Die antie met die ‘catsuit’

Argieffoto (Foto: prettyprincx28/Pixabay)

Een jaar kom ek doer in die agterveld en kuier tussen die boeremense. Toe vertel hulle my van die mooi antie met die “catsuit” wat kort vantevore ʼn vinnige draaitjie daar kom maak het. Maar skynbaar is sy half skielik weer verder.

Die storie laat dink my toe sommer jare terug toe ons een dag hier in die diep Namakwaland pad gevra het. Dis nog doerdie tyd voor Google-goed wat mos alles weet. So ons stop by ʼn biesiehuis want daar sit ʼn hele hoop mens onder ʼn eensame bloekomboom. Stap ewe vriendelik nader om die pad te verneem, maar toe kan hulle alger nie een woord Afrikaans praat nie.

Skynbaar was hulle ʼn uitgeleerde Ingelse kolonie wat daar in die doertes van Namakwaland kom intrek het en in totale Ingelse hoogwaardigheid daar bestaan het.

In ieder geval, die antie daag die dag daar op waar die boeremense saamtrek. Die manne braai vleis sommer so op die vlak terwyl die vrouens besig is met die toe-kos binne die eenvoudige saaltjie. Die mense is lekker gerus met velskoene sonder sokkies en die vrouens het meestal sommer platskoentjies aan sodat mens lekker oor die sandvlaktes kan kom. Hier stop die antie toe met so ʼn plat kar en klim daar uit met haar “catsuit”. Sy’s geklok soos ʼn regte Switse bok weerskante van haar kop en boonop staat sy hoog bo-op sulke stelte-skoene.

So steek-steek stap sy styweboudjies die saal in en verras die boerevrouens daar met haar skoonheid. Sy lyk kompleet soos ene wat uit die Sarie ontsnap het.

En sy is nog slim ook. Sy ken van doek-poeding en melktert en weet te vertelle hulle moenie soveel botter in die kosse sit nie want dis sleg vir bloeddruk. Al die dames is later suur om hulle kiewe en die onding vrywe af op die mansmense. Later is die hele distrik se mense sommer onlekker maar skynbaar merk die antie nie die gevoelentheid op nie.

Dis toe dat die manne ʼn plan bedink. Daai tyd het die manne darem al tweerigtingradio’s in die bakkies en hier en daar ʼn man ook ʼn handradio wat kan saampraat. So duskant die saaltjie staan die kleinhuisie. Dit is nog gebou in die betaamlike tyd toe mens jou opelyf buitentoe gevat het. So die kleinhuisie staan so entjie weg van die saaltjie wind-af, want dis nog van die “long drop” soort.

Een van die jong boere loop haal gou ʼn handradio daar uit sy Toyota en laat sak hom mooitjies aan ʼn stuk baaltou in die kleinhuisie se gat af. Versigtig knoop hy die tou mooi aan die agterkant van die groot houtsitplek vas en nou hang die radio mooi buite skoot en sommer lekker diep in die gat. En toe wag hulle.

Party manne vat “Klippies-en-Coke” en die ander breek ʼn Leeutjie oop en die vleiskos word rustig gaar. Daar is ʼn hele gedrom van mansmense om die vuur en hulle bespied die paadjie na die kleinhuisie so onderlangs en kry sommer al vooruit lekker oor wat mag gebeur. Die kleinhuisie word druk besoek, want binnekant het die tee ook sterk gevloei, maar al wat wegbly is die “antie”.

Maar die boere staan vas en braai daai vleise met groot sorgvuldigheid en toe gebeur dit: die “antie” loop so steek-steek op haar stelte na die klein huisie. Die deur gaat mooitjies toe en toe wag die manne. Gee goed kans. Toe alger reken dis nou die regte tyd praat die ene daar oor die radio.

Skynbaar het sy sommer so met haar “catsuit” in die hand en kaalvoet gestorm na haar plat kar. Die klippe het gespat soos sy daar padgee sonder om eers te groet. Dit was die laaste sien van daai leë blikkantien.

Die etery daarna was heerlik, want selfs die vroumense was bly oor die verlossing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stephan de S ·

Lekker ou boere-humor en pret. Dankie Koos…..bly uit die antie se pad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.