Chris Chameleon: Vreemde vlieënde voorwerpe en ander verskynsels

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ek skakel af soos ʼn rekenaar: voordat die stelsel heeltemal uitskakel, draai die wieletjie eers so ʼn bietjie in daardie newel tussen hallo en koebaai.

Maar my vrou het in hierdie naguur ingegryp en die bevel van ʼn ‘shutdown’ na ʼn ‘restart’ verander met ʼn skielike: “Wat de … is dit daai?”

Wanneer ʼn mens soos ons doer in die boendoes woon van ʼn land wat bekend is vir baie dinge waarvan veiligheid nie een van hulle is nie, leer jy om die refleksboog na paraatheid soomloos te ondergaan. Ek is ineens wakker. Wawyd.

“Wat is dit Lief?”

“Jy sal nou sien, dit gaan so twee minute neem.”

Die geheimsinnigheid ontstel my nie, ek kan hoor dat sy nie gekskeer nie. Sy verduidelik:

“Daar is ʼn ster wat helderder as al die ander sterre hier bo ons skyn, maar net sowat elke twee minute.”

Sy beduie vir my tussen watter twee sterre in die noord-noord-oostelike hemelruim bo ons slaapkamervenster ek my blik gefokus moet hou.

Boeiend. Ek besluit om wakker te bly.

My vrou het ʼn aantal eksotiese gebruike. Een van hulle is om soms met ons kamervenster se gordyne oop te slaap sodat ons die sterre en die maanlig kan beleef vir die beweerde voordele van sagte hemelliggaambestraling. Op 2000 m bo seespieël woon ons nader aan die hemele as meeste van ons mede-aardbewoners en in die natuurskoon van ons omgewing pronk die uitspansel op wolklose winternagte soos die juwelekissie van ʼn uitspattig welgestelde tannie.

Na wat vir my na meer as twee minute voel, sien ek dit met my eie oë – ’n ster ontsteek vanuit die niet, skyn helderder as enige ander ster vir twee sekondes en woeps… weg is hy.

Uiters boeiend.

Saam lê ons in volslae verwondering en wag op die volgende. En weer die een daarna. Na die derde verskyning staan ek op en gaan haal die telefoon om die stophorlosie-funksie in te span.

Twee minute en 41 sekondes.

En twee minute en 41 sekondes later weer. Ons bekyk ten minste nog vyf sulke herhalings terwyl ons fluisterend oor verklarings vir die buitengewone fenomeen bespiegel. Ons merk hoe die lig se oriëntering ten opsigte van ons bakensterre verander namate die uitspansel in sy statig trae gang weswaarts beweeg. Dis duidelik dat die misterieuse lig staties in die lugruim bo ons verkeer. Wat teoreties as ʼn ‘ster’ begin het, is nou ʼn vreemde vlieënde voorwerp.

Die aarde wentel op ons lengtegraad teen ongeveer 1 445 km/h om sy eie as. Hierdie vreemde vlieënde voorwerp moet met ʼn faktor afhangende van sy hoogte bo ons vinniger as dit beweeg om sy oënskynlik statiese posisie te behou.

Ons begin die internet te fynkam vir verwysings na soortgelyke gebeurtenisse en vind wel vermeldings, maar met variërende tye van verheldering en verduistering, almal sonder vaste verklarings. Moeg gesoek besluit ons uiteindelik dat dit ʼn satelliet moet wees waarvan die wenteling gekalibreer is om op ʼn presiese punt bo die aarde te hang. Wat die twee minute 41 sekondes-reëlmaat tussen verskyning en verdwyning betref, beweer ons dat die ‘satelliet’ ook stadig om sy eie as draai en bereken ons (ons, oftewel, hierdie helfte van ons, maak al vanaf kindsbeen af kompulsief sommetjies oor alle dinge – ek kan nou nog onthou dat vanaf my ma se gunstelingsitplek in die kerk ek altyd 64 ligte kon tel tydens daardie lang 1970’s Nederduits Gereformeerde-preke wat moeiliker te verstane was as ʼn sin, cos of tan) dat die reflekterende oppervlak van die ‘satelliet’ op slegs vier grade van sy omtrek geld.

Watter satelliet sou dit dan wees? Die Groot Loerbroer van die Sentrale Intelligensie Agentskap? ʼn Besondere toeval van ruimteafval wat in ʼn stadig self-omwentelende spiraal tot uiteindelike vernietiging in die atmosfeer ondergaan? Elon se draadlose verbindingsnetwerk?

Maar ja, al hierdie dinge is wetenskaplik, met verklarings wat uiteindelik volkome op die beskikbaarheid van data geskoei sal wees. Dit vind ek matig interessant, in so verre dit my lewenslange belangstelling in die wetenskap en kompulsief obsessiewe besiging met feitjies bevredig.

Veel meer interessant, egter, vind ek die ruimte van die agtergrond waarteen hierdie merkwaardige fisiese gebeurtenis hom bo ons nagvenster afgespeel het: die feit dat ons ʼn groot, persoonlike vraag vroeër die aand in gebed gerig het, met spesifiek ʼn versoek vir ʼn teken.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karinb ·

Ek hoop Chris gaan ons vorentoe vertel wat die groot persoonlike vraag was wat hulle in gebed gerig het … as dit nou nie té persoonlik is nie. Indien wel,.moet ek maar my nuuskierigheid beteuel.
.

Piet Snot ·

Jong, God antwoord soms selfs vandag se vraag met ‘n satelliet wat jare gelede gelanseer is.
Vertel ons asb later Chris, van die Vraag en die Antwoord. God is getrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.