Chris Chameleon: Moses (deel 2)

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Lees Moses (deel 1) hier – Red

Moses was vir die eerste drie dae in ons huis ʼn stil katjie. Nie dat hy wou wees nie – hy het gereeld probeer miaau, maar ʼn sagte, skor fluistering was al wat hy kon baasraak. Die dae van onwatering, verhongering en wanhopige kreetjies vanuit die struike waar hy wild geskuil het, het hulle tol geëis. Ons het hom so vyf weke oud geskat.

Nou wat op dees aarde gemaak met ʼn kat? Benewens die feit dat ek nie ʼn katmens is nie, reis ons ook ontsettend baie. Ons staan ook op die vooraand van ʼn groot verhuising na die soort omstandighede wat ʼn kat nie kan akkommodeer nie.

Ons is nou nie juis veeartse nie, maar êrens het ons geweet ʼn mens hoort nie so ʼn uitgeteerde katjie van meet af dik te voer nie. Bietjie kos, baie water, weer ʼn bietjie kos, nog water ensovoorts. Sy gesanik oor die klein porsies was nie juis beleefd nie, maar daar was daarin wel die verskil te bespeur tussen toeëiening en buitengewone behoefte.

Teen die volgende oggend het my vrou begin bekommerd raak – die katjie het nog nie een keer ontlas nie. Geen nommer een nie en ook nie ʼn twee nie. Sy het vir hom ʼn sandbak geprakseer uit ʼn skoenboks, maar dan moet ʼn mens nog vir die outjie leer van toiletmaniere. Maar sonder die behoefte tot ontlasting gaan die skoenboks nie tot sy reg kom nie. Dit het eers ná middagete van dag twee gebeur. En dit was vreemd. Want hierdie vyf weke oue katjie het reguit skoenboks toe gestap, ingeklim, sy gaatjie gegrawe en natgelei. Ek weet nie genoeg van katte om te weet of hulle instinktief ʼn sandbak sonder enige leiding, voorbeeld of skoling sal gebruik nie, maar hy het, en dit het my baie beïndruk en sommer ook ʼn bietjie van hom laat hou.

Teen die derde oggend het ons baie bekommerd geraak oor Moses (‘Moses’, want ons het hom in die biesies gevind) se stoelgang. Want soos hy stelselmatig meer en meer kos gegun is en meer en meer kos gevreet het, het hy die soort reserwe opgebou wat my laat bekommerd raak het dat sy ganse lyf al gevul moet wees met ontlasting en ons in die belang van pro-rata verteenwoordigende fisiese samestelling die ‘t’ in kat na ʼn ‘k’ moet verander.

My vrou doen toe daardie moederlike ding wat ek nie aldag verstaan nie. Want kyk, ek is die een wat goggas uit die huis moet verwyder, ek is die een wat die vullis moet uitgooi, ek is die een wat ons vooruitstrewende komposhoop met sy miljoene krioelende wurms aanmaak en versprei. Ek is die een wat die hare uit die afvoerpyp se sif moet haal en ek is die een wat sit op die uitvoerende komitee van alle ablusieverstoppings en septiesetenk-ontploffings. Maar ek sien nie kans vir wat sy daar doen nie en verbaas my ook dat sy dit doen: sy neem olyfolie en begin daai kat se agterstewe en maag vryf en stimuleer dat ek iets wil oorkom. Maar die tegniek werk en op daardie derde dag maak Moses toe uit kewervlerkies, hare, gras en sand ʼn uitwerpsel byna so lank soos sy eie stert.

Alle funksies in ere herstel, ʼn goeie dieet en meer vertroeteling as wat ek in daardie tyd gekry het later, was Moses pure perd en moes ek begin dink aan wat ons met hom gaan aanvang. Ons besluit toe om ʼn sosialemediaplasing te skep, waarin ons vertel hoe ons hom gevind het, waarom ons hom nie kan hou nie en watter soort ouers ons vir hom verlang.

Die reaksie was oorweldigend en my vrou vanaf daardie oomblik pal in trane. Sy is baie lief vir die kat en wil hom nie laat aanneem nie, maar ek is Meneer Realisties in ons huishouding en ek weet hoe ons lewensstyl dit nie kan toelaat nie.

Ons het deur die mense gesif en uiteindelik besluit op ʼn kunstenaarspaartjie in die Kaap. Toegegee, ons het hierdie mense wel geken, maar het geweet hoe goed hulle woning, lewensstyl en persoonlikhede ingerig is vir die inneem van ʼn katjie. My beeswa staan in die Kaap en ek kan wag tot hy na my toe gebring word of ek kan hom vroeër gaan haal. Die verskoning is toe goed gereël en ons pak die kar vol met trekgoed om eers plaas toe en van daar Kaap toe te ry, alles in een naweek. Ek haak die sleepwa en ons klim op die N1, by 14de Laan se oprit. By Gordonweg, die volgende afrit, draai ek af.

“En nou?” vra my bedroefde wederhelfte.

“Ek kan nie,” antwoord ek. “Ek hou te veel van jou.”

Sy weet wat ek wou sê is dat ek ook te veel van die kat hou. Hierdie beleefde mannetjie, met sy ongewone humorsin, hoogs ontwikkelde jaginstink, ongeëwenaarde goedgemanierdheid en kloulose rofspel het sy plek as gesinslid in ons huis verower.

Daardie aand hou ons oudergewoonte huisgodsdiens en slaan die Bybel lukraak oop. Ons lag die ootmoedigheid weg, want die boek val oop op Genesis 22, en ons besef die gewonder oor hoe ons Moses by ons lewensstyl gaan inpas, sal weldra opgelos word.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carin ·

Ons het ook ‘n Moses opgetel ‘n jaar terug.
Sondag haar eerste verjaarsdag gehou.
Soos ‘n kind in die huis.

lien ·

Groot asseblief ‘n foto op gereelde basis. Ek koop sommer nog CD’s van jou, Chris en vroutjie-lief.

Roos ·

Mense wat hulle oor ‘n katjie in nood ontferm het mooi harte. Dankie vir jou storie, Chris.
My man wou niks weet van weer ‘n kat kry na ons liewe dier van ouderdom dood is nie. Toe word ‘n katjie in ons tuin gebore sewe jaar gelede. Die ma het mooi gesorg, maar na so 4 maande kon sy nie meer genoeg kos kry nie. Op ‘n bitter koue dag in Mei het ons ingegryp. Die katjie het lank geneem om regtig mak te word. Vandag is sy net pure plesier.

Kediksie ·

Weereens!!! Die oulike storie gaan oor n kat wat sy plekkie oop “gecharm” het in iemand se hart. Dit gaan oor liefde vir diere en hoe die mens na God se skepping moet omsien. Wat doen ons ou volkie??? Spring met laaang kat naels in oor iets heeltemal anders. Chris Chameleon, ek luister nie graag na afrikaanse musiek nie, maar ek lief jou musiek. Jy het n ongelooflike talent. Doet so voort! En soene vir Moses:-)

Dorothea Visser ·

Ag goeie genade Piet!!!! Kom by! Wat per se het hy aan Bles se familie gedoen??? NIKS! Want alle afleidings is deur jou eie brein gemaak, asseblief man, jy kan maar aangaan met jou lewe! Nie ALMAL is Bles fans nie, so hou op om dit in die wat anders dink as jy se kele af te druk??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.