Chris Chameleon: ʼn Gevangene op jou oudag

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ouma is nou al 84 jaar oud. Sy’s helder van verstand, haar wange is pienk en die vuur wat haar lewe lank reeds woed teen die blus, gloei nog agter wakker oë.

Ek wonder al jare oor hoekom my vriende hulle ouers in ʼn stadium Ouma en Oupa begin noem en na dese weet ek self waarom. Om jou ouers Ouma en Oupa te noem lyk taalkundig na ʼn veroudering, maar is eintlik ʼn belegging in hulle jeugdigheid, want die nuwe doel, die nuwe betekenis van indirekte voogdyskap oor ʼn pasgebore mensie het ʼn verjongende uitwerking op ʼn bejaarde.

Soos jasmynbloeisels wat elke jaar die geheue terugbring na grepies uit die lente van dekades gelede, roep die waarneming van elke nuwe tree, tande kry, eerste woordjies en die fassinasie met dinge wat reeds doodgewoon geword het vir die deurwinterde ouergarde herinneringe op wat die lyf en gees terugneem na ʼn tyd van groter drang en dringender krag. Die lewenslus van sin, doel en betekenis verwissel die rat van reeds jare se gang laer, na die opwinding van ʼn hoër omwenteling.

Ek haak die twee ton beeswa op die plaas en sak met die platorand af. Ouma het reeds maande gelede verhuis om nader aan ousus te woon, maar was sonder meeste van haar meubels en besittings terwyl die familie die kat uit die boom gekyk het met die volhoubaarheid van hierdie skuif.

Maar toe tref die ongeluk: nuwe grendelvereistes word afgekondig en nou is Ouma ʼn gevangene in die aftreeoord. Die bedeling daar het nou weinig om dit te onderskei van ʼn korrektiewe instelling. Indien ouma die perseel wil verlaat, moet sy eers ʼn grondige rede verskaf en, indien dit goedgekeur word, haar bestemming verklaar en ʼn vrywaringsvorm teken. Met haar terugkoms moet sy dan vir tien dae isoleer in haar wooneenheid, sonder enige kontak met vriend of vreemdeling.

Ouma was nog nooit een vir vinnige vriendskappe nie. Haar lewensverhaal is een waarvan die lot haar telkens groot pryse laat betaal het vir maklike vriendskappe en dis nou makliker om bo aan die waglys vir ʼn nuwe Bugatti te kom as in Ouma se binnekring. En daarom het sy nog nie vriende in die nuwe plek kon maak nie, want ná die tien dae kwarantyn raak die kajuitkoors so oorweldigend dat sy weer begin make maak om weer te ontsnap. Die oord owerhede se rug het nou ook al styf geraak vir hierdie 84-jarige tienerrebel en dit raak al moeiliker om uit te kom. In beginsel hoort sy daagliks te kan kom en gaan, solank sy elke dag haar kwarantyntydperk opnuut begin, wat basies beteken dat sy net geen kontak met die ander bewoners mag hê nie (sy woon in ʼn alleenstaande huisie in die oord), wat opsigself vir haar geen probleem sou wees nie.

Intussen raak die familie al hoe meer verergd en gefrustreerd. Ons kan ons hare uit ons koppe trek oor die situasie.

Die groot bekommernis is egter Ouma se welstand.

Ouma was op laerskool tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Ouma het die kom en gaan van Apartheid en faksmasjiene gesien.
Ouma het die eerste maanlanding beleef, die eerste atoombom.
Ouma het die son sien sak oor die Britse empaaier en die Sowjet-Unie.
Ouma het Ben Hur en Easy Rider as nuwe vrystellings in die rolprentteater gaan kyk.
Ouma was al te oud om van die Beatles te hou toe hulle verskyn het.
Ouma het die polio-pandemie oorleef.

Ouma is slegs een vier-en-twintigste van die tyd sedert Jesus Christus se geboorte oud. Slegs een vier-en-twintigste!

En nou, ná al hierdie dinge, ná al hierdie seisoene, is sy nou in die winter van haar lewe ʼn gevangene, meer onskuldig as Nelson Mandela. Die gevangenisskap vreet aan haar gees en aan haar gesondheid soos ʼn boorwurm aan ʼn statige ou huis.

Die gawe kant van ouderdom is dat dit jou voorberei op die dood. Die verskriklikheid van die dood word versag deur die las van jare. Die lewe word so moeilik dat die dood al hoe meer welkom lyk en uiteindelik kom, nie soos ʼn dief in die nag nie, maar soos ʼn verlosser.

Meer as agt dekades se winters kon dit nie naastenby aan Ouma doen nie. Haar onblusbare lewenslus het die dood nog altyd uitgelag.

Tot nou toe.

Gisteraand, oor die telefoon:

“Chris, ek kan hierdie gevangenis nie meer verdra nie. Ek wil liewer dood wees.”

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
maggie

So ‘n hartseer stuk – dit breek my hart

Anel

Dit is so hartseer. My ouers, pa amper 90 en ma 84 woon gelukkug nog in hul eie huis. Hulle kan kom en gaan soos hulle wil en ons kan hulle besoek en kuier soos ons wil. Ek weet nie wat ek sou gedoen het as hulle nou in ‘n aftree oord moes wees nie. Wat vir my die ergste van daardie plekke is, is dat die inwoners soos gevangenis aan gehou word, MAAR die klomo wat daar werk kan kom en gaan soos hulle wil. Geen isolasie as hulle elke dag van waar af al kom om te gaan… Lees meer »

Trotse Boervrou

Wanneer ek met “ouma” praat en sê sy klink so jonk dan sê sy dit is omdat sy nog 16 is. Sy sê aftree-oorde is vir oumense. Let wel, ouma is 90 jaar oud! Haar stem is helder en sy kook nog elke dag. Sy doen haar dagtakies self, was wasgoed ens. Wanneer ek na Chris luister dank ek God dat my gryse “16-jarige” ou moeder nooit na ‘n aftree-oord gegaan het nie. Sy sou ook, soos Chris se ouma, dit nie meer kon hanteer nie en dood wou wees. Chris, ons bid vir ‘n uitkoms vir jou ouma. My… Lees meer »

VaalDonkie

Ons is op hierdie einste oomblik besig om ‘n huis te koop waar daar plek is vir al die oupa’s en ouma’s om saam met ons te bly. Daar is niks beter vir ‘n jong kind om tussen al die ouers en grootouers groot te word nie.

JohannaC

My ma is oorlede in hierdie tyd in ‘n versorgings oord…dit vreet aan mens dat hulle alleen is en verwerp moes voel …en dan so moes sterf… Maar in dit weet ek Sy is by die Here en kan sien wat nou in die wêreld aangaan… Chris, gee haar vir die Here..Hy is altyd by haar…sy is nooit alleen..