Chris Chameleon: Laat die vrees verdwyn

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Die Groot Karooson het versengend die vog uit my lyf gewring, asof ek ʼn klam lap in die growwe hande van ʼn boere-ouma se laaste afrondwerk by die wasbak was. My kuite het van binne en van buite gebrand en my oë was rooi van die sweet.

Maar ek was gelukkig. Voor my het ʼn paar honderd skape eenparig, al blêrende die laaste kilometer kraal toe getrippel. Ek het gekom om ʼn vriendin op ʼn skaapplaas in die Noord-Kaap vir ʼn week uit te help. Lekker werk, lekker slaap, lekker eet, lekker vars lug – die regte doepa om ʼn bietjie weg te kom van die ongesonde lewensstyl van ʼn musikant.

Ek het baie geleer tydens daardie werksvakansie:

Eerstens, dat dit baie makliker is om man alleen 500 skape aan te jaag as wat dit is om vyf skape aan te jaag. Groepe laat hulle makliker stuur.

Tweedens, dat dit moeilik is om die eerste skaap op ʼn trokkie te kry, maar teen die tyd dat jy die derde op het, kan jy die stormloop van die ander dertig nie keer nie.

Derdens, dat hoe meer jy hard, fisies met skape te werk gaan, hoe sagter word jou hande van die lanolien waarmee hulle vag deurtrek is, so sag soos die hande van ʼn deftig uitgevatte wetgewer in ʼn ivoortoring.

En, vierdens, dat jy soms dapper, individualistiese skape kry wat van die trop breek en hulle eie gang gaan. Hoe mens dan te werk gaan is om ʼn skadelose klip oor hulle koppe te gooi, wat voor hulle in die stof neerplof. Hulle skrik vir die veinsbedreiging, en wend hulle dadelik terug trop toe. Die trop wat gesellig en niksvermoedend onder die illusie van veiligheid slagpale toe gedryf word…

***

Prins Oreb het in die donker nag gelate uitgekyk oor die laer van sy 135 000 Midianitiese manskappe. Hy en die ander prinse van Midian het gekom om die Israeliete ʼn doodslag toe te dien wat hulle nooit sou onthou nie, vir die eenvoudige rede dat daar geen van hulle moes oorbly om enige herinnering daarvan te kon oorvertel nie.

Skielik het daar ʼn onaardse basuin vanuit die rante om sy laer opgeklink. Van alle kante het dit gekom. Hulle was omsingel deur bose geeste! Verwarde krygers het half deur die slaap oral uit hulle tente gepeul. Skielik het daar ʼn angsaanjaende gedruis uit die hemele opgeklink in ʼn onaardse sameswering van groot bolle vlam en vuur… die gode het seersekerlik in woede op hulle neergedaal!

Paniekbevange het die Midianitiese krygers wild en beangs met hulle swaarde in die donker gekap, gesteek en geswaai na die skimme van hulle vrees.

Vanuit die hoogte in sy posisie op die omsingelende rante, het Gideon die chaos gade geslaan en gesien hoe die Midianiete sy eie krygers se werk vir hulle doen deur mekaar in die blindelingse ban van onredelike vrees uit te wis.

Teen dagbreek het Gideon en sy driehonderd manskappe wat die vorige nag met ramshorings, kruike en fakkels tot die stryd toegetree het, seëvierend gestap oor die slagveld, besaai met die lyke van 120 000 verslane Midianiete, waarvan die meerderheid deur hulle eie afgemaai is.

***

Die 357 kongreslede was nie seker van hulle saak nie, maar was te versigtig om kapsie te maak. ʼn Verdere 66 kongreslede het wel gewaag om ‘nee’ te stem, maar die meerderheid was enorm en die wetswysiging is goedgekeur en in die wetboeke ingesluit.

Die kongres het slegs drie dae, van 23 – 26 Oktober 2001, gehad om deur die sowat 350 bladsye van ’n ingewikkelde regsdokument te werk. ’n Selfs groter wonderwerk is dat dit slegs ʼn maand en ʼn half geduur het om hierdie omvattende wetsontwerp te formuleer, so byna asof dit reeds voor die oënskynlik amptelike rede vir die ontwerp, die 11 September 2001-aanvalle op die VSA, reeds in ontwikkeling was.

Die wetsontwerp sou bekendstaan as die ‘Patriot Act’ wat ingrypende wysigings op die grondwetlike regte op vryheid van spraak, reg op privaatheid en vryheid van beweging van Amerikaanse burgers teweeg sou bring. Die aanvanklike bedoeling was dat dit sowat vier jaar later teen 31 Desember 2005 sou verstryk, maar dit is nou bykans twintig jaar later en nie alleen geld die wette steeds nie, maar sommige van hulle is verfyn en verskerp.

Die vrees wat deur hierdie aanvalle op die psige van Amerika ingebrand is, het die verlies van swaarverworwe regte op die liggaam van die VSA soos ʼn bees se brandmerk verewig. Regte wat deur die sware stryd om selfbeskikking in 1776 verwerf is, vir 235 jaar getrou en dapper in stand gehou is en in ʼn aanval van vrees eensklaps verkwansel is vir die idee van veiligheid.

***

Ek sluit die sosialemediatoepassing op my selfoon af, en skakel die foon uit. ʼn Beklemming kom sit om my hart, iets wat ek so ʼn geruime tyd gelede ervaar het, dat dit vir my vreemd voorkom. Maar ek onthou dit as vrees. En dis nie sommer enige vrees nie, dis die vrees vir wat die vrees tans besig is om aan ons mense te doen. Ek het jare gelede ʼn lewensveranderende belewenis meegemaak wat ʼn aantal ingrypende veranderinge in my teweeggebring het. Een van hulle was om vrees uit my lewe te verban. Ek het agtergekom dat vrees ʼn duiwelse saad is wat in die teelaarde van jou gemoed wortel skiet om ʼn plaag van onkruid en verterende pestilensie in die tuin van jou siel te versprei. Dis vrees wat jou in jou God laat twyfel. Dis vrees wat jou jou medemens laat haat. Dis vrees wat toelaat dat jy jouself in die skande steek deur die vreemde, onnosele, ondeurdagte en gevaarlike dinge wat dit jou laat doen. Dis vrees wat jou die vrugte van die dapper oorwinnings van jou voorouers laat versmaai en dis vrees wat jou, in ruil vir die illusie van veiligheid, jou reg op onafhanklikheid, persoonlike selfbeskikking, vrye selfverwesenliking, vryheid van beweging en reg op privaatheid laat verkwansel.

Met sy inhuldiging in 1932, terwyl die wêreld in die ban van die vrees en ellende wat deur die 1929 markte-ineenstorting en daaropvolgende depressie verkeer het, terwyl die omstandighede wat uiteindelik tot die Tweede Wêreldoorlog sou lei besig was om vorm te kry, het Franklin D Roosevelt iets gesê wat vandag, 88 jaar later, met die kristalhelder klank van waarheid lui: “We have nothing to fear but fear itself.”

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kosie ·

Vrees staan teenoor geloof; baie van ons bely dat ons glo, maar glo ons werklik? Vrees word ook algemeen gebruik om te manipuleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.