Chris Chameleon: ʼn Ode aan die reuse

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Faans, Leon, Douw… hulle was almal reuse, in een of ander jaar die langste, die grootste ouens in die klas saam met my. Ek was meestal onder die drie kleinstes. Die heel kleinste outjie was altyd sag, vriendelik, ʼn lammetjie, maar van die tweede kortste outjie af opwaarts was dit anders. Die meeste aggressie het ʼn mens onder die net-net-nie-te-groot-nie ouens gekry, ouens soos Pieter, Ryk en Wouter. Mannetjies kort van beide portuur en draad en dikwels toebedeel met ʼn venynige ambisie.

Of ʼn mens nou glo dat die man werklik bestaan het of bloot ʼn mitologiese figuur was, die werklikheid van die invloed en nalatenskap van Dawid van die Bybel is eg, tasbaar en enorm. Toe Samuel, op die bevel van God, na Isai gestuur is om die volgende koning van Israel aan te wys, het hy al die seuns onder oë gehad. Dawid se ouboet Eliab was, te wyte aan ‘sy voorkoms en hoë gestalte’ volgens Samuel se oordeel pure perd, maar die Here het hom laat weet dat hy hom misgis, dat die mens dit wat voor oë is raaksien, maar dat Hy wat God is, die hart aansien.

Uiteindelik was nie een van die seuns die een nie. Samuel vra toe of daar nog ʼn seun is waarop hy meegedeel word dat ‘die kleinste’ nie hier is nie, dat hy skape oppas. Nou ja, die res is geskiedenis. Dit word toe hierdie einste kleinste wat die grootste koning van Israel geword het.

Maar wag, ek het dit hier mos eintlik oor reuse. Seker die bekendste reus van die Bybel is Goliat van Gat. En dit is ook so dat Goliat min of meer die inleiding van Dawid se politieke opgang teweeggebring het. Die ses el en ʼn span wat aan sy lengte toegeskryf word is in vandag se mates 290 cm, oftewel 9 voet ses en ʼn half duim. Dis met ander woorde ʼn halwe deurhoogte langer as Bakkies Botha.

Die langste gemete man in moderne geskiedenis was Robert Wadlow, wat ten tyde van sy dood in 1940, 272 cm lank was. As ʼn mens op die internet kiekies van hom gaan kyk, is sy lengte, vergeleke met gewone mense, verbysterend. Maar daar is iets fout. Hy staan nie so lekker nie. Byna altyd effe gebukkend, met ʼn kierie. Kyk jy op YouTube hoe hy loop, is dit altyd ʼn langsame, moeisame tog. Want sien, Robert het, soos byna almal langer as 230 cm, gely aan akromegalie, ʼn toestand wat dikwels gepaard gaan met kifoskoliose, die pynlike kromtrekking van die rugwerwel. Akromegalie is ʼn toestand wat veroorsaak word deur ʼn oorstimulasie van die pituïtêre klier wat te veel groeihormone afskei. Die komplikasies, benewens fenomenale groei, is artritis, hartversaking, nierversaking, kolorektale kanker, diabetes, okulêre chiasme en oortollige sebum-afskeiding. Hierdie reuse word dikwels nie oud nie en leef meestal tot en met hulle dood in ongemak. Vandaar dat hulle ook byna altyd sagmoedig is – pyn is ʼn leermeester van lankmoedigheid, meegevoel en ʼn sagmoedige benadering.

Goliat het veertig dae lank, elke oggend opgestaan en die Israeliete elke dag, heeldag uitgedaag. Goliat was ook nie beskeie in sy uitrusting nie: ʼn enorme koperhelm op sy hoof, ʼn pantser van skubbe met ʼn massa van 5 000 sikkels (ongeveer 50 kg), skeenplate van koper, ʼn koperlans tussen sy skouers, ʼn spies met ʼn steel ‘soos ʼn wewersbalk’ waarvan die punt 600 sikkels (sowat 6 kg) geweeg het asook die swaard waarmee Dawid hom uiteindelik onthoof het.

Goliat was ʼn goeie skuif deur die Filistyne. ʼn Formidabele intimidasietaktiek, ʼn lang, uitgerekte beleg waarin nie een soldaat geval het nie, maar waartydens die Israelitiese opposisie se selfbeeld elke dag gekasty is. Maar ek dink daar was meer as wat die oog opval.

Want in die lig van die algemene lot van die grootste kêrels, sien ek ʼn akromegaliese reus wat in die versengende hitte van Kanaän op sy tande kners om nie die rugpyn van sy kifoskoliose, onuithoubaar vererger deur die allemintige pantseruitrusting en die feit dat hy heeldag op sy voete moet staan, te verraai nie. Sy hande bewe van die artritis wat sy lans heeldag vashou. Sy ingewande pyn dalk reeds van die steeds groeiende kanker. Sy niere pyn omdat hy in die hitte dehidreer en nie water kan drink nie want dan moet hy óf urineer voor twee leërs, of stadig, moeisaam wegstap na die naaste boom, terwyl die karbonkels op sy gesig onder die helm in die hitte steeds groter, seerder uitswel.

ʼn Subtiele aanduidinkie van sy onvermoë om die las van sy bravado self te dra is die skilddraer, wat elke dag, heeldag, Goliat se skild voor hom moes uitdra.

Die leërowerstes van die Filistyne het hom gekies, welwetende dat hy nooit werklik sal kan veg nie, maar dat hy hom kan gebruik in die aanloop tot die uiteindelike stryd teen ʼn geïntimideerde opponent.

Wanneer ek hierdie prentjie van Goliat skets, kry ek die arme man bitter jammer. ʼn Sagmoedige reus wat nie eens sy pa se skape kon oppas nie, maar wat maar tuis in pyn moes sit en help om koring te stamp en kos voor te berei. En toe sien hulle hom raak, pak hom toe met pantser en sit hom in die voorste linie as ʼn pion in ʼn groter stryd tussen nasies. Uiteindelik lê hy daar in die dal van die terpentynboom, sy kop af, sy liggaam lank en slap, die kraaie swewend, koggelend oor sy enorme karkas. Slaap rustig, ou grote.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae