Die DAF-lorrie

Argieffoto (Foto: Larisa Koshkina/Pixabay)

Een jaar laat weet pappa my dat hy die ou D6-stootskraper van oupa Kosie wil verkoop. Sommer saam met ʼn vrag onderdele en dit boonop vir ʼn appel en ʼn ei. En ons het juis so baie werk op die sendingplaas daar in Zoeloeland.

So ek begin bedel en kwansel totdat die geldjies daar is en ek boonop ʼn lorrie geleen kry by oom Ian – ons Ingelse buurman. Vir die volgende twee weke werk ons DAF-lorrie en sleepwa. Alles word gestel en getap en gesmeer en selfs die DAF se kajuit word gestofsuig en lekker beruik. Op stuk besluit oom Ian hy wil saamry vir die lekker trippie hier af deur die Vrystaat na Vredendal.

Sendelinge is mos maar meestal bankrot so ek bestel sommer ʼn lorrievrag teerpale by die pale-bedryf daar by Mispah buitekant Greytown. ʼn Hele drieduisend pale van 6 kg elk want dis net die regte vrag vir die DAF en sy sleepwa. Pappa belowe hy sal die pale vir my verkwansel daar teen die Olifantsrivier want die manne plant wingerd en teerpale is die in-ding.

Die Saterdagoggend vroeg vat die Duitser vir my en oom Ian na Mispah en ons klim die DAF met padkos en slaapsak en sommer so ʼn los draadlosie ook. Ons is eintlik uitasem van die lekkerte wat voorlê.

Toe ons die berg anderkant Greytown uitbeur, merk ek iets is verkeerd. Die DAF loop in tweede rat en hyg na sy asem. Die paar Zoeloes op pad na Muden stap ons lag-lag verby. Die afdraande gaan darem oraait, maar toe klim ons die berg anderkant Muden op pad na Weenen. Later sit die DAF in sy eerste rat en die rewolusies sak en sak. Ek trap die diesel laat die vloer eintlik so ʼn boggel staan, maar die DAF hyg en wil net swyg.

Later vertel ek vir oom Ian dat hy sy kant mooi moet dophou vir lekker groot klippe want as die enjin doodruk, moet hy spring en klippe pak agter die wiele. Wonder bo wonder haal ons die bokant van die berg en sononder storm ons Ladysmith onverskrokke binne.

Ons het ʼn volle 12 ure gery vanaf Greytown tot in Ladysmith. Maar die geloof is groot en ons slaap sommer daar in die Holiday Inn naby die hoofpad.

Voordag die volgende oggend vat ons die pad oor die Drakensberge en as ons die Vrystaat se vlaktes vat, loop die DAF doeksag teen so 50 kilometer per uur op pad na Bloemfontein. Die donkerte haal ons by Senekal in en toe loop verlê hulle die hoofpad sodat ons later van ure iewers op ʼn grondpad voor ʼn enkelspoorstaalbruggie te staan kom.

Ewe netjies is daar ʼn waarskuwing aangebring dat die bruggie net 20 ton vat en ek het 18 ton se teerpale op die lorrie. So ons is minstens 10 ton oorgewig en hier staat ons nou voor die bruggie. Oom Ian kom darem uit die oorlog uit en het skynbaar brûe gebou in Italië. In die effe lig van ʼn flitsie bekyk ons twee die bruggie van elke hoek en kant en later werk ons uit dat as die agterwiele van die sleepwa op die brug klim, dan is die vooras van die lorrie net 5 meter van die oorkantste wal. So oom Ian reken ek moet die bruggie stadig benader en as ek op die brug is, moet ek die DAF ooptrap dat die neus darem veilig anderkant is voordat die affêre in duie begin stort agter my.

Oom Ian maak hom tuis aan die oorkant om my reg te beduie. Bewend en biddend klim ek die DAF en ons storm oor die bruggie.

Net 32 uur gery voordat ons die Pitstop-vulstasie by Bloemfontein haal en die dieseltenke volmaak. Die siele daar het ons seker jammer gekry want hulle bied goedgunstiglik aan dat ons in ʼn ou karavaantjie kan slaap. Eet lekker die aand en slaap dood tot laatoggend die volgende dag.

