Die belangrikheid van entrepreneurskap

lukas-coetsee

Lukas Coetsee. Foto: Verskaf.

Deur Lukas Coetsee

Alle lande lewer hul kwota entrepreneurs wat die samelewing verryk met innovasie en die lewering van ’n uiteenlopende reeks goedere en dienste. Hierdie groep mense is kosbaar aangesien hulle geleenthede identifiseer, hul eie geld waag in die ekonomiese ketting en die werklike skeppers van werk en welvaart is. Nie enige mens het die deursettingsvermoë om ’n besigheid van droom tot werklikheid deur te voer nie.

Die staat spandeer ’n begroting terwyl ’n entrepreneur ’n begroting jaag. Dis nogal ironies dat die staat sy begroting finansier met belasting wat gehef word op entrepreneurs en die mense wat hulle in diens neem. ’n Mens sou daarom nogal verwag dat die staat sodanige entrepreneurs koester en aanmoedig, want slegs só kan volhoudende welvaart geskep word.

Die anderkant van die munt wat minder oor gesels word, is besighede wat onsuksesvol is en die impak daarvan op gesinne en die samelewing. Dis nie maklik om ’n entrepreneur te wees nie, veral in Suid-Afrika. Ons ekonomiese poel is klein met ’n beduidende deel van ons samelewing wat werkloos is of op die broodlyn lewe. Wetgewing plaas boonop ’n enorme las op enige sakepersoon en entrepreneurs vind dat die staat onsimpatiek en kortsigtig is. Vra maar vir enige werkgewer wat met die voorskrifte van ’n bedingingsraad kennis gemaak het – dis niks anders as ’n kartel wat die klein toetreders tot die mark wil uithou nie.

Entrepreneurs bring innovasie, maak ons lewens makliker en hef samelewings op. Mense wat werk het en ’n inkomste verdien, het meer selftrots en selfrespek teenoor diegene wat van welsyn lewe. Eiendom word opgepas, woongebiede verbeter, geld word vir onderwys aangewend en ’n legio sakegeleenthede ontstaan in so ’n samelewing.

Sommige entrepreneurs word gebore, ander leer hoe om suksesvol te wees. In Suid-Afrika veroorsaak diskriminerende wetgewing dat al hoe meer wit mense hul heenkome na een of ander vorm van entrepreneurskap moet neem, en dan ook uitgesluit word van staatstenders en deesdae ook tenders van groot besighede.

Dis daarom nie vreemd om in enige Afrikaland ’n Afrikaanssprekende sakepersoon raak te loop wat daar woeker met besigheid nie.

Dis nou belangriker as ooit om die jeug en die innoveerders toe te rus met die boustene van ware entrepreneurskap.

  • Lukas Coetsee is die besturende direkteur van Entrepreneurs Wizard. Coetsee is ’n suksesvolle entrepreneur. Solidariteit Helpende Hand stuur vanjaar ’n entrepreneursprojek saam met Coetsee van stapel om armoede te verlig, verbreek en voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B ·

Stem 100% saam.

Maar soos tereg opgemerk, is dit baie jammer dat entrepreneurs & innoveerders ideologies aan bande gele deur ondermynende wetgewing. (BEE ens)

Dink net as almal vry kon wees!

cha ·

Probeer gerus ‘n klein besigheid op die been bring, en ontdek hoe vining die stadsraad jou kniehalter.

Liberale ·

Entrepreneurskap is effektief om n nasie op te bou maar dit pas nie die groot globale maatskappye en hulle globale elite eienaars wat als wil monopoliseer nie, daarom sal munisipale en nasionale wette dit moeilik maak. Maar as julle die globale elite op hulle plek wil sit, koop by klein besighede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.