Die eerste wankelrige treë

Sy is ’n weduwee, 75 jaar oud en woon alleen met haar worshond aan die voet van Duiwelspiek in Kaapstad. Daar is die afgelope maand drie keer by haar duplekswoonstel ingebreek. Ek het haar tydens ’n vroegoggend stap raakgeloop – haar normale vrolike gekwetter is daarmee heen. Die spanning lê in diep lyne om haar oë en haar fyn stem is nou nog dunner. Terwyl ons gesels sien ek hoe haar kneukels wit word soos sy onbewustelik Kareltjie se leiband al hoe stywer trek. Sy sê sy kan snags nie meer haar oë toemaak nie.

En aand net voor nege ping my foon. “Kan nie praat nie. Pappa is pas weg.”

Die skokboodskap kom van ’n baie goeie vriendin wie se pa net meer as ’n week gelede met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is. Dié vuis-in-die-maag-nuus ná ’n oplewing die dag vantevore toe die verpleegpersoneel ewe opgewonde vra dat my vriendin se ma ’n paar toiletgoedjies stuur. Die ergste daarvan, my vriendin kon nie groet nie. Niemand kon nie. En net so, eensklaps, ontstaan daar ’n geweldige gat in daardie gesin se lewe.

Dit was met dié twee stories in my kop dat ek die oggend wakkergeword het. En eintlik kan almal van ons deesdae van soortgelyke gevalle vertel.

Verlies het ’n onwelkome en dikvellige huisgas geword. Beide my ouers is in die doodsnikke van 2014 oorlede en hoewel mens mettertyd treurfiks word, bly die gemis groot en is dit eintlik maar alomteenwoordig.

My ma se geliefkoosde Strauss-walse het so ’n paar aande gelede op ’n televisieprogram begin speel en ek was verstom hoe dié klanke my weer onverhoeds met hartseer en heimwee gevul het. En toe die gedagte, hoe vreemd dit ook al mag klink: Ek is so dankbaar dat my brose ouers nie hier was/is om Covid-19 en al sy gruwels te beleef nie.

Ons gee nou die eerste wankelrige treë van die Nuwejaarspad en wie weet watse skerp draaie en steil opdraandes nog voorlê. ’n Goeie vriend het onlangs ’n video gestuur waarin Die Planeet aan die woord is en ons as mensdom daaraan herinner word dat ons sy gaste is, nie sy meesters nie. Verder hoor mens in die roerende opname hoe die dodelikste wapens ter wêreld nou drukkies en soentjies is. Dat wegbly van ons geliefdes die grootste en mees onselfsugtige liefdesdaad geword het.

Ek het pas met ’n groot diereliefhebber vir my radioprogram gesels en haar afskeidswoorde het my skielik onkant betrap. “Lizma, kyk mooi na jouself en mag die Here jou bewaar”. Dis dalk woorde wat ons dikwels hoor en al effens geyk is, maar Christa het dit met soveel opregtheid gesê, dat ek trane in my oë gekry het.

Mag ons mekaar hoor, al dit net oor ’n telefoon. Mag ons mekaar voel, al is dit net deur ’n glasvenster. En mag ons mekaar sien, al bly die voordeur toe.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.