Chris Chameleon: Kenny G en die stix

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Die vorige aand se rock en roll het nog swaar binne my skedel gedruk toe Kenny G my kom wakker skud het. Nie dié Kenny G nie, maar sy naam was wel Kenny en sy van het met ʼn G begin en hy stel homself altyd so voor. Ons het die vorige aand in Los Angeles ons beste Boo!-kaperjolle uitgehaal en die Amerikaners weet van hard fees vier. Dit was Sondag en ek het gehoop op ʼn bietjie uitslaap, maar Kenny G het ander idees gehad.

“I’m gonna change your life today,” het hy belowe.

Ek het hom nie baie goed geken nie, maar goed genoeg om te weet dat hy sal aanhou en dat ek in die belange van ʼn Sabbat sonder iesegrimmigheid nou reeds moet kapituleer. ʼn Gesigspoel, vars onderstel en vuil denim later spring ek saam met hom in ʼn karaktervolle ou skedonk en ons vaar Los Angeles se Sondagoggendskarreling binne.

Ons eerste stop was by die First Episcopal Church Of Los Angeles. Dit is glo die kerk waar Whitney Houston begin het. Haar tannie, Dionne Warwick, was nog altyd ʼn groter gunsteling van my, maar Whitney self het geweet hoe om ʼn noot of twee te sing en het my selfs al ʼn keer of wat ontroer. Kenny G en ek het soos seer duime uitgestaan in die stampvol kerk vol African American-lidmate. Die preek was dinamies en die sang besonder. Kenny G wys toe ʼn vet klein meisie uit in die koor en sê: “Wait for it, that girl is gonna blow your mind in a minute.”

Nie lank daarna nie het die meisie losgetrek en die kerk met ʼn verstommend kragtige en suiwer stem getref. Die gemeente was aangegryp. Ek self was diep beïndruk. Maar iets het my gepla. Ek kon nie my vinger daarop lê nie, maar pla het dit gepla.

Vanuit die kerk is ons na ʼn vlooimark toe. “Wat is nou so danig lewensveranderend aan ʼn vlooimark?” wou ek in my beste Engels weet.

“Stix, Mr Chris. Stix.”

Wat op dees aarde kon dit wees?

Op pad vlooimark toe hou ons in een stadium stil by ʼn rooi verkeerslig. “Hey look, there’s Flea!”

Flea is die basspeler van die Red Hot Chilli Peppers, ʼn legendariese rock-orkes en een van my gunstelinge en jou wrintiewaar, hy stap hier reg voor ons verby.

By die vlooimark aangekom drentel ons rond. Kenny G verduidelik dat ons na een deel, waar hulle ʼn groot klomp gebruikte klere op ʼn hoop uitpak, moet gaan om die “stix” te gewaar.

Op pad daarheen sien ons vir Winona Ryder, jip, die einste sy, lekker gemaklik deur die stalletjies drentel.

Ons kom uiteindelik by ʼn hoop klere aan en Kenny G se gesig straal. “See? Stix!”

Ek kyk en ek kyk maar ek sien nie wat “stix” is nie.

Kenny G merk my onkunde en lig my toe in ʼn gedempte stemtoon met ʼn sameswerende kleurtjie dat “stix” is wanneer die dames afbuk om skatte in die hoop klere te vind, die toutjies van hul duidelik minimalistiese onderklere bo die broeklyn sigbaar vertoon tot groot vermaak van diegene met skoolseun-ondeundheid-toebedeelde-mans soos Kenny G en, kennelik, ook ek.

Vanaf die vlooimark gaan ons toe vir burgers by een of ander beroemde burgerplek en drink piesangmelkskommels.

Die gepla wat in die kerk begin het, het gedurende die oggend se verdere verrigtinge nie net voortgesleep nie, maar ook geakkumuleer, ʼn temerige stemmetjie in my agterhoof wat aandring op aandag vir ʼn misterie.

Wat kon dit wees?

Dit was eers teen die volgende oggend dat die onthulling uit die sluimer van my onbewuste hom helder voorgedoen het: Kenny G is Kenny G, maar hy is ook nie Kenny G nie. Hy kry wel ʼn valuta uit die toeval en buit dit uit in soverre dit sprankel verleen aan elke nuwe bekendstelling.

Die klein vet meisie in die koor kan sing soos ʼn volwassene, maar sy is dit nie. Sy het ook nie die volwasse emosionele mondering om die emosie van die volwasse liede wat sy sing lewensgetrou weer te gee nie. Sy boots die gevoel puik na, maar dit is nie die ware gevoel nie en die wat daarop inteken stel hulleself bloot aan ʼn nabootsing en kan met gereelde blootstelling die onderskeidingsvermoë vir die ware emosie byster raak.

Flea en Winona is nie buiteaardse wesens nie. Hulle is doodgewone lede van die burgery met Sondagoggend behoeftes van die aardse gepeupel.

Stix is ónderklere, maar wat bó die gordellyn vername werk verrig.

Daar was geen piesang in die piesangmelkskommel nie.

Aandagtig aan hierdie onthullings teug ek aan my koffie, terwyl ek na my land verlang en die son aan die verkeerde kant opkom.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

HK ·

Verlang na “jou” land en “my” land, die land wat my so bitterlik seer maak…my hart ween. Als was waar, als was reg.. nou is als vals, als sleg? Waarheen nou vir ons en ons jong kinders? Verlang na my land…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.