Die bakoortjie

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Nou die dag ry ek een aand dorp toe. Net toe ek die vlaktes anderkant die Doringrivier vat, kry ek ʼn bakoortjie langs die pad. Die kar het lekker sterk ligte so ek sien hom voortydig en ry sommer stadiger. Ek hou van die goedjies en is veral lief om hulle dop te hou as hulle so met gepunte oortjies stip na die grond voor hulle kyk om die gewoel van goggatjies iewers op te spoor. Ek kom nog so stadig nader toe vlie die kêreltjie weg en storm oor die pad na my linkerkant. So amper-amper trap ek hom. Maar die grondpad is stil en ek kan darem nog dryf so ek swaai uit en hou regs sodat hy sy bedrywighede links kan voortsit. Was bietjie gedruk vir tyd dié aand so ek moet maar verby hou. Ons was net mooi langs die bakoortjie toe besluit hy op stuk om weer oor die pad te hol en karplaks; daar trap ek hom. Moes maar met ʼn swaar hart verder ry want die ou was heeltemal verpletterd. Toe sit wonder ek oor die geheen-en-weer-hollery.

Laat dink my toe aan jare terug toe ek nog ʼn skoolseun was en soos baie van ons portuur destyds, ook met duiwe geboer het. Oompie Servaas doer van Carolusberg se omtes het vir ons ʼn paar egte wedvlugduiwe gegee en pappa het ons mannetjies gehelp om ʼn ordentlike houthok vir hulle te bou. Die paartjie teel mooi aan en dit word ʼn gekwansel en ʼn geruilery en later het ons sommer ʼn baster-boerdery daar op die been. Toe besluit ons dat onse duiwe darem ook nou moet begin deelneem aan vliegkompetisies. Alle soorte raad word gekry en die trop duiwe moet namiddag vir namiddag oefen sodra ons tuiskom ná skool. Later is die spannetjie mooi vliegfiks en toe begin vat ons hulle al verder weg van die plaas sodat hulle die omgewing mooi kan leer ken.

Tussen ons span was so ʼn mooi rooi-grys wyfie wat ek en Nico sommer “Homer” genoem het. Skynbaar was dit een of ander belangrike Ingelse naam maar in ieder geval kon “Homer” vlie. Sy was ons trots en ons hoop. So staan ons die Saterdagoggend vroeg doer iewers naby Williston met die duiwe-bakkie van Vredendal se klub. Onse Homer is ook tussen hulle. Die span vat die lug en hulle om en om en klim so algaande hoër die hemel in. Pappa is by en het ook ʼn verkyker byderhand en bekyk die span soos hulle sirkel. Toe gebeur dit: die hele trop duiwe was op so ʼn wye draai aan ons oostekant, toe breek daar meteens ene weg. Die duif duik af grond toe en soos ʼn Mirage-jet hol hy weswaarts. Dit lyk amper asof sy vlerkpunte aan die bossies wil raak en die duif kom jae sommer hier oor ons koppe. “Dis Homer!” skreeu pappa. “Daar breek Homer manne,” en ek en Nico doen ʼn reëndans doer in die eensame vlaktes van Williston.

Die Opel hol terug na die Dal maar ons is gerus want Homer kan verseker nie saam met die geel Opel hol nie. Op Calvinia koop Pappa nog iets te drink en toe ry ons rustig plaas toe. Daar gekom kry ons vir Homer wat salig uitgerus in die hok vir ons sit wag. Toe wen ons nie die dag nie. Maar Homer kon. Sy het slag vir slag die omgewing mooi uitgekyk en as sy koersvat, dan vlie sy sonder om twyfel reguit huis toe.

Dis toe dat ek besef dat Homer eintlik ʼn groot geheim beet gehad het. Jy moet maar draai en draai en net hoër klim met elke draai. Maar as jy koers kies, moet jy koers hou. Mens wat soos ʼn bakoor altyd weer van plan verander, kry moeilikheid vorentoe. En los die anderkant van die pad vir ander ouens om te loop bewerk en kyk jy hier voor jou. Anders lê jou bloedspatsels ook later in die pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Farmer Brown ·

Dis nou my tipe artikel , goed geskryf met ‘n lewensles.
Die artikel vind weerklank by my want my leuse vir die jaar is “HOOG DEUR DIE TAKKE”
As jy nog nie rigting in jou lewe het nie , is dit omdat jy nog nie die Allerhoogste bereik het nie.
Sy stem werklank deur die hele skepping , jy moet net op die regte frikwensie ingestel wees om sy stem te kan hoor.

A3 ·

Man, ken ons dan nie vir “Bakoorjakkals” nie! Nie dat hy van plan verander nie, maar so baie dinge om te doen voor die son weer skyn! Die pragtigste dier om te ken. Sal met meer Bakoorjakkalse saam lewe as met tweebeen “mind changers”

JAN ·

Baie dankie ‘ Koos Kosbaar’
Metafoor van ‘n Christelike doelgerigte lewe.
Pas mooi aan met die meegaande entrepreneurskap. . [ Rick Warren ]
Mooiloop

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.