Die een uit ʼn miljoen…

lindie-strydom

Lindie Strydom. Foto: Atterbury Trust

Ek was nog nooit ʼn massa-mense-mens nie. Ek soek doelbewus die klein in die groot en die Groot in die klein.

In ʼn stadium tydens It’s Time, stap ek en my GROOTfm-kollega, Sonet, agter om die groot groep mense by die verhoog om sommer net iets van die atmosfeer in te neem. In die middel van die gras, tussen twee groepe mense wat by nog twee van die 29 torings met klank en groot skerms bymekaargekom het, is iemand se slaapsak netjies oopgegooi met ‘n rugsak op. Die man staan met sy rug na waar die groot verhoog is. Ek wonder vir myself of hy bid of praat of saam sing. Die Bybelvers op sy wit T-hemp is ʼn gemaklike aanknopingspunt om nader te stap en te begin gesels.

Pierre lyk bly om ons twee te sien. Hy vertel dat hy dalk eers nie sou gekom het nie, maar ʼn maatskappy wat ʼn bus vir hulle werknemers gereël het, het toe gesê hy kan saam met hulle ry en dis ook hulle wat vir hom die T-hemp gegee het.

“Hoekom wou jy kom, Pierre?”
“Natuurlik om te bid vir ons land, maar om iets van God se liefde te ervaar.”

Sommer so vertel Pierre dat hy van 12-jarige ouderdom af tot nog drie jaar gelede verslaaf was aan van heroïen tot sigarette en drank. Hy het sy eenvoudige besittings verkoop om vir hom hierdie slaapsak en rugsak te koop en het toe vir twee maande in die grot in Wildernis gaan bly. “Met net die Here se hulp, het ek vrygekom en as ‘t ware self-gerehabiliteer. Maar dis moeilik … Ek bly in ʼn 2×3 m-Wendy en ek en my verloofde is onlangs uitmekaar, want sy wou nie die drank los nie.”

Pierre het al die krag van God in sy lewe beleef, maar hy het gekom om die liefde van God te beleef. En Jesus se woorde “watch and pray” kry vir my ʼn selfs dieper betekenis in daai oomblik waar ons mekaar vashou terwyl ons saam bid vir meer liefde van hierdie God wat reeds die houvas van dwelms op Pierre se lewe gebreek het. “Watch and pray.” “Look and pray.” “See and pray.” Sien die een uit ʼn miljoen raak en gaan wees dan ook die liefde van God waarvoor ons so saam bid vir Pierre en vir ons land…

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Veronica ·

Ek kan net Amen sê Lindie. Leef die liefde van Jesus en dit kan net beter gaan met ons land.

ElizeVvZ ·

Dit is met ‘n baie swaar hart dat ek sommige mense se kommentaar op Face Book gelees het oor Saterdag se byeenkoms. Dis is neerhalend, afbrekend, krities….ag sommer net alles wat nié Goddelik is nie. My gebed vandag is dat mense wat nog nie Die Lig gesien het nie se oë sal oopgaan en God sal ervaar op ‘n wyse wat hulle totaal stom sal laat (soos wat daagliks met my gebeur). God IS liefde

treurgrond ·

Amen Lindie Amen. Hoe kan mense teen Saterdag se opkoms wees. Hoeveel duisende mense bid in een asem vir ons God. Hoeveel duisende mense se saam Amen. Hoeveel duisende en duisende wil net vir God loof en net vir God se dankie Heer vir elke minuut dankie Heer. Amen

Kraks ·

Ek het niks teen byeenkomste soos “It’s Time” nie. Wat ek wel teen gekant is, is as mense diegene wat nie wil gaan nie, oordeel. Sulke byeenkomste kan maklik in ‘n opswepery ontaard. Die vraag is, hoe gaan tree jy daar buite op wanneer jy daar wegry? DIT is die kraks van die Christelike geloof!

Realis ·

Pragtige kommentare en uitstekende joernalistiek wat ek gereeld op MM volg. Ek is ook geensins gekant teen byeenkomste soos aangebied deur Oom Anchus nie MAAR is dit dan nodig om soetsappige staaltjies en verdere ervarings wat irrelevant is tot die hoofdoel van die byeenkoms ook te publiseer? Ek is daarvan oortuig dat die meerderheid mm lesers nie belangstel in tranetrekker bykomende artikels waar die persoonlike voorop staan te lees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.