Chris Chameleon: ʼn Pa se swaai

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Vadersdag is maar iets wat ʼn man gewoond moet raak. Ek het so pas my tweede beleef en dis nie maklik nie. Eerstens, ek weet hoe ek my vrou met Moedersdag effe afgeskeep het – nie omdat ek gemeen is of so nie, maar net … wel, ek kan nie eintlik partytjies of bederwe reël nie.

Vroulief verstaan egter van dinge spesiaal maak. Sy kan ʼn ditjie hier en ʼn datjie daar aanmekaarflans op so ʼn manier dat dit baie gesellig is of baie lekker smaak. Ek kan nie daarmee kompeteer nie en my Calvyns-geïnspireerde sin vir geregtigheid sal dit dan so verkies dat sy niks vir my doen nie, sodat ek niks vir haar hoef te doen nie en my gewete op Vadersdag kan rus.

Maar dan is dit so dat sy regtig baie hou van die spesiale dingetjies doen en my Vadersdag begin dus met ʼn skuldgevoel.

Ewe skuldig bly ek dan maar in die bed en wag vir koffie. Later kom die plaatkoekies met vrugte en fynbosheuning soetspek en nog ʼn koffie. Lente, nou reeds 19 maande oud, kan sien dat hierdie ʼn spesiale dag is waar die aandag op pappa is, en sy kyk my met bewondering aan en kom lê haar kop op my bors vir ʼn volle vyf sekondes, omdat ek nou so spesiaal moet wees vir watter rede ook al.

My stêre begin jeuk vir iets om te doen. Ek het nie koffie gemaak nie (dit, en die skottelgoedwasser inpak is die enigste dinge wat ek ooit in ʼn kombuis sal doen), ek is uitgesoet en versadig. Ek besluit om nie gesig te was of te strek of my oefeninge te doen nie want ek mag mos lui wees.

Ek bel ʼn pel, om te hoor of hy wil gaan teiken skiet; hy kan nie – sy vrou het ook een of ander ding gereël.

Eergister het ek vir die lekbak ʼn tipe sleeskoenpatent aangesit sodat die dominante koei hom nie meer kan omtiep nie, so dis ook al gedoen. Gister was dit ʼn kilometers verre wandeling in die berge en tot op die hoogste kruin waar ek tot diep in volgende week kon inkyk.

Ek begin al wens dat ons tog maar Springs toe gery het om Frans Swart se Vadersdaggedoente by te woon.

Met Lente speel ek, maar dit doen ek tog elke dag.

En dan gebeur dit in die middag. Die gees vang my en ek gaan snuffel in die garage rond en kry die plank wat sal werk. Kragpunt word gereël en gereedskapskissie kom uit. Tou, ja tou, is ook belangrik. Saag die plank reg, skaaf hom, rond die hoekies effe af sodat niks sal haak nie. Boor vier gate, ryg, knoop. Gaan haal die leer.

Die rigting vir die beste uitsig het ʼn tak, maar hy’s nie dik genoeg nie. Ook … as kind het ek ʼn paar keer aan ʼn swaai geswaai waarvan die twee toue waaraan die swaai hang, nie op gelyke hoogte vasgemaak is nie en ek het myself destyds al belowe dat ek nooit, nooit so ʼn swaai sal maak nie want dis nou vir jou ʼn irriterende patent.

Ter wille van veiligheid maak ek hom aan ʼn ander tak vas – ʼn takie wat ook maar ʼn herhaaldelike meet en pas en toets en verstelling verg. Uiteindelik hang Lente se swaai.

Ek gaan haal haar en my van-nature-effens-skeptiese dogter betrag die situasie, babbel ʼn sin of twee wat, hoewel in haar eie taal, volkome vertaalbaar is en in Afrikaans lui: “Dit lyk mooi, Dada, kom ons probeer nou die affêre!”

Ek sit haar in, wys hoe om vas te hou en benadruk hoe belangrik dit is. Aanvanklik stadig en beskeie, maar stelselmatig al hoe hoër, al hoe meer uitdagend swaai sy, swaai ek haar.

En dan doen sy daardie ding waar sy so in die middel van die dag die maan raaksien (die kind is regtig met die maan gepla) en met ʼn opgewonde vingertjie daarna wys en juig: ‘Maaaan!’

Maar daardie vingertjie is aan ʼn hand vas, ʼn hand wat die tou moes vashou.

Sy val agteroor, koppie op pad grond toe. Die ding wat maak dat pappas op die regte tyd op die regte plek is om kalamiteite te voorkom gebeur en ek vang haar kop onderstebo, sentimeters bo die grond. Sy kyk my verskrik aan, oorweeg dit om van die skrik te huil, ek maak ʼn grap en ons beide slaaklag dan maar van verligting.

Die swaai is ʼn sukses.

Binne gekom, skuins voor aandete, lees ek die boodskap wat my halfsuster, die een wat ek na skool ontdek het, vir my aanstuur. Sy het op Vadersdag ʼn bietjie in die ou laaie gaan krap en ʼn brief, deur my pa geskryf, gekry, waarin hy vertel dat hy op sy verjaardag in 1974 vir my en my suster gaan sien het. My pa, vir wie ek glad nie kan onthou nie en vir wie ek nooit geken het nie, maar vir wie ek altyd lief wou wees.

Dit was die laaste keer dat ek hom gesien het.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Prit ·

Dankie vir die lekker lees, altyd n plesier om Chris se stories te lees.

Coenraad ·

Net so en ek verlang na Verkykerskop en dink aan my oom wat geen kind by hom het met vadersdag nie, want hulle sit in ‘n ander land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.