Chris Chameleon: Pornografie onder die vergrootglas

Chris Chameleon (Foto verskaf)

My vorige lewe as ʼn wêreldwyd reisende punk-musikant het my aan baie blootgestel. Omdat ons ʼn kultusstatus gehad het (lees: groot profiel, klein bankrekening) het ons op die vreemdste plekke gespeel en met van die mees ongewone mense omgegaan. Verblyf was dan ook dikwels informeel en ek het groot dele van my slaapgeskiedenis op ou, afgeleefde rusbanke in 30 lande deurgebring.

Tydens een van ons Amerikaanse toere, het ons vir ʼn tyd lank in die huis van ʼn kontak van ʼn kontak (so gaan dit maar dikwels) op ʼn plot in die buitewyke van Los Angeles gebly. Dit was dalk die vuilste huis waarin ek ooit gebly het en die verval, die gebrek aan sorg, was pynlik waarneembaar in elke aspek van die huis. Elke vierkante duim van hierdie huis was deur ʼn pannekoek-dik laag stof oortrek. Dit was soos om buite te slaap.

Die eienaar van die huis, ʼn trokdrywer, se vrou is twee jaar vantevore oorlede en ek vermoed die huis is gelaat presies soos dit met haar afsterwe was. Hy was die pa van die meisie wat die kontak van ons kontak was. Sy was seker so 19 jaar oud en sy was ʼn pornografie-aktrise.

My skoolloopbaan het in die 70’s afgeskop en is in die 80’s voltooi. Onder die destydse regering was pornografie verban, en die mees eksplisiete, wettige media was die Scope-tydskrif, waarin daar bostuklose vrouens te siene was met sensuursterre oor hulle borste. Af en toe het iemand se pa ʼn Playboy-tydskrif in sy bagasie teruggesmokkel ná ʼn oorsese reis, wat deur een van die skelmrokers onderskep is en dan groot sensasie gewek het agter die pawiljoen tydens tweede pouse.

Na 1994 het dinge stelselmatig begin verander. Pornografiese media het meer vryelik beskikbaar geword. Die fotomedia-blootstelling het plek gemaak vir video’s. Scope het hulle deure in 1996 toegemaak met ʼn laaste klap teen religieuse groepe in ʼn bewering dat hulle dit onhoudbaar gemaak het.

Maar die stelling was mosterd na die maal muntslanery – die skrif was reeds wêreldwyd aan die muur vir pornografiese tydskrifte, namate digitale videoskywe en die internasionale verspreiding van kompeterende tydskrifte aan die markaandeel van die groot name geknaag het. Playboy het uiteindelik omtrent die langste uitgehou, deels as gevolg van hul reputasie van gehalte joernalistiek oor wêreldgebeure en deeltyds vanweë die realiteitstelevisiereeks van die charismatiese stigter Hugh Hefner se eskapades.

Tans is pornografie se koninkryk die internet. Pornografie is harder, feller en meer algemeen beskikbaar as ooit. Ek vermoed die volgende stelling sal teenkanting kry, maar beskou dit as onweerlegbaar dat pornografie die kenmerke van kuns, sport en vermaak onderhou. En as sodanig trek dit van die mees uitnemende talente in kuns, sport en vermaak. Om in die pornografiebedryf te kompeteer is net so moeilik soos om op internasionale vlak te kompeteer in toneelspel, rugby of die Cirque du Soleil en verg soortgelyke fisiese inspanning, emosionele bestuur en vakgerigte vernuf.

Die besigheid van pornografie toon egter struktureel en organisatories meer ooreenkomste met misdaadkartels as met kuns, sport en vermaak. Ons weet baie van die spelers, bestuurders en grootkoppe van kuns, sport en vermaak, maar om inligting oor dieselfde portefeuljes in die pornografiebedryf te verkry is verbasend moeilik. Die groot sterre van pornografie is min, en die gemiddelde pornografie-toneelspeler se loopbaan is van buitengewoon korte duur, volgens sekere beramings 6 tot 18 maande. En voor jy dink die rede hiervoor is dat pornografie nie hoofstroom is nie, oorweeg die volgende:

  1. Drie van die top dertien mees besoekte webwerwe op aarde is pornografie-webwerwe.
  2. Google word gebruik vir winkelsoeke, navorsing, reisplanne en alles tussenin.
  3. YouTube word gebruik vir video’s van katjies, hoe om jou badkamer te teel, boksgevegte uit die 1970’s en alles tussenin.
  4. Daar word na skatting tans deur 4,26 miljard mense wêreldwyd van sosiale media gebruik gemaak, en die 5 grootstes is in hierdie top tien lys.
  5. Die statistiek meet besoeke, en dan moet ʼn mens vir konteks jouself afvra hoeveel keer per dag jy jou sosialemediawebwerf besoek… drie keer, mevrou Facebook? 7 keer, meneer Twitter (X)?
  6. Bykans enigiets kan via Amazon gekoop word en sedert die sogenaamde pandemie van 2020-2022 het dit vir vele die voorkeur koopkeuse geword.

In al hierdie gevalle word die webwerwe veelsydig ingespan, terwyl die pornografie-webwerwe ʼn baie eendimensionele verbruikersfokus het. Wanneer ʼn mens al die webwerwe wat bo die pornografiese webwerwe staan, onderverdeel in hulle onderskeidelike aanwendings, bv. musiek, doen-dit-self, vakansieplanne, geskiedenisnavorsing, “wat maak my skoolmaats nou?”-vrae ensovoorts, dan is die soeke na pornografie ʼn sterk kompeteerder teen sosiale kontak en die uiters uitgebreide veld van aankope vir die topposisie.

Teen hierdie agtergrond, moet die moeite om meer inligting oor die groot rolspelers in die wêreld van pornografie te bekom immers krities beskou word. Die wêreld se grootste pornografiemaatskappy is Aylo (voorheen MindGeek). Hulle besit Pornhub, RedTube, YouPorn en vele van die grootste pornografie-ateljees. Die beheermaatskappy van Aylo is, en probeer om nie nou uit jou stoel te val nie, Ethical Capital Partners.

Soek jy na Ethical Capital Partners op Wikipedia, dan vind jy dat die ganse bestuurstruktuur van hierdie miljarde dollar, internasionale hegemoon nie Wikipedia-inskrywings het nie. Die voorsitter, besturende vennoot, hoof finansiële beampte, vennoot en vise-president nakoming, vennoot en vise president wetstoepassingsverhoudinge het nie een ʼn Wikipediablad nie.

Daar is dus meer inligting oor die leiers van die top tien gevaarlikste, onwettige Mexikaanse misdaadkartels (ja, hulle elkeen het ʼn Wikipediablad) as oor die leiers van hierdie maatskappy en dit hoort stof tot nadenke te skep.

In my volgende rubriek gaan ek ondersoek instel na die misdaad van pornografie.

Tot volgende maand.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Interessante skrywe oor ‘n kykie in jou vorige lewe as wêreldwyd reisende punk- musikant Chris.Ek glo jy kan ‘n boek skryf daaroor.So het elke mens ‘n storie om te vertel.Geniet die plaaslewe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.