Chris Chameleon: Toe die vlag betekenis kry

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Op skool tydens die 1970’s en 1980’s, eers in Johannesburg en later in die landbouskool waar ek was, het ons soggens netjies in klasverband aangetree op die paradegrond. Die hoof het geopen met skriflesing en gebed. Dan het die seun en dogter vir wie die eer daardie oggend te beurt geval het, met die landsvlag in die hand gemarsjeer na die vlagpaal, die vlag aan die tou vasgemaak en dan die vlag gehys terwyl ons die vlaglied gesing het. Dis ʼn vreemde lied, die vlaglied: ʼn lukrake melodie wat met wendings langs ongewone weë wandel voor hy uiteindelik sy klimaks met ʼn aanlopie bespring.

Ek het gawe kinderherinneringe aan daardie dae en die seremonie. Eerstens was daar die brandende begeerte om ook eendag die een te kan wees om ʼn beurt te kry om die vlag te hys. Hoe flink sou ek hom nie knoop nie! Hoe egalig sou ek hom nie hys nie! Wel, ek het toe wel my beurt gekry en my helaas nie danig goed van my taak gekwyt nie – ek was effens onhandig met die knopery en die waardigheid van die hele oefening het ʼn bietjie skipbreuk gely onder my aanvoering. Maar ek het die vlaghysing altyd geniet. Die sang – natuurlik – ek het altyd gehou van sing en die ongewone melodie was, nes “Die Heer is groot”, ʼn uitdaging en ek kon dit nooit foutloos sing nie, maar daarin was die genot van week op week weer probeer altyd gewaarborg.

Daar was ook die gevoel van trots. Vir my, altyd die tweede kleinste in die klas, die tweede stadigste op die atletiekveld, die laaste een om vir die onder 10B-span gekies te word, was daar hierdie seremonie, waar ons almal op aandag kon staan, ons bors uitstoot en trots voel. Ek was nooit seker hoekom ons sou moes trots voel nie, maar ons het in ons kinderlike onskuld blindelings trots gevoel en dit was aangenaam.

As kind het die detail van wat in die land van volwassenes aangegaan het my grotendeels ontwyk. Ek was hier en daar bewus van dinge wat in die land aangaan en hoe dit aan die vlag gekoppel was. Toe ek in 1978 in graad 1 was, het ek een oggend gesien dat die vlag halfstok hang. Ek het gevra hoekom en daar is vir my verduidelik dat die president, Nico Diederichs, oorlede is. Toe ek ouer was en meer kon verstaan, hoef ek nie in standerd ses te gevra het waarom die vlag halfstok hang nie, ek het geweet dit was omdat 42 kinders van ons buurskool, Hoërskool Vorentoe, omgekom het in ʼn busramp.

In die laat 1980’s het ek polities aktief begin raak. My oë het oopgegaan vir die land se politieke omstandigheid. Dit was vir my onaanvaarbaar en ek het aangesluit by groepe waar ons ons as tieners in Johannesburg beywer het vir die ontdaanmaking van die stelsel wat aan alle landsburgers nie ʼn gelyke menswaardigheid verleen het nie.

Reeds toe het my probleme met die vlag begin. Maar dit was dalk nie wat mens sou verwag nie. Die vlag het my om een of ander rede nie gepla as simbool van die apartheidsregering nie. Die vlag het my gepla omdat hy ʼn vlag was. My ingesteldheid in die vurige jare van my tienerskap was anti-vlag, anti-land, anti-owerheid en anti-gesag. My arme moeder het gedink, gehoop, dalk selfs gebid dat dit sou verbygaan en ek sou dink dit moes. Maar dit het nie. Wat daardie kwessie betref sit ek hier, duskant ʼn halfeeu se lewensjare op my kerfstok nog net daar vas in my laat 1980’s siening: Die vlag is ʼn euwel. Dis ʼn teken van onderdrukking deur ons politieke meesters, diegene wat skynbaar, nes ons, vergeet het dat hulle ons dienaars hoort te wees. Ons staan op aandag en sing mooi landsliedjies om die bestel wat hulle onderhou, lof en eerbied toe te swaai. Vir my is dit primitief, agterlik. Daarom het ek, toe die nuwe vlag met ʼn groot gedreun bekendgestel is, my standpunt volgehou en gegril wanneer ek by ʼn galafunksie of een of ander Huisgenoot-skouspel die ding in borsspeldvorm aan my baadjie vasgesteek gekry het.

En nou, die pas afgelope week, net toe ek dink ek is vir ewig gevestig in my sieninge, kom daar weer ʼn wending op my af, so onverwags soos die halftoon klimmetjie by “… die pand van ons erfnis geslag op geslag…” in die vlaglied. Want skielik, vir die eerste keer in my lewe, kry ʼn vlag, dáárdie vlag, vir my betekenis. Want na die pas afgelope week se owerheidsvergryp betreffende die verbanning van die vorige Suid-Afrikaanse vlag, stel die vlag vir my iets voor waarin ek kan glo: Vryheid. Vryheid van spraak, vryheid van assosiasie. Vryheid van ʼn owerheid wat vir my sê dat die vlag haat beteken wanneer dit vir my persoonlik onskuldige jeug beteken. Vryheid van die owerheid wat vir my sê ek moet dit selfs uit my huis verwyder as dit iemand daar ontstel. Vryheid van ʼn stelsel wat my veroordeel nie op my bedoeling nie, maar op ander se aanstoot.

