Chris Chameleon: ʼn Plan vir ʼn vriendeliker Suid-Afrika

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

Met ʼn vonkel in my oog word ek soggens wakker. Die stappie na die koffiemasjien geskied met ʼn veerkrag in my gang terwyl my vrolike gefluit saam met my geveerde sanggenote buite die kombuisventer kleur en klank aan die dag se heerlike vooruitsigte verleen.

Die koekie (O! Ek is lief vir ʼn koekie!) by die koffie gaan af met ʼn slaak van gemoedelikheid en die wete dat ek in ʼn lieflike wêreld vol mooi mense, goeie dinge en afwagtende potensiaal leef gedurende een van die mees dinamiese en opwindende tye in die mensdom se geskiedenis.

En dan maak ek die eerste webblad op my sosiale media oop en ʼn naakte naarheid van wêreldse gruwels stort oor my blommetjiesbestaan soos ʼn vyftonvrag hondedr*lle en reën drek neer oor hoop, liefde, geduld, meegevoel en naasteliefde.

Woordskermutselings, aggressie, nuus van geweld en dreigemente skiet oor en weer en al wat ʼn niksvermoedende strompelaar in die spervuur voorstel, ontkom vermink en met ʼn hersiende beskouing van diens medemens. As wit Afrikanerman voel ek my gehaat, geteiken, gekwets en word ek met die versekering toebedeel dat ek wakker moet slaap want die lemme in die skadu’s om my wag glinsterend en oorgehaal buite hul skedes. Haal ek myself vir ʼn wyle uit die stryd, merk ek hoe vroue, kinders, swart mense, linkses en regses almal voldoende stof tot soortgelyke bedreiging kan put. Ons het ʼn mensdom van stekelrige ystervarke geword wat smag na liefde en aanraking maar die weg deur die wildernis na mekaar toe met penne orent en uitgesteek wandel (ek weet dat ystervarke uiteindelik, nugter alleen weet hoe, paar, maar dis my allegorie om mee te maak soos ek wil).

Van nature ʼn praktiese filosoof, vra ek myself af: Self, wat kan gedoen word?

Vanuit my meelewend sosiale aard vra ek myself af: Self, wat kan ek doen?

Die vrae spook by my. Tydens my gang deur die dag se gebeure vermy ek soms oogkontak wanneer ek voel dat daar ʼn interpersoonlike atmosfeertjie is wat tot ontsteltenis kan lei, hou ek asem op wanneer ek deur wildvreemdes uitgedaag word en byt ek op my tong wanneer ontoereikende beskaafdheid getoon word.

Wat kan gedoen word?

Wat kan ek doen?

Teen middagete loer ek gou weer op sosiale media en daar sien ek hoe Steve Hofmeyr homself vies uitlaat oor een of ander saak. Ek het nooit van Steve gehou nie. Wel, ten minste nie tot 2006 nie. Daar kuier ek hom toe een aand raak. Ons raak toe vir drie uur lank in mekaar se geselskap ingesuig en sedertdien voel ek dat ek hom verstaan. Soos my verloofde dit stel: wanneer hy met jou praat, praat Steve met jou asof jy die enigste mens op daardie oomblik op aarde is. Dis ʼn besondere gawe, om só betrokke te wees by gesprekke met vreemdelinge.

Sedertdien is ek van mening dat die mense wat nie van Steve as mens hou nie, mense is wat hom nog nie ontmoet het nie. As jy ooit eenmaal sy teenwoordigheid en geselskap persoonlik beleef het, gaan jy dink hy’s ʼn gawe ou, dis nou maar wors.

En dan kom die deurbraak, skuins na middagete. Hoera! Ek weet skielik wat ek kan doen om Suid-Afrika ʼn vriendeliker, minder haatlike plek te maak waar mense soos op televisiereklame vir mekaar glimlag in broederlike gemoedelikheid! Ek pirouette in die voorhuis en strooi blomblare en confetti onder die begeleiding van Vivaldi-fluitsolo’s in reënboogkleurige pretsirkels om my heen. (Wel, nie regtig nie, maar dis my storie om mee te maak soos ek wil.)

Dis eenvoudig: een maklike ding en een moeiliker ding. Die moeiliker ding is om Julius Malema by my huis te kry en aan ʼn stoel in my huis vas te bind. Die makliker ding is om Steve oor te nooi vir ʼn kuiertjie. Wanneer Steve oor die drempel trap, dan vang ek hom ook met ʼn tou soos ʼn cowboy en bind hom langs Julius vas.

En dan gaan doen ek tuinwerk vir ʼn paar uur voor ek terugkom en vir Julius en sy nuwe boesemvriend dan weer loslaat op ʼn voortaan vredeliewender Suid-Afrika.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Chris, jy en oom Steve kan enige tyd by my kom braai.
Vir julle maak ek die beste braaibroodjies in SA (my vriende se top 3).
Julle laat my as Afrikaner man nie so alleen voel is hierdie land wat se leiers my die skuld gee vir alles wat hulle nie kan doen nie.

Manie ·

Die enigste hoop vir ;n vriendelike land is ‘n land van ons eie. VF+ gaan foort met selfbeskikkingsgesprekke, ons maak staat op julle.

Ella ·

Ek het met groot verwagtig gelees, Chris.
Wat gaan jy doen om dinge te verbeter???

Die einde is bietjie vreemd maar vermaaklik en dit sal nogal n prestasie wees im daai twee in een huis te kry.

Goed geskryf dankie.

Anoniem ·

Oe! Ek sal graag ‘n vlieg teen die muur wil wees terwyl jy tuinwerk doen!

Chris ·

Daar is vier miljoen witmense in SA en al 50 miljoen swart mense. Sorry die enigste manier vir ‘n vriendelike land is om soos Israël jou eie land te stig en ‘n muur te bou. Mens kan nie met soveel volksvreemde mense vreedsaam lewe nie. Multikulti dop tans orals die toets wêreldwyd. Dit kan nie werk nie want verskillende kulture het verskillende doelwitte. Julle werk nie saam aan een doelwit nie so multikulti kan nie werk nie. Punt.

Boerseun ·

Korrek! Selfregering in ‘n eie vaderland is al opsie.

Afrikaanse Knaap ·

Ek trek more en bou daai muur self, baksteen vir baksteen, sonder ophou.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Afrikaanse knaap jy praat so na ‘n man se hart.Waar gaan ons begin met die muur?

Johan ·

Waarheid, Chris. Ek kan net een ding ook byvoeg: mense wat nie van Steve hou nie lees te veel Huisgenoot en glo en aanvaar alles daarin as die volle evangelie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.