Die danskamp

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ek en my gesin was verlede naweek op ʼn danskamp.

Ek weet, ons was braaf. Of só het menige mense vir my gesê as ek dit aan hulle noem. Maar presies hoe braaf ons was sou ons uiteindelik eers op die kamp self uitvind. En nee, dit het niks met danspassies uit te waai, soos wat ʼn mens sou dink nie.

Soos in enige (gesonde) huwelik en gesinslewe, is daar tye wat die brom-en-grom-meters ʼn bietjie in die rooi is. Die aanloop tot hierdie kamp was vir ons een van daardie tye.

Vir geen ouer hoef ek te vertel hoe besig hierdie kwartaal was nie. As ek so na vriende en familie luister, was dinge by die werk ook nie veel rustiger nie. Hoe nader ons dus aan die kampnaweek gekom het, hoe meer angstig het ons by die huis geraak.

Die kamp het aanvanklik regtig soos ʼn goeie idee geklink. ʼn Bietjie weg, ʼn bietjie iets anders, ʼn bietjie saam. Maar natuurlik werk die lewe nie soos ʼn mens dit beplan nie en dit is juis dan wanneer ons geduld met mekaar nie altyd is wat dit moet wees nie.

Die hoogtepunt van niks wat wil uitwerk nie, het Donderdagaand begin, maar dit was nie ʼn vinnige piek wat bereik is en toe afgeplat het nie. Ongelukkig het dit tot Saterdag geduur. Eers kon ek nie die sleepwa by my pa gaan haal nie. Toe kry my man ʼn oproep vir ʼn dringende saak wat hy moet hanteer. Tussendeur is die beurtkrag en verkeer ʼn alewige werklikheid, vorms en e-posse wat tydig en ontydig buite normale werk- en/ of rekenaartyd opduik, en die ure en minute wat net glad nie wil saamwerk nie.

Ek moes uiteindelik besluit. Ons draaie is net te lank en die kinders werk die naweek ook vir hulle Voortrekkerkentekens. Hulle sal maar sonder ons moet begin. So is ek Vrydag, kinders in die sorg van die Voortrekkeroffisiere saam met die res van die kampmaats, op pad terug huis toe om orde in die chaos te probeer skep.

Tussen my man se konsultasie en my gepakkery deur kon ons uiteindelik self Saterdagmiddag ook wegkom om by die kinders aan te sluit; reeds tien minute laat vir die uur volkspele wat by die program ingewerk is – iets wat ons om verskeie redes nie wou mis nie.

Só is ons in ons silwer gevaar vort. Tent in (kinders slaap in slaapsale, maar ouers wat wil saam kamp moet in tente slaap), kampbeddens, koelboks (sonder ys – ek wou nog by die garage stop), tas, badsakkie en kussings op die agterste sitplek. Ons gaan nou, ná die normale uitdagings wat die Molotopad ʼn mens bied, dans.

Dit rit was effe styf. Die normaalweg liefkosende hand op die been nie juis tuis of gemaklik nie en die pratery maar min. Maar uiteindelik is ons daar.

Ek verwonder my steeds aan alles wat van daar af gebeur het. Dalk was dit die konsentrasie op die passies, om saam iets te probeer verstaan en aanleer, of om soos toe ons op hoërskool was weer lekker te kon draai… Ek weet nie, maar van die volkspelekring af het angs en spanning stadig met elke passie by die voete uitgestamp en plek begin maak vir avontuur.

Hier en daar was nog ʼn paar stuiptrekkings voordat die spanning finaal sy koers gekry het. My man moes die kamp se aandete mis om ys en koeldrank te gaan koop, en kon darem vir homself kos kry terwyl ek, midde ʼn dreigende storm en knallende weerligstrale in die verte, die tent moes opslaan.

In my noppies met my handewerk tref nog ʼn werklikheid my: ek het die slaapsakke en matrasse vir die kampbeddens vergeet! Dit is op hierdie punt waar ek net oorgegee het. Ek kon net lag. En so het ons lag-lag verder aan die program gaan deelneem. Gewals en gepolka, en regtig hard probeer om passies te memoriseer.

Tussen die een kombers, baadjies, ʼn kleefbroek en handdoeke deur het ons ons teen ʼn koue nag gepantser.

Dit is egter soos een van daardie advertensies: maar wag, daar is nog… Die motor se sleutel het iewers Sondagoggend voor ontbyt weggeraak. My logika het vir my vertel dit kan nie weg wees nie. Ons was dan nêrens heen nie. En gelukkig bestuur my man met die spaarsleutel by hom en is my sleutel altyd in my handsak. Tyd vir soek was daar nie, dit moet êrens in ʼn tas wees en ons sal tuis kyk.

Die soektog het egter geen opbrengs (behalwe my man se knipmes wat ek in die tent vergeet het) opgelewer nie. Selfs die terreinbestuurder kon dit nie op ons kampplek opspoor nie. Toe kry ons die oproep: terwyl die asblikke leeggemaak is, het hulle dit in die een asblik gevind.

Ek was stom, maar ek het dadelik besef: die jongste het iets uit die kar gaan haal en toe dadelik ʼn vullissak weggegooi…

Dit was die perfekte einde aan die naweek. Die warboel van emosie, spanning en die deurmekaar wat daarmee saamgegaan het, en hoe dit in ʼn avontuur en kampvuurstorie verander is. Hoe oorgee, anders as opgee, alles draagbaar maak en jou toelaat om pret uit elke oomblik te haal.

Julle sal dit nie glo nie, maar hierdie naweek het wondere vir ons huwelik gedoen. Ons moes saam speel, saam leer, saam sukkel en dinge saam regkry. Ons het saam koud gekry maar mekaar se siele uitgetrek en vir mekaar gelag. As ek nou ooit bevestiging oor gesindheid gekry het, was dit hierdie naweek.

Pret, avontuur en saamwees; dit is beslis ʼn naweek wat ons nooit sal vergeet nie!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

skurweberg ·

Klink eindlik te goed om waar te wees… As jy geld belê pasop vir die beginsel.

skurweberg ·

Is dit nie deel van die voorspoed Teologie nie?. Mense met baie, stel nie belang vir die realiteit en slegte nuus nie, omdat hulle vanuit ‘n ander dimensie lewe en kyk na dit rondom hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.