Chris Chameleon: ʼn Geleentheid vir herontdekking

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Niemand praat nie oor die korona-, of is dit nou die Chinese, of dalk die Wuhan- of dan die Covid-19-virus nie. En ek wil self ook nie niemand wees nie, so hier kom my ou stuiwertjie in die armbeurs ook ter elfder ure uit.

Verlede jaar Maart het ons sak en pak plaas toe getrek. Huis in die stad verkoop, optredes gekanselleer en op die plaas kom sit om te skryf, na die beeste om te sien, musiek te maak, en kinders te maak.

“Waarom?” het die familie en vriende gevra.

“Omdat daar volgende jaar ʼn vrot papaja volspoed op pad na ʼn industriële waaier in ʼn wit linnewinkel op pad is,” het ons destyds geantwoord.

Ook, ná drieduisend optredes in vier-en-dertig lande die afgelope dertig jaar het die pad se bekoring vir my begin taan, die omhelsing van vreemde beddens al hoe onwelkom begin voel en, in wat waarskynlik die ergste aantyging teen my bestaansrede konstateer, het my liefde vir die saak langsamerhand ook getaan. Laat staan alles wat jy nie met liefde en oorgawe kan doen nie, of kry ʼn manier om die liefde daarvoor en oorgawe daartoe te herontdek.

Die vriende het die afgelope week gebel en gevra hoe ons geweet het – ons het nie. Ons het meer in terme van die Suid-Afrikaanse omstandigheid in die besonder en die wêreldekonomie in breër trekke gedink, nie aan Bybelse plae nie. Ons het maar veerpyltjies in die donker gespeel.

En hier sit ons nou. Ons hoor gerugte dat die stad stil is. Ons hoor die winkels is soms leeg en ons laat ons uiteraard af en toe ʼn bietjie nuus toe (hoewel ons dit doelbewus beperk). Samesweringsteorieë blom in hierdie tyd en ek het self ʼn paar idees van my eie. Maar wat my meer prikkel as die ‘waarvandaan’ is die ‘waarheen’. Want hierdie pestilensie laat reeds sy merk op ons samelewing op maniere wat enige mens met ʼn waardering vir sy eie vryheid en ʼn sweempie van agterdog vir die staat, se nekhare laat reis. Hier dan, ʼn paar gedagtes:

Demokrasie: In hierdie tyd, vir so lank dit sal duur, kan daar nie gestem word nie, dus, ʼn moratorium op alle vorms van burgerlike deelname aan die demokratiese proses geld reeds.

Protes: Dit is onwettig om in groot genoeg groepe te vergader om wesenlike protes aan te teken. Alle openbare verset teen die owerhede is tans dus onmoontlik.

Medies: Die druk om jou aan die kundigheid van die mediese bedryf te onderwerp is tans groter as in enige ander stadium. Dit mag dalk vanselfsprekend klink, maar ek het nog altyd geglo dat die loodgieter, motorwerktuigkundige en reklamemaker elk eerstens in hulle eie beste belange optree en dan netjies, eties, hulle bes doen om hierdie belange met die klant se behoeftes te versoen. Ek het die geneeskundiges ook nog nooit daarby uitgesluit nie.

Arbeidsmark: Nie almal nie, maar heelwat mense kom agter dat hulle meer dae per week vanaf die huis kan werk. Ek vermoed dat daar ook ʼn paar base is wat agterkom dat hulle sonder sekere werkers kan klaarkom.

Pensioene en toelae: Die virus se impak op veral die ouer mense in die samelewing en diegene met gekompromitteerde immuniteitstelsels kan, in die geval van hoë sterftesyfers, die druk op die staatskas verminder. Menslik ongewens is dit beslis, maar ekonomies onvermydelik.

Ideologie: In weerwil van ons regering se bewese onvermoë om infrastrukturele projekte te laat gedy of selfs net te onderhou, kan hierdie krisis gebruik word om die agenda van die Nasionale Gesondheidsversekering deur te druk. Ons leef in ʼn tyd waar tydelike omstandighede ontgin kan word om ewig geldende presedente te skep.

