Omdat ek in ʼn natuurreservaat woon, kry ek selde geskiet. Ek sou graag soggens opstaan en gou 20 skote op ʼn teiken voor ontbyt wou afvuur, maar dit kan helaas nie. In die weke voor ʼn jagtog, moet ek maar ʼn paar keer by Johannes op ʼn plaas 20 km van my af gaan sneller trek.
Daar is nader bure, ook met skietbane (ons hou van lood in die Vrystaat), maar daar is ʼn goeie rede hoekom ek my bakkie se veerstelsel by die Bobbejaanspas af folter om by Johannes my korrel te gaan vind. Sien, Johannes is bekend as die beste skut in die kontrei (sy trofeëversameling beaam hierdie status ook op nasionale vlak).
En as die skietding ooit nie vir Johannes uitwerk nie, kan hy maar gaan onnie of afrigter word, want hy het ʼn manier om ʼn mens touwys te maak sodat die kennis soos klitsgras op ʼn skaap se woljas aan jou kleef.
Ek vermoed egter lank reeds dat dit om selfs meer as dit gaan – dat die blote teenwoordigheid van my skerpskuttervriend op ʼn manier ná ʼn skietsessie aan my kleef en my verbeter op maniere wat nie slegs oefening-gebaseerd is nie.
Dis effe metafisies, maar as my nugter, syfermatige, risiko-averse makelaarskennis Jean-Pierre op hierdie soort esoterika inkoop dan kan dit tog sekerlik nie heeltemal twakpraatjies wees nie?
Jean-Pierre het eenmaal ʼn astronomiese bedrag betaal om vir Warren Buffet in lewende lywe by ʼn konferensie te gaan beleef. Ek het hom destyds gevra hoe hy daardie onkoste kan regverdig, waarop hy geantwoord het dat die fisiese teenwoordigheid van daardie groot gees genoeg is om ʼn mens toe te lig op maniere wat nie deur video’s of opstelle moontlik is nie. ʼn Vinnige oorsig van sy beleggingsuksesse ondersteun hierdie opvatting.
Briljante mense, die helder sterre in hul vak, straal iets uit wat deur diegene wat bloot tydelik in hul dampkring vertoef opgeneem word en vergestalting vind in die relatiewe uitnemendheid van die aangeraaktes.
En met ʼn lang draai kom ek nou eers by my punt uit: Ek lees meer.
Ek was as kind baie lief vir boeke. Hulle was die onbeperkte tuie waarin ek op my verreikende reise uit die woonstelletjie van my Johannesburgse jeug ontvlug het. In hulle blaaie het ek verdwaal, oor hulle paragrawe het ek gesweef en op hulle laaste bladsye gesterf, om weer in die geur van ʼn nuwe boek my feniksvlug te hervat.
En dan kom skool waar daar skynbaar hard gepoog word om ʼn mens se liefde vir boeke te verwring (engele soos juffrou Westerberg het darem haar deel gedoen om die liefde te onderhou). Daarna het die stormagtige twintigs my geen tyd gegun vir boeke nie, waarna die dertigs deur ambisie verslind is, wat in jou veertigs die wilde rit word op die perd wat jy opgesaal het om redes wat jy intussen reeds vergeet het. Voeg daarby die koms van sosiale media se gierigheid vir elke spaarsekonde van jou aandag en jy vind dat jou oë in 2020 vir lees net so moeg geword het soos jou hande vir skryf met ʼn pen.
Sosiale media het die verdere nadeel dat, wanneer dit jou wel laat lees, dit jou beperk tot 280 lettertjies op Twitter, óf ʼn kiekie op Instagram óf die perke van jou buurvrou se literêre vaardigheid terwyl sy uitvaar oor die pap koeksisters van die plaaslike tuisnywerheid. ʼn Paar jaar daarvan later en enigiets langer as die gebruiksaanwysings op ʼn sjampoebotteltjie lyk soos ʼn roman van Tolstoiaanse omvang.
En dan gebeur die volmaakte storm van ʼn irritasie met die kuberruimte, ʼn seevakansie en ʼn rak vol van die beste verhale van alle tye, geskryf deur die meesters van die skryfkuns uit alle wêrelddele. Die kleur kom terug en verhelder jou siel. Jou gedagtes verskerp terwyl jou insig verbreed. Jou verbeelding kry weer oefening en skud die versmorende vet van ʼn kitsleesdieet af. Jy praat met die vrou by die tweedehandseboekwinkel op die kusdorpie in taal wat raakvat en soek nie meer na woorde om jou gedagtes vryelik te uiter nie.
Jy het aan die boeke geraak.
Hulle deug het aan jou afgesmeer.
Jy is deur die dampkring van grootse taalvaardiges verryk.
En nou korrel jy jou gedagtes sekuur en woordpatrone vuur af op die fyn teiken van jou bedoelings.
En jy staaf jouself in kolskote.
Sjoe, maar jy skryf diep dinge vandag, Chris Chameleon. Ek sal weer moet gaan lees om mooi te verstaan wat jy sê. Die wonder van woorde. Dankie.
Voorbeelde wat voorbeelde volg…enigste manier om hierdie onoordraagbare kennis op te neem en oor te dra.
Baie mooi geskryf Chris!
Pragtige vergelyking met die sekure afvuur van geweerskote en woord skote! Ek het die artikel werklik geniet en gewens dit was langer.