Covid-19 en ek

Deur Mariaan du Toit

Foto: Pixabay

Die wêreld om my klink vreemd stil, gestroop van al die gewone stads- of dorpsgeluide, stil genoeg dat die voëls se ligte getjirp in skril kontras skoon hard klink. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar die grasperk is vol voëls, ek sien skoenlappers raak wat ek nog nooit voorheen raakgesien het nie, en die honde skuur hul rûe baldadig teen die gras en bak in die son. Hulle blaf nie eens meer nie, want daar is niemand wat om die blok stap of draf nie. Ek wonder by myself: Sou die diere en natuur dan weet daar is iets anders aan die gang, sou hulle vir die eerste keer in ’n lang tyd die kans kry om sonder menslike inmenging, net te wees?

Ons lewens het in ʼn oogwink ingrypend verander en talle Suid-Afrikaners en mense wêreldwyd word met nuwe realiteite gekonfronteer. Covid-19 wurm homself, haarself, ditself – hoe jy ook al daarna wil verwys – in alle fasette van ons lewens in: huis, skool, werk, kerk.

Tendense in ander lande wêreldwyd wys dat ons as Suid-Afrikaners nie onnodig bekommerd is oor die effekte wat hierdie epidemie op ons samelewing het nie en dat hierdie virus niemand ontsien of diskrimineer op grond van ras, geslag of taal nie. Hoewel bejaardes en mense met bestaande mediese toestande meer kwesbaar is, kan dié virus ook maklik sy kloue in fikse, gesonde mense inslaan.

Almal weet teen hierdie tyd wat Covid-19 is. Jy ken heel moontlik al elke teorie, waar of vals. Jy weet teen hierdie tyd watter vordering navorsing gemaak het met die soeke na ’n kuur en jy is bewus van die uitdagings waarmee Suid-Afrika sit om te keer dat die siekte versprei – soos ’n tekort aan mediese toerusting, handreinigers of beskermingsdrag. Ons sien elke dag die stryd wat wetstoepassers voer om lede van die publiek wat oënskynlik onbewus is van die gevaar, teen hulself en die virus te beskerm.

Die gesondheidsektor, onderwysstelsel en voedselverskaffers moes ook vinnig en innoverend dink om steeds, ten spyte van uitdagende omstandighede, te kan funksioneer.

Ons is voorts ook bewus van die astronomiese ekonomiese impak wat die afsondering tot gevolg het – ons almal ken iemand wat as gevolg van die inperking hul werk verloor het of moontlik nie ʼn salaris gaan ontvang nie. Talle ondernemings se deure gaan dalk permanent toe bly.

Ons is vir seker nie blind vir die uitdagings wat hierdie tydperk ons ten laste lê nie.

Dit kan ʼn mens maklik mismoedig maak, en daarom moes ek myself vra: Gaan ek toelaat dat hierdie virus elke greintjie van my lewe oorneem, of gaan ek terugveg?

Dit is my verantwoordelikheid om terug te veg en alles in my vermoë te doen om myself, my gesin en naasbestaandes te beskerm.  Ek moet hulle sover moontlik nie slegs beskerm teen die fisieke aanslae van die virus nie, maar ook teen die tol wat dit eis van elkeen se emosionele welstand.

Hoe veg mens wanneer daar soveel onsekerheid is?

Jy begin by die begin en hou vas aan jou geloof in God en vertrou op die beloftes in sy Woord. Jy koester jou geliefdes en waardeer elke oomblik saam met hulle. Jy help jou medemens waar jy kan en hou aan baklei teen enige vorm van ongeregtigheid. Jy bly ingelig en skakel met groepe en organisasies wat reeds besig is om planne te maak, vooruit te dink.

So sal jy nie net ander kan ophef wanneer hulle veggees min is nie, maar sal jy ook ondersteuning hê wanneer jou veggees min is.

Soos alle moeilike tye sal hierdie tydperk ook verbygaan. Ons is nie alleen nie, ons is sáám in hierdie ding en daar ís hoop.

  • Mariaan du Toit is veldtogkoördineerder by AfriForum

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Ondersteuner

Baie mooi Mariaan.