Chris Chameleon: Tyd, tyd, tyd saam met jou kind

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ons het dit saam besluit. Dit was genadiglik een van daardie gemeenskaplike ouerlike beginsels wat ʼn mens agterkom nie oor geredekawel hoef te word nie – beide van ons sien dit dieselfde, voel dieselfde daaroor met ʼn passie wat gerugsteun word deur persoonlike ervaring.

My vrou se jeug en opvoeding en die van myne toon merkwaardige ooreenkomste. Ons het op min of meer dieselfde ouderdomme dieselfde groot verskuiwings en/of skommelinge in ons lewens en ouerhuise belewe – verandering van skool, en weer, en weer.., grootmensprobleme wat vir ons geen sin maak nie maar wat vergestalt as ʼn koue werklikheid in die gesin se dinamika, om maar ʼn paar te noem. Op sigself is die ooreenkomste dalk nie te merkwaardig nie, maar wanneer jy weet dat ons twintig jaar in ouderdom verskil en nie uit dieselfde land kom nie, dan word dit wel iets besonders. Ons kan selfs saampraat oor ons gunstelingtelevisieprogramme as kinders, en dit kan grootliks daaraan toegeskryf word dat sy ʼn Namibiër is – hulle het sommige TV-programme eers twintig jaar later gekry.

Beide van ons het met min grootgeword, relatief tot die samelewing waarin ons grootgeword het. Nypende tekorte, soms minder kos op die bord as wat nodig is om versadig te word, toebroodjielose pouses, kleiner porture wat dalk iets van voeding verraai gegewe die genetiese reuse van ons direkte familie en die noodsaak van sente weer en nog ʼn keer om te draai wat in ons volwassenheid gelei het tot ʼn soort finansiële omsigtigheid.

Maar, en hierdie is ʼn groot ‘maar’, ons het beide gesien wat gebeur wanneer mense vir hulle kinders besittings wil gee wat hulle self nooit gehad het nie. Dit is dikwels ʼn verhaal wat in trane van teleurstelling eindig. Nie altyd nie, maar dikwels.

En so het ons saam besluit dat ons, sover dit ons spruit betref, nooit daarna gaan streef om die dinge te gee wat ons so graag wou hê maar nie gehad het nie.

Ons het wel die luukse van ʼn ander gawe, toevallig vir ons beide die groter gawe: Tyd.

Beide van ons is in die uitermatig geseënde posisie dat ons 24 uur ouers is. Dit is die grootste skat wat ek vir my kind kan gee.

Deur my jeugherinneringe loop ʼn goue draad van geweldige verlange. Verlange van tyd tot tyd na die pa wat ek nooit gehad het nie en die daaglikse, knaende verlange na my moeder, wat van soggens vroeg tot saans laat moes werk om vir my suster en vir my te voorsien. Koue aande in die 1970’s by vreemde mense waar ek agter tussen die suurlemoenbome luister na die vreemde geskree van poue vanuit ʼn ander erf êrens oorkant die straat en wonder en wag en wag en wonder wanneer my mamma my gaan kom haal.

Ons was van daardie generasie X-ers wat in Johannesburg met die voordeursleutel om die nek rondegeloop het. Die vrees vir die stad se gevare het later my ma oortuig om ons koshuis toe te stuur.

En daar het die verlange voortgeduur.

Ek was ʼn rapsie meer as vier jaar op koshuis en het dit nooit gewoond geraak nie. Die ewige, meedoënlose, dekselse verlange wat alewig voel asof daar in my bors in ʼn sak dik, swaar suur stroop is waarin my hart sy klop moet spook.

En nou kyk ek na hierdie skepseltjie wat uit die liefde tussen my en my vrou gewek is, ʼn siel wat na ons gestuur is, waaroor ons voogdyskap gegee is. En soms sien ek die speelgoed wat ander kleuters van haar leeftyd besit en ek wonder: Het sy nie dalk te min nie? Is ek nie dalk te suinig nie?

Die YouTube-algoritmes het agtergekom dat ek op ʼn sekere tyd van elke dag vir ʼn halfuur kindervideo’s uitsoek: insekte, diere, liedjies en rympies wat ek en mejuffrou 22 maande dan saam kyk. Ek klik toe op die kunsmatige intelligensie aanbevole reklame vir ʼn toepassing wat kindgerig is, met die klem op opvoeding en doen toe iets wat ek nie sommer aanlyn doen nie en koop toe maar die toepassing. Lekker, gaaf, energiek, leersaam, vriendelik, byderwets!

Behalwe, mejuffrou stel nie belang nie.

Sy staan dan op en gaan haal een van haar boeke, kom terug en klim op my skoot.

En êrens moet pappa probeer om verby die knop in sy keel ʼn woord of twee gelees te kry.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

Dis waarheid, Chris

Tyd is kosbaarder as die hele winkel se speelgoed.

Baie storieboeke op die bed vir die kleinkinders gesit en lees. Dit het goue herinneringe geword wat geen geld kan koop nie.

Bevoorreg en geseënd

Hetta

Beste plek ooit om stories te hoor: pappa of mamma se skoot. Die aangename assossiasie kweek lewenslange liefde vir lees en boeke. Doe so voort Chris!

Danie

Die verlange raak net nooit minder nie.
Selfs die verlange na jou kinders terwyl hulle net n klipgooi van jou af woon.

Soethappie

Sjoe! Pragtig geskryf. Uit die hart uit.

Filistyn

Inspirerende Pappa. Jou dogtertjie word met die regte waardes groot gemaak.