Burgerlike vryheid: Oornag het die prentjie met betrekking tot burgerlike vryheid verander en heelwat van die vryhede wat in die grondwet omskryf en gewaarborg word is summier van die hand gesit.

Ekonomie: Elke lewe is kosbaar en ʼn mens voel vir die wat geliefdes aan die dood afgestaan het en prewel gebede dat jou eie huis gespaar sal bly. Maar reeds vroeg in die wedloop kan ek sê dat ek, soos dinge nou staan, nog nooit so ʼn verreikende ekonomiese impak as gevolg van so weinig dode beleef het nie. Ons sit alreeds met ʼn ekonomiese krisis van epiese afmetings en die aand is nog in sy onderbroek. Heelparty van my kollegas in die musiekbedryf skuur al jare lank elke maand op hulle agterstewe deur die debietorders en wat hulle tans beleef is ʼn teneerdrukkende, hulpelose gemors. Daar sal baie ander werkers in ander sektore met soortgelyke dilemmas wees. En al sou hierdie ding slegs ʼn paar maande duur, gaan die gevolge daarvan jare lank weerklink.

Gelukkig is nie alles net donker en swaarmoedig nie. Hier is wel ʼn paar goeie ligpunte aan die ontwikkel.

Gesinne word saamgedwing, nie onder die euforie en kunsmatige afleidings van vakansie nie, maar onder een dak. ʼn Mens kan net hoop en bid dat dit ʼn tyd vir herontdekking van mekaar kan word en veral dat ouers meer tyd met hulle kinders en met mekaar spandeer.

Met die beskikbaarheid van vrye tyd kan mense hopelik vernuwend dink oor hulle handel en wandel. Onnodige dinge kan uitgewerk word. Maak tuin, maak self die huis skoon, vestig ʼn nuwe orde in die huis. Verdiep jou in die deugde van kuns, jou geloof, boeke, kennis die heilsame van die aardse en, in hemelsnaam, gooi die televisie uit of sit die ding ten net minste af.

Ek wonder of ons oor ʼn jaar berigte gaan sien van ʼn skielike toename in nuwe geboortes, met al hierdie vrye tyd.

Ek weet ons gaan vir jare vorentoe nog gepeper word met vertellings van die lief en leed van lyding en herontdekking as gevolg van hierdie krisis.

Die tien plae van Egipte in die boek van Exodus, het nie om dowe neute gebeur nie. Dit was spesifiek met die doel om die geteisterdes tot inkeer en insig te noop. Die wat hulleself nie tot inkeer gebring het nie, is daartoe gedwing.

Ek hoop en bid dat die geagte leser in hierdie krisis nie tot oorgawe gedwing sal word nie, maar tot insig gebring sal word.

Mag ons eendag terugkyk na hierdie tyd en daarvan sê dat goeie verandering deur die lyding daarvan teweeggebring is.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sokrates

Baie dankie vir n skryfstuk wat die denke prikkel. Miskien moet hierdie ernstige pandemie nie net gesien word as maar nog n geīsoleerde gebeurtenis wat heel gewoon periodiek oor die wêreld neerdaal nie. Dalk is dit eerder n simptoom van n veel eenstiger “siekte” wat dieper lê. Om daardie siekte te probeer peil, eis dat moeilike vrae gevra word. Soos vrae oor die oorsprong van die virus, oor politieke magspel, oor manipulasie, oor die kultuur van oordaad en natuurvergrype…….Nee, nie in terme van sg sameswerings-speletjies nie, maar in terme van feite en die samehang van gebeure. Mens kan jou so… Lees meer »

PETRO

Amen! Give this man a Bells! Wat n ongelooflike begaafde man, met soveel insig vir iemand van sy ouderdom. Ek voel presies nes hy, nou is die tyd vir ons om saam te staan en ons pad na God terug te vind. Daar is letterlik vir ons niks anders om te doen nie. Stay safe people!