Chris Chameleon: Oor lewensfases en reünies

Chris Chameleon (Foto verskaf)

As kind was ek nie daarvan bewus dat die lewe hom onder andere in fases afspeel nie. ʼn Mens kyk nou nie juis vanuit ʼn hoogte na jouself wanneer jy self kniehoogte is nie.

Mettertyd begin die patrone egter herkenbaar word, ontstaan daar uit die ragfyn fatsoen van lief en leed kleedjies waarmee mens die seisoene van die lewe bewandel. Maar jy sal nie weet dat die geel jassie vir die winter is mits jy nie alreeds, êrens in die verlede in jou kortbroekie gebibber het nie.

Soos met baie dinge in die lewe, leer mens ten duurste lesse, net om nooit weer die geleentheid te hê om daardie lesse toe te pas op die volgende uitdaging, ten einde hierdie keer te seëvier nie. Luister maar na die stories van mense wat baie sukses behaal het, dit onverskillig verkwansel het, en daarna nooit weer in die posisie was om met die volgende golf van sukses die regte ding te doen nie. En dit is juis hier waar ʼn bietjie kennis van die fases van die lewe handig te pas kan kom, om ʼn bietjie objektiwiteit oor jou omstandighede te gooi, ʼn bietjie perspektief te skep.

My 30-jaarskoolreünie het verlede jaar plaasgevind. Ons halfeeu verjaardagfeesvieringe staan al flikflooiend in die pad hier voor ons. Baie van ons sien haar nie sonder brille nie, maar kan deur die newels uitmaak dat sy kuiser geklee is, met trots haar postuur reguit probeer hou en met ʼn swaarverworwe beskeidenheid haar siening handhaaf.

Maar dis die fases, die fases, vriende, wat my fassineer.

Met die eerste reünie het almal nog vatplek aan volwassenheid gesoek. Sommige het dadelik gaan studeer en het reeds ʼn skaflike betrekking kon verseker. Ander, soos ek, het nog tussen bakboord en stuurboord rondgeval en het die (onbeleefde) vrae ‘wat doen jy?’, ‘waar bly jy?’ en ‘wat ry jy?’ met variërende grade van behendigheid ontduik. Baie van ons was toe reeds getroud en met die eerste kindjie in die wieg.

Die 20-jaarreünie het ons almal in ons meer gevestigde hoedanighede onthul: vrou, kinders, huis en grassnyer in Weltevreden Park en ekonomies aktief en voortvarend. Die lewensperd wat ons die vorige reünie al aan die opsaal was, kon ons nou met voldoende behendigheid stuur sodat daar selfs tyd was om rond te kyk na omgewings buiten die onmiddellike. Eksistensiële bepeinsinge, wêreldpolitiek en in sommige gevalle van die wat vroeg reeds gevestig geraak het, ʼn hunkering na die onstuimighede buite huwelik, familie en werk.

En teen verlede jaar se dertigjaarreünie was sommige van ons reeds geskei, het sommige reeds bankrot gespeel en het sommige se kinders reeds die huis verlaat.

Wanneer ʼn mens vorentoe loop, is daar met elke tree ʼn oomblik wanneer jy op net een been staan, op die bal van die voet balanseer. ʼn Mens is dit so gewoond dat jy nie daaraan dink nie, maar dit wil vir my voorkom of daardie balansering meer wesenlik na vore tree teen die derde reünie.

Kort ná verlede jaar se reünie, is een van ons klasmaats, wat ook daar was, vermoor. Reeds voor die eerste reünie is beide Nathan en Elana se pa’s vermoor. Jacques, Jacques en Johan uit my jaar is ook toe reeds in hulle vroeg 20’s vermoor. Dit is Suid-Afrika vir jou. Ek dink daar is min lande waar mense teen hulle eerste reünie al soveel klasmaats aan lewensrowende geweld afgestaan het.

Die glurende blik van die dood is egter teen die derde reünie onontkenbaar. Byna almal se grootouers het al gesterwe en ons is in ʼn fase waar ons ouers begin sterf. ʼn Paar van ons was daar as die oudste verteenwoordigers van hulle bloedlyn.

En dis toe dat ek besef dat dit die tendens vir die res van my lewe sou wees. Ek sou van nou, tot my uiteindelike afsterwe, meestal verneem van nog ʼn vriend en nog ʼn vriend wie se ouers gesterf het, intussen ook my eie moeder. En dan sou my vriende ook een vir een afgesterf het. Ek kyk na my ma, wat op 83 bitter min maats oor het. Daar is jonger mense in die aftreeoord om mee te praat, maar wat weet hulle van die lewe as ʼn klein dogtertjie tydens die Tweede Wêreldoorlog? Hoe gaan ek voel wanneer ek op my 100ste verjaardag in 2071 nie meer iemand het wat kan praat oor sokkiejol op 1980’s treffers nie?

Jy betree die fase van langsamerhande vereensaming van die self en die toenemende geselskap van die dood vanaf jou 50ste lewensjaar.

Maar… en hier volg die ligpuntjie, vriende, hierdie treurige toedrag van sake kan gekortwiek word. Jy kan verseker dat die laaste derde van jou lewe gevul word met lewe, in plaas van dood. Ek het self amper die bus gemis met my eie halstarrigheid, maar deur die genade van Bo oplaas net duskant 50 in die huwelik getree.

En nou sien ek telkens hoe die dood stert tussen die bene terug in sy gat kruip, voor die aanslag van nuwe lewe, elke keer wanneer ek ons kindjie in my arms neem.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.