Chris Chameleon: In ʼn oomblik …

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Maroela Media het berig oor ʼn boelievoorval by Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein aan die Wes-Rand waar ʼn 16-jarige meisie ʼn seun by die skool met die vuis bygedam het. Dit is die agtergrond van Chris se rubriek vandeesmaand. -Red

Die stukke buffer het saam met die motorruitglas oor die pad gestrooi gelê. ʼn Vloeistof het uit die een voertuig op die teer gedrup. Die geknakte blou kar het dwars in die pad gestaan, net ná ʼn draai waaruit aankomende verkeer onverpoosd en met niksvermoedende spoed op die toneel afgekom het en telkens fel moes rem en swenk voor die toneel van verwoesting.

Erger nog, was die onnatuurlikheid van die man se postuur wat tussen die stuurwiel en sy bestuurdersitplek se rugleuning roerloos vasgepen was. My vriend, Albrecht, het wonderbaarlik gespaar gebly. Gekneus en vir dae daarna nog styf, het hy aarselend uit sy kar gewikkel en die toneel betrag. Die passasier van die blou motor het ook haar gespaarde self uit die wrak gewikkel. Sy het om die kar geloop en toe sy die bestuurder sien, het sy ʼn kreet van wanhoop, afgryse en histerie uitgeskreeu. Dit was asof die sluise van haar siel moes oopgooi om die skokvloed van haar hierna ewig veranderde lewe weg te tap, leeg te tap. Sy het histeries oor die pad geslinger, die kant toe, daardie kant toe, volkome onbewus van die aankomende kar wat met behendigheid en ʼn tikkie geluk tussen haar en die wrak deurgevleg het.

Albrecht het haar genader, probeer paai, maar sy was buite haarself. Hy het haar skouers in sy hande geneem, maar sy het geruk, geskreeu, losgeruk en vir ʼn tweede maal binne etlike sekondes die dood van die volgende aankomende kar ten nouste ontwyk.

En toe klap Albrecht haar. ʼn Enorme oorveeg wat haar van haar voete sou afgooi, was dit nie daarvoor dat hy haar met sy ander hand vasgehou het nie. Sy het ophou skreeu, sy het ophou rondslinger. Sy het in ʼn weerlose, hartverskeurende hopie plat langs die pad gaan sit en geween.

***

Dit was die krap wat dit gedoen het. Die geskel, die beledigings, die gevloek en die stink asem, naby en tartend in sy gesig was vir Joe, my vriendin Elize se destydse kêrel, oorgenoeg rede om ʼn dronk, skoorsoekerige buffel sekuur, onverbiddelik harpuis toe te stuur. Maar dit was nie ʼn man nie. Sy was ʼn vrou en daarop uit om handgemeen te raak. Elize kon sien dat Joe hom met moeite beteuel en het ferm tussenbeide getree om haar kêrel teen die beskonke viswyf te beskerm. Vir haar moeite het sy ʼn venynige viernaelkrap oor die linkerwang gekry. Voor hy kon nadink oor of hy moet, mag, wil of hoort, het Joe die vrou grond toe gebring met ʼn oorveeg.

***

My hart was verskeur. Eerste ware liefde op 27 en sy was besig om haar goed te pak. Die weke in die aanloop tot ons skeiding was ʼn uitmergelende, onsekere en veral slapelose tydperk. Ek het daagliks lang ure op ʼn produksie ingesit, die hoofrol in ʼn reeks wat ek tot vandag toe nie kan aanskou nie, beide omrede dit my na die verleentheid van hierdie diep ongelukkige tyd terugneem asook omdat ek voel my toneelspel beroerd was vanweë my obsessie met my in duie stortende persoonlike lewe. Haar beste vriendin, Sharon, wat ek tot vandag toe nog vir ‘n feeks aansien, het haarself die vermetelheid toegestaan om in my eie huis op my te kom skel. Terwyl my (eks-)beminde haar goed aan’t pakke was, het hierdie vrou voor my kom staan, my uitgedaag en haarself in die intiemste struwelinge van ons verhouding verwikkel. Sy het die knoppies meesterlik gedraai en soos ʼn ervare vlieënier in ʼn ingewikkelde stuurkajuit die druk, die hoogte en die versnelling klinies gereguleer. Ek was weerloos teen hierdie aanslag. Uit die verpletterde stukke van my wese was daar nie ʼn enkele brok heel en groot genoeg om vastigheid en leiding te kry nie. Sy het my behendig tot ʼn crescendo gestuur en op die hoogtepunt het sy losgetrek en my geklap. Soos blits, refleksief, het ek my hand, of liewer, my vuis, vir haar opgetel en met mag en mening op haar neusbrug afgestuur.

Ek kan tot vandag toe nog, met die afstand van tyd en die nugter bedaring van jare geen verantwoordelikheid aanvaar vir die feit dat ek haar nie geslaan het nie, want dit was my bedoeling. ʼn Onsigbare mag het tussenbeide getree en my vuis het etlike millimeters voor haar gesig gestuit. Ek word nou nog lam as ek dink wat die gevolge sou wees indien ek haar geslaan het. Wat ʼn sappige, loopbaanvernietigende berig sou dit nie destyds gewees het nie, wat dalk die ganse verhaal van wat ek tussen Oktober 1998 en nou bereik het onherroeplik sou herskryf het.

En tog is dit nie die kilste gewaarwording of herinnering wat ek van daardie dag oorhou nie, want die eer vir daardie onderskeiding val haar haar blik, die wyse waarop sy nie eens ʼn enkele oogspier verroer het of nie eens in die minste gekoes het nie, te beurt.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.