Chris Chameleon: Littekens van genade

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ek verwonder my al, vir so lank as wat ek kan onthou, aan littekens. Ouma stop kouse, mamma lap ʼn winkelhaakskeur in die broek, pa gom skoene weer heel vir ʼn ekstra myl se stap.

Maar die lyf, o, die lyf… Die lyf lap homself. Hy probeer, soos ouma, om met min of meer dieselfde kleur en fatsoen te stop – nooit heeltemal volmaak nie. Hy kan nou nie soos ma ʼn prentjie van ʼn pynappel oor die skeurtjie vaswerk nie en vermag selde die soomloosheid van pa se noukeurige skoenhelings, maar hy doen wat hy doen goed en dit hou lewenslank.

Daar waar die lyf sy lapwerk doen en homself heel, noem ons dit littekens.

Littekens is ʼn korporale inventaris van leed, maar littekens is ook ʼn visuele rekord van heling.

As kind het ek die littekens op grootmense se lywe met verwondering beskou en altyd vrae gevra.

Oom Lukas het byvoorbeeld nie beswaar gehad om vir my te vertel dat die groot sny, agter op sy rug, van ʼn nierverwyderingsoperasie was nie. Maar my ma het my streng verleë stilgemaak toe ek ʼn oom wat in die 1970’s saam met ons in die tandarts se spreekkamer gesit het, gevra het wat met sy arm gebeur het. Sy arm was by die elmboog af. Hy het my ma rustig verseker dat die vraag hom nie aanstoot gee nie en my vertel dat hy met sy elmboog op die oop venster geleuen het terwyl hy bestuur het. ʼn Kar het van voor te naby aan hom verby gekom en sy arm afgery.

Later sou ek self ʼn ganse oeuvre van my eie littekens saamstel: die sny op my linkerduim van die keer toe ek as sesjarige wou biltong sny en dit misgegaan het. Ek het gedink dat ek iets verkeerd gedoen het en toe vir my ma vertel dat ek ʼn handstand op die grasperk gedoen het en dat ʼn geroeste spyker (ek moes dit erg maak!) my toe daar bygekom het. Sy het my dokter toe gejaag en hy het met die ervaring van sy beroep my vertelling baie skepties verneem. Ses steke en ʼn klem in die kaak inspuiting (jy wil mos!) later sit ek vandag nog met die storie op my hand. Daar is die erge litteken van ʼn sigaretbrand op my linkerhand (my linkerhand het baie in die slag gebly). Johan Nel het my tydens ʼn tweede pouse skelmrooksessie in standerd agt gewed ek kan nie ʼn gat deur ʼn vyfrandnoot brand nie. Hy het gewen (moet dit nie probeer nie, dit kan nie gedoen word nie) maar het so sleg gevoel oor die gruwelike brandmerk dat hy my toe tog die vyfrandnoot gegee het. Hierdie kol is reg langs die ander kol waar die perdedokter eenmaal ʼn vrat afgebrand het.

Die kol op my regterkuit is van kortbroek ry en brand op die uitlaatpyp van ʼn 400cc Suzuki GN.

Die litteken met die duik in op my maermerrie het gekom van die keer toe ek in my Boo!-dae by die verhoog afgespring het om tussen die mense mielies te gooi en my tydens die terugspring met die beperkende snit van my rokkie misreken het. ʼn Mens kon destyds die versplinterde been diep in die wond sien blink, maar ons was op toer sonder ʼn medisynetassie en ek het hom met toiletpapier en kleeflint behandel.

Die kol op my voorkop by my haarlyn is van die keer toe ons Buck Rogers in die berg agter die koshuis gespeel het. Douw Grobler (Buck Rogers) het vir my (Pangor), met ʼn klip geklits. Die sny bo my regteroog is van die keer toe Manie de Beer die onmoontlike vermag het en my met ʼn klip raak kon gooi terwyl ons albei vir ʼn blikkie voor ons gemik het.

Die snyhale op my rug en bobene en gate in my skouers is van die keer toe die twee rowers my in die nag in my huis oorval het en die litteken op my maag is waar die doringboom my gesteek het toe die kar gerol het en ek by die venster uitgeslinger is.

En hierdie is maar net ʼn kort oorsig, die lys gaan op bladsy twee voort.

Wat al hierdie littekens gemeen het, is dat ek die gebeure wat hulle veroorsaak het kan onthou. My ongevalle geskiedenis is in hiërogliewe op die wand van my lyf verewig en vir herinnering vasgelê. ʼn Soort persoonlike ensiklopedie.

Die littekens is lesse: sny weg van jou lyf af, moenie weddenskappe met jou lyf as slagveld aangaan nie, ry perd en ysterperd met ʼn langbroek, ken jou sprong, ensovoorts.

Die littekens is wondere van genesing, ʼn herinnering aan die wonderbaarlike selfversorgende vermoë van die menslike liggaam.

Maar, beste van alles, die littekens is die inhoudsopgawe van genade en verlossing. Want die vet weet ek kan die feit dat ek dit alles oorleef het aan niks anders toeskryf nie!

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Mmmm my littekens is glo my “Darwin dagboek”. En soos jy se – ons leef nog danksy die leerskare beskermengeltjies.