Chris Chameleon: Oudisies, vendusies en die lewe daar buite

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Daar is iets wat met ʼn mens gebeur wanneer jy onder ʼn klip gaan woon.

Of dalk is dit so: Daar is iets wat nie met ʼn mens gebeur nie, wanneer jy onder ʼn klip gaan woon.

ʼn Paar weke gelede het daar uit die bloute ʼn regisseur geskakel, gesê hy wil my graag betrek by ʼn rol in sy film.

Miskien moet ek eers net ʼn bietjie verduidelik hoe dit gewoonlik by vendusies werk: ʼn Mens laai jou beeswa vol ou koeie en ry na die veilingkrale toe. Daar wag hulle ure in die krale, en wanneer hulle aan die beurt kom, dan stap hulle ewe bang deur ʼn nou gangetjie en skielik is hulle in die ring, waar hulle op bevel van die hanteerder die rondte doen. Die boere wat onder die afdak sit en sweet, kyk na boude, bene, kruis, horings, pote en soek tekortkominge. Keuses word dan gemaak terwyl hulle die prys beding.

En in hierdie opsig is daar weinig wat oudisies van vendusies onderskei. Gegewe my nuwe lewe in die platteland, is ek ekstra allergies vir die oudisie-omgewing – ʼn man is immers nie ʼn koei nie. Maar wanneer die regisseur jou spesifiek kontak en jou reeds vir die rol gekies het, verdamp ʼn hele aantal besware.

Die draaiboek is erg – ek is (alweer) ʼn afwykende karakter, hierdie keer ʼn bose moordenaar. Maar, ongewoon vir Suid-Afrika, is die draaiboek baie goed geskryf en hoewel daar feitlik geen hoop in die storie is nie, is daar hoop dat die rolprent goed kan wees. Ek sê ja, nadat ek die swaar besluit weer en weer heroorweeg het om my vir ʼn maand van vrou en kind te skei. Hier sit ek dus en verdien letterlik in die sweet van my aangesig (want genugtig, Graaff-Reinet is ʼn warm plek) my brood.

Ek weet daar is vele eerbare werke wat baie moeite en ongemak verg, en, sonder om enigiets daarvan weg te neem, kan ek met eerlikheid sê dat om ʼn moewie te maak ook harde werk is. Die ure is lank, die omstandighede van dag tot dag uiters gevarieerd terwyl die verwagtinge van konsekwentheid deurgaans op jou rus.

Saans, soms baie laat (want jy verfilm soms nagtonele tot dagbreek toe) strompel jy jou hotelkamer binne en plof neer. Nou moet jy daardie karakter uittrek, hom netjies soos ʼn skoon hemp opvou en in die kas bêre tot môre toe. Jy stort die dag af, verdiep jou in gedagte aan jou vrou en kind, soms met betraande verlange, peins, bid, kruip in. Maar die stilte van die naguur word verdring deur die oorverdowende gedruis in jou kop. Vreemde gedagtes, vreemde naggeluide, vreemde bed. Na die soveelste omdraai, sug en kussing moker doen jy daardie ding wat jy weet nie gaan help nie – jy skakel die TV aan.

Ses jaar gelede het ons die TV uitgegooi. Dit het die gebruiklike 21 dae geduur om aan te pas by die nuwe paradigma, maar nou is dit al so dat daar nie genoeg ure in die dag is nie en ek dikwels wonder waar op dees aarde my vriende die tyd kry om ooit TV te kyk. Ek flik stom, starend soos ʼn geoutomatiseerde idioot deur die kanale. Niks bind nie, niks boei nie, dis ʼn saai fees waarvan die oes oorrype verstarring is. Swak toneelspel (niemand in die regte lewe knik hulle kop en rol hulle oë so nie!), resepmatige storielyne (ek het hierdie al gesien… wanneer was dit nou weer? O ja, dit was twee kanale vantevore!) en onnatuurlike dialoog (niemand praat só nie!) brand in giftige ligte by my retinas in en word met my hersens geroer en geprut om ʼn pap deeg te vorm waarin die nuanse van emosie, diskresie en ʼn hoër strewe verswelg raak in die stroopsoet bestanddele. Maar die dodelikste van alles – hartverskeurend – is die fopvreugde. Dis veral die Kaïnsmerk van aanbieders: selfaanhitsing van die stem tot hoër hoogtes van toon en volume. Gemaakte infleksies draai die stem hiernatoe vir belangstelling, daarheen vir verrassing en oep!, selfs ʼn fopskokkie of twee.

Groteske lippe vertrek om tande, die vaandeldraers van assosiasies met vreugde en vriendelikheid, grynsend ten toon te stel.

Ek merk gedurende my lang dae op stel en my interaksie met mense hoe my inskatting van opregtheid onseker begin water trap in hierdie dryfsand, ver van die rotsvas belynde grense van my voormalige oordeel.

ʼn Maand is wat dit geverg het om my te herprogrammeer. My enigste behoud is my geheue van hoe dit was – twee maande en ek was dit dalk ook kwyt.

Môre is ek klaar verfilm en dan gaan ek in die kar spring en voet in die hoek sit, terug na vrou, kind en die eenvoud van my bergbestaan; waar die klepeltjie van besinning, onbelemmerd deur die geroesemoes, die stil klok van waarheid weer in my kan klingel.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karinb ·

Dankie Verkleurmannetjie, jy kan skryf, jy kan sing, jy kan … Liefdegroete vir jou vrou en kind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.