Met nuwe moed klim ons die DAF nou vir die lekkerte af deur die Karoo en dan oor Carnarvon al die pad tot in Namakwaland. Ek sien al hoe gooi die Knersvlakte homself oop daar voor mens as jy die Vanrhynspas sak.

Ses-en-dertig uur aanmekaar dryf ek. Dis weer net Coke en “pies” en my twee oge sit later verstar in hulle kaste maar vorentoe beur ons. Sononder daai volgende dag toe stop ek bo die Vanrhynspas. Klim uit en bevoel die bande en praat mooi met die DAF vir daai groot genade-sak af Namakwaland in. Eerste rat en hier gaat ons.

Twee ure aaneen voordat ek hom kan loslaat om die vlaktes na die Gemsbokrivier te kan storm. Laatnag toe bulder ons “Begin” se werf in. Daar staat oupa Kosie en pappa ons inwag. Die trane loop eintlik so oor oupa se wange van blygeit om sy naamgenoot te sien.

Ons het nog gelê die volgende oggend toe stap pappa daar in. Die manne het vroegoggend al die teerpale begin aflaai en daar is een massiewe fout, volgens pappa. Dit is nie die 6 kg pale wat hy bestel het nie, maar 10 kilogram pale. So ons het met dertig ton gekom op ʼn agttien ton lorrie en so amper die berge by Weenen nie uitgekom nie. Vergeet maar van daai enkelspoor bruggie iewers op pad na Winburg.

Maar die ou Namakawalandse stootskraper is Natal toe en het vir baie jare die koel mistigheid van die Middellande geniet. Ek glo sy geraamtes staan nog iewers in die berge van Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Strand looper ·

Half ses is ek al wakker om gou die ketel te kook en die warm fles vol maak vir koffie vir die res van die gesin. Eskom sal seeker pligsgetrou 6 uur sy pond vleis vat.
Genadiglik verander Eskom sy mind en die krag bly aan!

Nou kan ek vroeg oggend Maroela nuus lees. Ek ry saam op die DAF-lorrie en geniet elke oomblik daarvan. Wel gedaan vir die lekker lees storie

JAN ·

Oe dankie Koos
ek is skoon uit asem gelees…..
en ‘n traan vir my oorlede pa wat sopas 100 sou wees..

ChrisE ·

Ek geniet sulke lekker ware verhaal stories. Ek dink baie mense het staaltjies wat met hulle op die pad gebeur het. Ek en my vriende het een dag 11 ure lank aan ‘n 380 km rit gery. Ek sal dit in my dag des lewens nooit vergeet nie. Bring nostalgie terug.

Anton ·

Ek ruik die teerpale en diesel! Hoe verveeld sou ons wees sonder die Namakwalandse storievertellers! In my dae in die ou weermag was hulle die ouens wat jou laat kraai het van die lag om die kampvuur! Dan is daar so bietjie vergeet van wat die volgende dag voorle!

marco polo ·

Lekker storie! Laat my dink aan my dogter en skoonseun van Swellendam, wat ‘n stroper in Greytown gaan koop het en hom teruggery het na Swellendam, al die pad deur die Vrystaat. Hulle het ‘n hele week lang gery, hy in die stroper, sy in die bakkie met flitsende ligte.

Gawie ·

Ons skool het ook in die 70tigs ‘n DAF bus gehad, wat ingespan was vir al die wegbyeenkomste. Ek onthou goed die gesukkel teen bulte op as die bus vol was. My Pa het altyd gesê: ‘Wees laf en koop ‘n DAF”!

Koos ·

Dankie alger. Ek sien daai moedelose stroper in die verre suide van die Vrystaat. Maar ‘n boer maak ‘n plan. Ons lag en veg voort.

Strand looper ·

Koos jou doring! Ek het die res van jou stories ondek. Die DAF-lorrie was die speekwoordelike “eye opener” van n magdom verhale van mens en dier wat eenige boerklong warm om die hart maak.

Ek het vir al wat leef en beef vertel want so iets is volks besit en moet gedeel word. Dankie man jy is man se reg na my hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.