Chris Chameleon: Om te weet wanneer om op te hou

Chris Chameleon (Foto verskaf)

“Maar, het jy nog iets om te sê?”

Conrad leun agteroor in sy sitplek aan die tafeltjie waarby ons gepeusel het voor die vertoning, skynbaar onbewus van die trefkrag van sy stelling.

Ek het grootgeword met die wete dat John Wayne die ubercowboy was. Sinoniem met onverbiddelike taaiheid en behendige, oordeelkundige geweld, was sy naam waarskynlik oor die grootste deel van die Westerse beskawing huishoudelik bekend.

En tog het ek nooit ʼn enkele film van hom gesien nie. Toe ek uiteindelik daarby uitkom, was dit The Shootist.

In hierdie, sy laaste film, speel hy ʼn ou man (nes hy in die regte lewe was) wat steeds oor sy behendigheid met sy vaardigheid beskik (nes in die regte lewe met sy toneelvernuf), hy ly aan kanker (ook soos in die regte lewe) en word uiteindelik aan die einde van die rolprent doodgeskiet (hy is ook, nie lank na die verfilming nie, aan kanker oorlede).

Die rolprent was gans te saai en volwasse vir my sesjarige self. Ek kon nie verstaan wat die groot bohaai oor John Wayne eintlik was nie en sou eers jare later sy werk retrospektief begin waardeer.

En dis hieroor dat Conrad en ek gesels het, ʼn jaar of drie gelede, voor ʼn vertoning in ʼn restaurant. Ons het gesels oor al ons gunstelingmusikante van die 70’s en 80’s, die stemme en die boodskappe wat ons Sturm und Drang-jeug in musiek verwoord het. Ons het gepraat oor hoe baie van daardie kunstenaars nog steeds aktief is, maar, waar hulle in die 80’s in stadions gespeel het, die aanvraag mettertyd getaan het om slegs arenas te vul en nog later klubs.

Ons het agtergekom dat ons self kontak verloor het met ons gunstelinge, dat ons nie hulle latere werk bly volg het nie, dat ons nog steeds luister na die werk wat hulle in die 70’s en 80’s geskep het. Die ironie is dat ons, as gehoor dus selfs meer in die verlede vasgesteek het as hulle.

En so is die lot van rugbyspelers en musikante. Daar is enkeles, heel weinig van hulle, wat ʼn rugbykommentatorspos kry of die onstuimige seë van musiekmassavoorkeur bevaar om op hulle oudag nog stadions te vul, maar vir die oorgrote meerderheid van hulle wag daar op ʼn relatief jeugdige ouderdom enorme klemverskuiwings met betrekking tot inkomste, status en die dinge waarmee hulle hulself besig hou.

Conrad en ek het hierdie proses bespreek en agter die kap van die byl probeer kom, om die proses te beskryf en die goue graal van verweer teen die skynbaar onafwendbare verwering te vind. En dis toe dat hy met sy juweeltjie vorendag kom:

“Het jy nog iets om te sê?”

Want, liewe vriende, met musiek kan jy die beste tegnici steeds inhuur om die nuutste klanke te skep (Kylie Minogue in 2001), jy kan jeugdige personeel in diens neem om jou aanbieding in voeling te hou met wat tans pomp (Cher in 1998), maar jy sal nog steeds oud wees en, belangrikste van alles, dit wat jy te sê het sal volwasse wees, meer volwasse as die verwysingsraamwerk van die massamark. (In beide voorgenoemde gevalle is die skryf, komponering, verwerking, produksie en visuele versorging deur jonger kundiges behartig). Boonop sal jy fisies goed behoue moes gebly het en ten tyde van die opname van die visuele aspekte van die produksie swaar moet belê in selfdissipline asook staat maak op elke doepa denkbaar (die lem, indien nodig!) om daardie jeugdiger voorkoms te straal. Uiteindelik bly daar nie veel van die werklike jy oor nie, en word jy ʼn kortstondige foefie, wat jou loopbaan kan afsluit met ʼn laaste kolskoot.

Ja, dit klink swaar nè?

Ek het daarna op die verhoog geklim en die kleinerige konsert met gevoel en oorgawe uitgevoer. Die mense wat daar was het hulle genot in dawerende applous te kenne gegee. Sommige het na afloop gevra dat ek tog groot asseblief nooit moet ophou nie (waarom sou hulle dan so iets sê?) en ek het my kitaar in die kar gepak en die pad huis toe gevat.

Op die N1 net buite Pretoria het ʼn Mercedes voor my wild geslinger. Die voertuig het soms drie lane na elke kant toe gewyk voor hy weer terug ander kant toe geswaai het. Soms het hy 70 gery, soms 130. Ek het in ʼn stadium die kans gevat om langs hom in te val en sy aandag te probeer kry, maar die swaar bedwelmde (drank? pille?) ouerige man het my nie eens gesien nie, geen ag geslaan op die N1-gebruikers om hom se massa-aanvraag na beteueling nie. In ʼn stadium het hy teen die betonmuur onder ʼn snelwegbrug vasgeskuur, ʼn angswekkende slag gevolg deur ʼn swenk wat byna sy motor omgegooi het. Maar van stilhou wou hy niks weet nie.

ʼn Fris Pretorianer met ʼn fris bakkie het die heldedaad verrig en die man stadig van die snelweg afgedruk en tot stilstand gebring.

Ek en my beminde het na mekaar gekyk en geweet: Hy moes vroeër opgehou het.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eden ·

Baie waar woorde Chris. Veral vir mense in die musiekbedryf. Dis nogal ‘n belediging as stokou musiekgroepe soos Smokey so paar jaar terug in SA kom konsert hou. Al was hulle hoogtepunt van gewildheid soveel as 40 jaar gelede.
In SA is daar heelwat musikante wat maar net aanhou en aanhou want die “fens” sal maar weer die CD koop of konsert byhou. Die musiek en die inhoud bly maar dieselfde, net die woorde verander bietjie.
Die korona-krisis wat konserte basies amper onmoontlik maak en die digitale musiekbedryf het alles handomkeer verander.
Ek glo slegs musikante wat vernuwe en hul musiek aanpas sal werklik kan oorleef.
Chris jou musiek het elemente van daai vernuwe denke, maar dit maak sin om te besef dat alles in die lewe ‘n beperkte rakleeftyd het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.