Chris Chameleon: ʼn Mens mag seker droom?

Chris Chameleon (Foto verskaf)

In 1988 het ek en 29 ander wit skoliere saam met 30 swart skoliere met die befondsing van die Amerikaanse rekenaarmaatskappy Unisys ʼn (destyds onwettige) treinrit van Johannesburg na Durban, na Richardsbaai en terug Johannesburg toe onderneem. Dit was een van die mees verhelderende ervarings van my jong lewe en ons toere deur die townships, myne, hawens, nywerhede en gedeeltelik selfregerende tuislandregeringskantore het deure van gedagtes en gevoelens in my oopgemaak wat nou nog op my alledaagse lewe en denke betrekking het.

Ons is toegespreek deur mense wat diep in die loopgrawe van die struggle verkeer het en aan ons tienerverstande is, vanuit ʼn nie-onpartydige oogpunt, die UDM, ANC, Cosatu, SAKP, Inkatha en die Nasionale Party-regering verduidelik. Tydens ’n lesing het een van die sprekers ʼn vergelyking gebruik wat destyds ʼn diep indruk op my gemaak het. In reaksie op ʼn vraag oor die gebruik van geweld teen die regime, het hy verduidelik dat wanneer iemand met ʼn swaar stewel op jou nek staan en nie laat los nie, jy eers sal wikkel om los te kom, maar as jy nie daarin slaag om jouself te bevry nie, jy later sy been met geweld van jou nek gaan moet afkry.

As ek ’n idioompie mag skep: wie hom doof hou vir praat, spits sy ore vir daad.

In hierdie opsig vind ek die effense, relatief bedeesde geweld tydens die eerste optog in Senekal (ek was daar) hoegenaamd nie buitengewoon binne die historiese konteks van die stryd om vryheid teen onderdrukking, asook die stryd teen lewensbedreiging in Suid-Afrika nie. Om die waarheid te sê, ek is geruime tyd al verbaas oor die geduld en beskaafde verset wat so lank reeds bedryf word deur Suid-Afrikaanse boere. Ek was tydens die tweede optog vanuit die Kaap op die lang pad terug noorde toe, en het, soos my roete loop, om ses uur daardie aand deur die met-vullis-besaaide strate van Senekal gery.

En tog het ek my eie idees oor die benadering tydens die tweede Senekal saamtrek, asook moontlike toekomstige sametrekke. Gun my asseblief ʼn verduideliking.

My belangstelling in die geskiedenis is sterk gekweek in die 1970’s, in ons woonstelletjie in Johannesburg deur kinderlike verdieping in die Kinders van die Wêreld-boekereeks. Sedertdien is ek blootgestel aan oorlog in verhaalkuns (Tolstoi se Oorlog en Vrede), in religie (die Bybel), in-diepte selfstudie (Joegoe-Slawië), gesprekke met betrokkenes in oorlog (Rwanda en elders) en natuurlik op al hierdie en nog meer maniere in Suid-Afrika. En van alles wat ek nog ooit oor oorlog verneem het, vind ek die mees insiggewende verwysing die 2 500 jaar oue geskrif van Lao Tzu: Die Kuns van Oorlog. Ek put my mening van wat ek as die regte benadering tot Senekal beskou grotendeels uit die wysheid in hierdie boek.

As ek dus vir ’n dag koning van die boere was (lag maar lekker, ek lag saam met jou!), sou ek die volgende doen:

Vermy Senekal. Brendin is dood. Die reg sal, na regte en/of onregte sy gang gaan. Om in die bek van die leeu in te stap is onwys en Lao Tzu leer ons dat jy waarskynlik sal verloor en, indien jy die oorwinning behaal, jy dit nie sonder groot verliese sal behaal nie.

En Senekal is ʼn leeu se bek – die regering het sy lojaliteit getoon in sy gretigheid om die probleem te ontken, die gereg het haar blinddoek afgehaal soos te sien in die verskille in die hantering van rassisme en haatspraak na gelang van die demografiese eienskappe van die beskuldigde. Die bevolkingsyfers bepaal wetenskaplik wie die minderheid is en wie die meerderheid is en dis daar waar die deugsaamste bedoelings van demokrasie deur die tirannie van die meerderheid ontdaan gemaak word. As ʼn mens regtig wil oorlog maak, kan sommige van hierdie probleme te bowe gekom word, maar die wil tot die stryd is nog nie sterk genoeg nie, soos daar selfs hier in my boeregemeenskap getoon is deur ʼn stoere boere politieke leier in sy herhaaldelike afraai van deelname aan die optog in Senekal.

Teen hierdie agtergrond, is die goue graal van taktiese verset ʼn byeenkoms op privaat grond, op ’n boer se plaas buite die dorp. Sodoende kan reg van toegang voorbehou word om ʼn konsentrasie van bondgenote te verseker en die vertroebeling van vyandiggesindes uit te skakel.

Reeds 182 jaar het verloop sedert die gelofte by Bloedrivier en die datum is sedertdien deur die owerhede herdefinieer. Die ironie is dat die juiste rede vir die 1838-gelofte ʼn blindelingse in-die-leeu-se-bek-gestappery was deur Piet Retief en sy manskappe. Die gevolge vir man, vrou, kind en werker was fataal. Dis tyd vir ʼn nuwe gelofte, ʼn nuwe onderneming. As ek ʼn onpartydige, sterk stem met ʼn hart direk by die saak betrokke moes kies om die gelofte te lei, sou ek Adam Tas kies (ʼn mens mag droom), en ek sou dit só bewoord:

Hier staan ons voor die Heilige God van die hemel en die aarde, om ʼn gelofte aan Hom te doen. Dat as Hy in ons ʼn band van eenheid sal vestig, ons soos een stem uit een hart sal roep oor alle vlaktes, oor alle berge, deur alle dale en tot in elke huis, sodat almal wat dit hoor sal weet dat ons ons grond, ons familie, ons geloof en onsself sal verdedig in die Naam van ons God. En dat as Hy ons beskerm en ons voortbestaan in hierdie land sal verseker, ons die dag en die datum elke jaar sal herdenk en opnuut sal roep en met groot geluid sal uitbasuin sodat die wat dit nog nie gehoor het nie sal weet en die wat vergeet het, herinner sal word.

Só ʼn byeenkoms sal ek bywoon, en ek sal soos ʼn manskap van Gideon van ouds op ʼn horing blaas (nie ʼn vuvuzela nie!) en ʼn kruik op ʼn klip breek.

Nou ja, ʼn mens mag droom…

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janine

Baie dankie, Chris Chameleon. Ek wens uit my hart dat elke groep/beweging/persoon, saam sal staan. Nie ‘n groepie hier en ‘n groepie daar nie. ALMAL wat vir dieselfde ding baklei, SAAM. Ons is alreeds net ‘n handjievol. Om in verskillende kampe te wees, maak als net moeiliker. Saam staan. Dis wat ons nodig het!

MADELEIN

Wow…wat ‘n mooi uiteen gesette skrywe….En die gelofte soveel meer. Ons krag le juis in ons geloof en ‘n eenkeer van tevore gelofte waar God ons genadig was.

eb09

ons mag droom ne…..”uit die leeu se bek” ……….of nie