Die beloftes van die Hemelvaart

(Foto: Stephan Haumann Photography)

Johan Oosthuizen het dié rubriek spesiaal vir Hemelvaartdag geskryf wat op 9 Mei 2024 gevier is.

Toe party van my 1962 matriekmaats gister mekaar ʼn geseënde Hemelvaartdag begin toewens het, het ek skielik besef dat dié dag in die skadu van die twee gróót voorafgaande dae staan. Ek het myself herinner aan wat Jesus aan omstanders kort voor sy hemelvaart gesê het.

Vir gelowiges is daar iets ongeloofliks, maar tóg geloofliks, in Jesus se hemelvaart. Vóór sy hemelvaart het Hy vir sy kinders twee kosbare beloftes gegee. Hy vaar op om vir ons plek te maak (in die Vader se huis waar daar baie woonplek is). In Joh. 14:3 staan: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Dan gaan Jesus verder met die belofte van die Heilige Gees. Joh.14:16. “Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ʼn ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees.” In vers 18 sê Hy: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie” en herhaal Hy die belofte: “Ek kom weer na julle toe.”

Hierby voeg Paulus in Rom. 8:33,34: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit. Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God en Hy pleit vir ons!” Hy is ons Advokaat as Satan ons verkla en aankla.

Dis waaroor Hemelvaart gaan! Toe Jesus opgevaar het na die hemel, was sy aardse bediening voltooi en het sy hemelse bediening van gebed en voorspraak en bemiddeling namens ons, sy bloedgewaste kinders ʼn aanvang geneem. Genade, onbeskryflik groot uit God se Vaderhart!

Jesus tree vir ons in en ek glo Hy doen dit met ʼn gebedslys in sy hart. Ja, Hy bid vir ons. Hy bid vir krag, vreugde en ʼn heilige lewenswandel. Hy bid dat ons tot Hom sal bid in moeilike tye. Hy bid dat ons geestelik sal groei en dat ons in versoeking vas sal bly staan. Hy bid dat ons nie die teenswoordige wêreld sal liefkry nie. Hy bid dat ons ons oë op Hom sal hou.

Dit lei ons na hartgrondige danksegging met die innige, opregte gebed:

Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig.
Neem my liefde; hoe gering, al sy skatte wil ek bring;
Neem myself; my alles sy Heer vir ewig U gewy. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.