Chris Chameleon: Leed, my lewenslange skadumaat

Chris Chameleon (Foto verskaf)

En dit was nag.

Leed, my lewenslange skadumaat, my onafwendbare hindernis, my stil, swart fluweel oorjas, my verstrengelende metgesel.

ʼn Mens leer mettertyd om daarmee om te gaan, om meer bedag te wees op die lokvalle en klopjagte waarin dit met groter sukses in jou priller jeug op jou toegeslaan het. En tog is daar af en toe die blindelingse aanslag op ʼn roltrap in ʼn Oos-Kaapse winkelsentrum, of terwyl jy nog die juiste grootte teelepel vir suiker in die eerste oggendkoffie langs die ketel bepeins, of tydens die onverwagse, doodnatuurlike drie-sekondestiltes midde-in die gang van alledaagse gesprekke.

Jy leer om leed in ander te herken, want waar hierdie sielsparasiet vasbyt en die bloed van vreugde en geesdrif uitsuig is daar altyd ʼn letsel wat in lyne op die gelaat verraai. Ons ken mekaar, die gewondes deur wat was, die stryders teen wat kom, die oorlewendes van ʼn hede wat in leed die lemmetjiesdraad van gister tot more deurtrek.

Aan doepas is daar nie ʼn tekort nie, vra maar die dokters, hulle is almal dieselfde – of hulle nou in All Stars met dreadlocks en vuil vingernaels op die hoek van Twist en Esselen verligting verkwansel, of in die Randburg Mediclinic in ʼn wit oorjas met blou oë jou van agter kristalhelder brilglase betrag – hulle glo almal hierdie doepa is die ding wat die ding kan doen. En wanneer daar ʼn nuwe weergawe op die mark verskyn, is hulle gretigheid om jou hierin jou soektog na verlossing voort te laat sit met moeite vermombaar.

Dan is daar die dokters wat deur die gesprek die steeds ontwykende weg na saligheid begelei – kopdokters. Hulle het soms ook spreekkamers, maar bring, volgens my persoonlike ervaring, meer verligting as hulle gesette tannies is, met ruim boesems in geblomde rokke aan ʼn tafel om ʼn koppie tee in ʼn warm kombuis. En ook hier is die verligting presies net dit: verligting. ʼn Tydelike wysiging van die bekende Via Dolorosa, ʼn kers in ʼn donker nag van die siel wat voor dagbreek uitbrand en die versmorende donker sy regmatige nokturnale heerskappy laat opeis.

Selfs die gode sit hand by. Die gode van hedonisme beveel: Dans! Lag! Speel! Werk! Oefen! Seks! Wen! Veg! Drink! Goeie raad, vir ʼn wyle. Voor die aanslag van plesier en uitbundigheid wyk die duisternis stert tussen die bene tot doer, anderkant, om die hoek, net om later, terwyl jy gelate huis toe strompel, uit te spring en jou aan die hakskeen te byt en met ʼn hondsdol swerende wond te wreek sodat jy langer, groter leed met jou sal meeneem as ʼn herinnering aan die doodse loon vir die wat dit wil waag om hulle rug te draai op die almag van die leed. Die alomteenwoordige leed. Die jaloerse leed.

In my eie, Christelike verwysingsraamwerk, soek en soek ek na verlossing en vind dit in die belofte van hemelse loon vanaf die dag wanneer ek klaargespeel is met hierdie lewe, wanneer my kaalvoetwandelinge op die deur dorings en distels besaaide weë na my uitverkose lot op ʼn einde loop. Tussen nou en dan is daar vertroosting, tydelik, lofprysing, tydelik, hoop, ook tydelik.

Desondanks, sak die son van my gemoed se dag weer – soms soggens, soms saans, meestal onverwags, en die nag is terug. Die nag wat die vuur van alle lewe, alle lus, alle vreugde en alle strewe blus en die swaar as, die teneerdrukkende mis van leed weer om my laat toesak.

My lewe is waardeloos.
My lewe is dood.
My lewe moet end kry.
Die beste wat ek nou met hierdie lewe kan doen is om hom finaal…

Dit was die janfrederikkie wat die dag eerste aangekondig het. In sy helder stem en komplekse woordeskat het hy die Goddelike raad reguit, sonder tierlantyntjies uitgesing:

‘Noudat jou lewe van geen waarde meer vir jou is nie, wy dit toe aan ander. Bring die vreugde wat jou nie beskore is nie aan ander. En die betekenisloosheid van alle inspanning wat jou eie lewe kenmerk, span jou vir ander in.’

Ek hoor ons babadogtertjie se eerste koe-geluidjies, en langs my roer my vrou slakend uit haar sluimering.

En in strale breek die nagtelose dag.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Carol

OOOOOEEEEE DIT IS SO VERSKRIKLIK MOOI !!!!!

Carol

Chris se cd “HERLEEF” (verwerkings van Psalms & Gesange) is ‘n moet hê vir jou lofprysing kolleksie. Luister “Laat Heer U seen op hul daal”, Psalm 134…so mooi !

C.J.P.

Ek is mal oor hoe jy skryf Chris, so eerlik en jy beeld ‘n ding so mooi uit. Ek hoor al soggens die janfredrikkie op Verkykerskop.

Feite

Oulike skrywe. Dit is goed en dit is mooi dat na die leed, die eie ek wie net hulself dien, sommige mense tog bevoorreg is om die hemel op aarde, die maanskyn en rose te ontdek. Dit is eers wanneer mense, sommiges uit eie keuse en ander geforseerd deur omstandighede, begin om mekaar te dien, dat lief en leed betekenis kry, dat om jouself laaste te plaas, begin sin maak!

Suzette

‘n Mens wat met woorde toor.
Raak, pynlik raak.