul oortuiging, dan geniet ek dit so ʼn ietsie meer om juis daar te karring.

‘Hoe kan jy dit sê!’, bars die verontwaardiging toe uit ʼn paar keelgate los. ‘Dit was ʼn eenmalige vloek, ʼn uitsondering! ʼn President wat spog oor die gryp van vroulike skaamdele!’
Mmm… juis. Juis dit.

Toe ek op koshuis was in die 80’s, het ek briewe geskryf vir my ma. Dan het ek my verlangende geskrewene gepos, weke gewag vir ʼn antwoord en dan met groot blydskap weer en weer en weer gelees aan die brief. Later, in die weermag, sou ek dieselfde doen. As ek van ʼn meisie gehou het, was dit dieselfde ding, behalwe dat die brief dan eerder by haar aangekom het deur ʼn vertroueling as ʼn posman. Vandag is dit natuurlik WhatsAppies, e-posse ens.

Ook…

Toe ek op skool was en ek wou iets geweet het, moes ek biblioteek toe loop en hoop ek kry iets oor my vraag en dat die boek jonger as 20 jaar oud sou wees. Deesdae is dit klik-klik hier, klik-klik daar en siedaar! Netjies, handig, gemaklik, volledig en vinnig.

Maar…

Wanneer ek deur my ma se ou Bybel blaai kom ek hier en daar af op ʼn briefie van my wat haar moederlike sentimentaliteit wou bewaar. Die ander 100 briewe is vergane, weg. Ek het nog ʼn ou briefie of twee van ʼn aster uit die 80’s wat êrens op ʼn solder onder die stof lê, die res is alweer met die aarde verenig om boomkos vir die volgende papiere te word.

My punt is dit: elke ‘briefie’ wat nou geskryf word, elke boodskappie, maar ook elke soektog na ʼn antwoord, of genot, of selfondersoek, of sinistere begeerte, of transaksie, word opgeslaan in die groot wolk van die onontsnapbare kuberruimte. Daar is heelwat reëls om dit daar te hou, te beskerm teen uitbuiting. Maar reëls (soos ek toevallig ook op hierdie blou Maandagoggend uit die onverbiddelike verkeersboete in my e-posse geleer het) keer ʼn mens nie om hulle te breek nie.

Skiet vorentoe, na die president van die VSA in 2052.

Hy (en met ‘hy’ impliseer ek voortaan ook ‘sy’) lewe waarskynlik vandag reeds. Hy is tans besig om ʼn volledige rekord van al sy foute vas te lê. Hy is besig om foute te maak, standpunte in te neem wat in die toekoms minder verteenwoordigend van sy gevoel sal wees. Hy worstel deur die stürm en drang van sy jeug, neem foto’s van sy eerste skelm bier of dalk erger. Hy tel nie sy woorde nie, hy vloek, hy sê dinge wat onder die omstandighede van sy onmiddellike milieu binne konteks aanvaarbaar is, maar op die lange duur nie die ondersoek en venynige oordeel van die volwasse politieke wêreld sal oorleef nie.

Tensy… iemand al destyds in, sê maar, 2017, begin het om die standaard van ʼn nuwe, oper, Jan Alleman-orde daar te stel. Jy hoef nie daarvan te hou nie, maar jy negeer dit op eie risiko.

*Lees gerus Chris Chameleon se rubriek elke maand op Maroela Media.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Kom Ons Boks ·

Ons almal bly in glashuise maar is fluks om eerste klip te gooi na ‘n ander. Die skrywer het ‘n wysheid wat menige volwassenes behoort te he. Bravo!

Susan ·

Chris, jy is ‘n sieraad vir en van die Afrikaanse taal, vol wysheid en humor! Baie dankie.

Maroela Media, julle kan gerus dat hy elke dag ‘n stukkie wysheid en/of vermaak met ons deel! Dis ‘n lafenis vir die ou vuisvoos siele!

JC ·

Wonderlik Chris! Sjoe, wat ‘n vars briesie voel ek nou oor my beweeg…
Bravo!
MAGA Trump!
Eerlik en uit opregtheid geskryf, sonder om doekies om te draai, baie dankie daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.