Chris Chameleon: Kennis is mag, reg?

Chris Chameleon (Foto verskaf)

My mins gunsteling- Afrikaanse idioom is “skoenmaker hou jou by jou lees”. ʼn Onaangename, ouderwetse geurtjie van onderdrukking kleef aan hierdie swartgallige woordebraak wat dikwels uit oorversigtige (lees: bevreesde) smoele val. En in geen stadium van my lewe was dit meer onvanpas as juis deesdae nie. Die soort denke wat tot die uiting van hierdie idioom lei is deesdae so wyd en volop gesaai soos bankrotbos in die Vrystaat. En met goeie rede, want ons leef in ʼn tyd waarin dit vir die houers van monopolieë belangrik geword het om hierdie idioom wyd en syd aan te haal.

As tiener in die 1980’s was daar ʼn boekereeks, Kennis, wat in vele van my maats se huise gepronk het. Self het ons nie die begroting gehad vir hierdie reeks nie (of die nog meer begeerlike Wêreldspektrum), maar wanneer ek by iemand se huis die Kennis-reeks gesien het, sou ek gewoonlik dadelik op die mat voor die boekrak gaan sit en my verlustig het in die inligting.

Baie van die inligting in daardie boeke sal nou uitgedien wees deur nuwe verwikkelinge en hier en daar selfs bevindings tot die teendeel. Maar een van die mees noemenswaardige slagoffers van die ‘feite’ in die Kennis-reeks, is die leuse van die reeks self: “Kennis is mag”.

As jy in 1989 iets wou weet moes jy maar die tyd vind om die kilometers biblioteek toe af te lê, en daar tussen die naslaanwerke te gaan snuffel in die hoop dat daar a) inligting oor dit waarna jy soek beskikbaar is en b) dat die inligting jonger as 20 jaar oud sal wees. Toe was kennis nog mag.

Maar vandag is dit anders; kMaar vandag is dit anders; kennis is grotendeels van sy angel ontneem deur die inligtingsrewolusie. Want ons lewe nou in ʼn tyd waar kennis oor absoluut alles binne ʼn ommesientjie in die palm van jou hand beskikbaar isennis is grotendeels van sy angel ontneem deur die inligtingsrewolusie. Want ons lewe nou in ʼn tyd waar kennis oor absoluut alles binne ʼn ommesientjie in die palm van jou hand beskikbaar is. Ek gaan nou slegs nog biblioteek toe vir die aangename, nostalgiese geur van boeke.

Natuurlik word vele bedrywe nou bedreig deur die algemene beskikbaarheid van kennis. Net verlede week het my skottelgoedwasser opgepak. Ek het voor ʼn keuse gestaan: laai die ding agter op die bakkie, ry die 60 km na die naaste dorp met ʼn hersteldiens en was vir die week of wat dit ook al sal duur met die hand, óf, gaan kyk op die internet of jy dit self kan doen. Ure se gespook later het ek die skottelgoedwasser self gratis herstel en my vrou was opnuut dolverlief op my. Ek kan nie help om te vermoed dat die skottelgoedwasoutomaathersteltegnikus benewens sy arbeid my dalk ook sou aanslaan vir die vervanging van die waterpomp nie, al was die probleem uiteindelik dat die pomp bloot deur ʼn kaneelstokkie verstop was. En toemaar, meneer skottelgoedwasoutomaathersteltegnikus, ek verstaan jou pyn – my albums kan ook nou gratis deur middel van die internet geroof word.

Maar, en hier kom ek uiteindelik by my punt uit, in die era van Covid-19, staatsvergrype, bedenklike verkiesings, geopolitiese alliansies, mediese uitbuiting, genetiese manipulering ens., word daar nou maklik vir mense gesê dat skoenmakers by hul lees moet bly en die hoge gedagtes maar vir die spesialiste te los. Asof ek ʼn doktorsgraad in mikrobiologie moet hê om te weet my reg tot ʼn vrye bestaan en onbelemmerde inaseming word deur ʼn verpligte smoelbroek ontneem. Asof dit ʼn genie van Einsteinproporsies verg om in te sien dat as ʼn siekte waarvan die dodetal vergelykbaar is met seisoenale griep en die ander respiratoriese kwale waarvan die sterftesyfers die afgelope seisoen wonderbaarlik getaan het ʼn bekpêntie noodsaak, die ganse mensdom die toekoms met hierdie lipluiers tegemoet sal moet gaan. Natuurlik is ek die soort wat dan aanlyn sal gaan en ure later hoogs bedinges met die bevestiging van die onsin van mondbakkies my rekenaar sal afsit. En dan klink die ou skoenmakertjie-idioot, ek bedoel, idioom, weer uit alle hoeke: “ʼn Paar uur se ‘navorsing’, nè? Los dit maar vir diegene wat ʼn paar dekades reeds met hierdie dinge worstel!”

En dan help dit ook nie dat ek sê “eh… ja, ek het nie die mening van eweknieë gaan soek nie, ek het gaan nalees oor die besinnings van ervare epidemioloë…”

Dit help ook nie ek noem dat mense soos Hermann Hesse, George Bernard Shaw, Frank Lloyd Wright, Leonardo da Vinci, Gustave Eiffel, Vincent van Gogh, Ernest Hemingway, James Watt, Thomas Edison, Nikola Tesla, die Wright-broers, Henry Ford, Charles Darwin, Blaise Pascal, Galileo Galilei, Michael Faraday, André-Marie Ampère, Benjamin Franklin, Buckminster Fueller en nog vele ander hulleself verewig het in die annale van kuns en wetenskap terwyl geen een van hulle opleiding in die velde van hulle uitnemendheid ontvang het nie.

Nee wat, al wat dan help is om ʼn eie, teen-idioompie sommer daar en dan uit te blaker:

“Ja swaer, en weet jy om nie te weet nie is onskuld, om nie te wil weet nie is dom, en om nie te wil hê ander moet weet nie, is gevaarlik!”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.