Dertien dinge oor die Wimbledon 2018-toernooi

Kevin Anderson. Foto: Twitter via @Wimbledon

Deur Susan Maré

Miljoene tennisliefhebbers was van 2 tot 15 Julie voor die televisie vasgevang om die Wimbledonse tennistoernooi te volg. Dié prestige toernooi van die All England Club in Wimbledon, Londen, is die oudste ter wêreld en die eerste balle is in 1877 op die bane afgeslaan.

Dit is die enigste van die vier Grand Slam-toernooie wat op grasbane gespeel word.

Statistieke van elke jaar se toernooi lees soos ’n sprokie. Ronde een het vanjaar met 64 wedstryde begin wat in 2 311 spelle ’n totaal van 1 234 kishoue opgelewer het. Die 2018-syfers vir toeskouerbywoning is nog nie bekend nie, maar in 2017 het 473 373 mense die toernooi oor 13 dae bygewoon.

Ronde 1 (2018) het met 128 enkelspelspelers afgeslaan en met die dubbelspeltoernooie in ag geneem, het sowat 608 tennisspelers vanjaar vir die Wimbledon-toernooi ingeskryf.

Hier is ’n paar interessante feite oor die 2018-toernooi:

  1. Novak Djokovic, die 2018 Wimbledon-kampioen, is terug met mening. Sy vlugheid op die baan en skerphoekige balplasings wat deel is van sy tennisstyl, is beter as ooit en ’n nagmerrie vir opponente.
  2. Kevin Anderson en Raven Klaassen het Suid-Afrika trots gemaak toe hulle die eindrondes in onderskeidelik die enkel- en dubbelspelafdelings gemaak het.
  3. As sport is tennis elektries, opwindend, epies en heroï Internasionale mededinging vereis spelers met ysterspiere, marathonfiksheid, tennis-intelligensie en individuele uitklophoue wat wedstryde kan wen.
  4. Tennis in Suid-Afrika is steeds ’n afgeskeepte sport wat nie genoeg ondersteuning aan belowende spelers bied nie.
  5. Wimbledon se valbylreël sal hersien moet word. Die marathonstryd tussen John Isner en Kevin Anderson het moontlik ’n groot invloed op Anderson se eindstrydspel met Novak Djokovic gehad en hom dalk van ’n oorwinning beroof.
  6. Die NewGen-generasie is nog nie daar nie. Daar moet nog baie balle in die see vir hoogaangeskrewe spelers soos Dominic Thiem, Alexander Zverev, Denis Shapovalov, Kyle Edmund, Stefanos Tsitsipas, Danlil Medvedev, en ander, geslaan word. Die ouer generasie heers steeds.
  7. Kei Nishikori, Grigor Dimitriov en Milos Raonic is drie spelers wat hul plafon bereik het óf hulle kort nuwe afrigters.
  8. Die uiters talentvolle spelers Fabio Fognini en Ernests Gulbis kort soms ’n skoolhoof met ’n rottang of nuwe afrigters.
  9. Serena Williams kan ná meer as twee dekades steeds nie deur die meeste vroulike tennisspelers van enige ouderdom uit ander lande as Amerika geklop word nie.
  10. Raphael Nadal is uitstekend op gras- sowel as klei- en harde tennisbane.
  11. Roger Federer wat as die beste tennisspeler in die geskiedenis onthou gaan word en internasionaal gewild is vir sy menswees en spel op die baan, gaan nie maklik weer ’n Grand Slam-toernooi wen nie. Of gaan hy?
  12. Wedstrydkommentators op televisie-uitsendings was meestal vervelig en het dikwels laat blyk wie hul persoonlike gunstelinge is.
  13. Kaartjies om ’n Wimbledon-wedstryd by te woon, is peperduur en vir die meeste Suid-Afrikaners nie beskore nie. ’n Kaartjie vir die eindstryd kos sowat R3 676 (210 pond) en vir die halfeindstryd sowat R2 976 (170 pond).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Seemonster ·

Die geen-valbylpot-reël vir 5de stelle moet verander word. Die huidige reël benadeel die wenner van so ‘n wedstryd .

Koos ·

Dis darem bietjie mosterd ná die maal. Wimbledon is al byna twee weke terug afgehandel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.