Ek is die gelykheidshof dank verskuldig, want na ganse lewe sonder vlag, het ek uiteindelik ʼn vlag vir my gekry; nie die een waarvoor ek gevra het nie, maar die een wat hulle vir my gegee het.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Dis is ‘n pragtige skrywe. Ek dink baie van ons kan met die emosies assosieer, toe ons kinders was. Die besluit van die hof kan maklik die vlag tot martelaarstatus verhoog, ‘n nuwe teken van vryheid.

Sommernet ·

Duidelik verstaan “ne”nie wat Chris probeer oordra nie..
Goed geskryf Chris!

Oud Weermaglid ·

Ek voel anders.
Die ou vlag met alles daarop is my geskiedenis.
Jy kan dit nie verander nie en dit weg toor nie.
Ek is lief vir die ou vlag en salueer dt.

Chris ·

Jip, ek stem, skielik verlang ons na die vlag. Die simbool van ‘n volk se ontwaking, ‘n verlange na ‘n land wat werk.

James ·

Die Oranje Blanje Blou sal altyd MY vlag bly.
Ek is trots daarop.

Skoolgeld ·

Skielik glo ek niks wat jy skryf of sê nie Mnr Verkleurmannetjie! Ek sien hierdie eerder as g@tkruip om jou aandele bietjie hoër te kry, reg?

Herman G ·

Nee, ek dink nie Chris is ‘n verkleurmannetjie nie.
Steve Hofmeyer was ook gekant teen die vorige bedeling…

Annie Webb ·

Presies in die kol, Chris Chameleon. Dieselfde mense wat ge-“struggle” het vir “freedom”, het nou erge onderdrukkers geword van ‘n minderheid wat vir hulle géén bedreiging van enige aard inhou nie. Die ANC gun ons nie eens vryheid van uitdrukking nie. Ek het vanoggend op YouTube geluister na ‘n uiters insiggewende gesprek tussen Ernst Roets en “Jerm” op “Jerm Warfare”. Ernst lê presies uit hoe minderhede se regte hulle ontneem word en hulle inderdaad vervolg word as hulle “ryker” is as die meerderheid. Dit was die basis vir die Jode-moord deur die Nazi’s, die volksmoord in Rwanda en die haat teenoor die minderheid is SA, wat lei tot die belaglike en voortdurende heksejag op alles wat vir Afrikaners betekenisvol is. Dié Afrikaners natuurlik wat hulle nie laat breinspoel het tot selfhaat nie. Laasgenoemde verbeel hulle daar is “soorte” Afrikaners en die “soort” waartoe hulle meen hulle behoort, is vir nie-Afrikaners aanvaarbaarder as ander “soorte” Afrikaners. Die narratief van “verlig” en “verkramp” wat ‘n sekere deel van die Afrikaanse media nou al 25 jaar lank propageer om hul eie finansiële gewin. Maar onthou gerus as iemand Afrikaners weer “Nazi’s” noem: ons is die ryker minderheid, ons is dus die “Jode”. Ons vyande wat ons haat en ons wil vertrap, húlle is die “Nazi’s”.

Herman G ·

Presies!

Goebels het gekla oor dat Jode ver, ver oorverteenwoordig is in beroepe soos fliek direkteure en prokeruers in Berlyn in 1920s / vroeg 1930s. Ons almal weet hoe dit geeindig het.

Jerry ·

Diegene wie met trots onder die vlag gedien en met eer uit die stryd getree het sal nie die vlag vir goedkoop politiek gebruik om die emosies van mense op te sweep nie. Die trots en die eer waarmee gedien was behoort aan die verlede, dit kan nie deur n ander geslag nagedoen word onder dieselfde vlag nie. Kry julle eie vlag!

Riana ·

Duidelik beteken die vlag verskillende dinge vir verskillende mense. So wat die vlag vir my beteken is irrelevant want die hoofsaak is dat ons vryheid van “spraak” deur hierdie uitspraak aan bande gelê word. En soos sovele kere in die geskiedenis sal dit die teenoorgestelde bereik van die NMF se doelwit – dit vestig nie net meer aandag op die vlag nie, dit maak mense meer dwars. Lees ook gerus Jeremy Gordin se kommentaar oor dieselfde saak op politicsweb en die reaksie daarop. Interessant en ironies dat die onderdruktes nou die onderdrukkers word en dat hulle nie ‘n snars insig het dat dit gaan boemerang nie.

James die Ontembare! ·

My vlag, my taal! Dis gegrafeer in my hart, my wese! Orange Blanje Blou, die Vierkleur van die ZAR en die Vierkleur van die Vrijstaat! Kom kom sè vir my watter komminus gaan my stuit? Menigte gesneuwelde makker het geval vir die behoud van die vlag! Die vlag is dan ook gegee vir my dapper broers, oor hul kis gedrapeer! Ons sal lewe ons sal sterwe vir jou Suid Afrika! Niks het verander! Die tyd vir saamstaan is nou! JOU helde moed word nou benodig meer as ooit tevore! Dus gee respek vir respek en retireer geen tree agteruit vir wie ook al oor jou wil loop! Ja ons is die minderheid! Maar onthou die Gideons bende was ook klein in getal! Of vra ek jou gaan ons slapgat staan en toekyk hoe oor ons geloop word! Ek gee aan enige een die reg om te lewe en die son te sien skyn oor ‘n ander! Ek verwag dus die selfde vir my en my eie!

Ben Prinsloo ·

Dankie James die Ontembare. Saam met jou sal ek n pad kan stap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.