Die geseënde boorgat

ou-hande-drankie

Argieffoto.

Ludwig Visser

ʼn Boordery vir water is ʼn groot geleentheid in die Boesmanland. Die man wat dáár laat boor kan daarop staatmaak dat sy bure, van die eerste doef van die boormasjien af, tot wanneer die water – hopelik – eendag bó by die boorgat uitloop, almal sal belang stel in wat gebeur. Want hierlangs is min dinge so belangrik soos water. Of hoe het oom Sopie dit gestel? “As oorle’ Paulus ʼn Boesmanlander was, sou hy daar in sy brief aan die Korente waar hy so praat hoe belangrik die geloof, die hoop en die liefde is, iewers vir water ook ʼn plekkie op sy lysie gekry het.”

Dit was die einste oom Sopie wat op sy plaas doer kort duskant Pofadder laat boor het en wat ons bure so laat belang stel het. Hy hét water op sy plaas, maar water is mos nou één ding waarvan ʼn mens nooit kan te veel hê nie. Hy’s soos skuld in die droogtetyd, was oom Sopie se wysheid altyd, mens kan nooit genoeg daarvan kry nie.

Al die aanduidinge was daar dat die boordery op oom Sopie se plaas daardie dag sou deurbreek na die water toe, en ons ander het ons werkies net so gelos om te gaan deel in die groot gebeurtenis en die vreugde. Oom Sopie het dan ook gewéét wat kom, en die tante het die oggend vir hom ʼn paar gebraaide skaapnekke, ʼn klompie soetsuurdeegbrood en alles om mee koffie te maak, op die bakkie gepak, want sy het ook geweet daar kom geselskap, en dan moet daar ietsie wees om te eet.

“Nou’lat julle so kom kyk hoe dit hier gaan, laat dit my mos ver terugdink,” vertel oom Sopie toe hy ʼn lekker stuk skaapnek so met die knipmes bespring om die vleisies af te sny. Toe ons jongeres dít hoor, het ons geweet hier kom nog ʼn storie.

“Nee,” sê oom Sopie, “dit was darem nou in my kinnerdae. En dit was ou oom Dawie Lieslap se dinge.”

Nou Lieslap, het ons ander geweet, is die naam vir ʼn geweste tussen Nuwerus en Kliprand, net daar waar die paaie van Nuwerus en Bitterfontein en Vanrhynsdorp af net voor Kliprand bymekaarkom, om daarvandaan verder deur  die Kaiingveld deur die Knersvlak Pofadder toe te loop. Dié oom Dawie, het ons toe sommer geweet, het daarlangs geboer, en soos maar gaan met hierdie wêreld se mense, is die Lieslap aan sy naam gelas, sodat almal dadelik geweet het van wáffer Dawie daar nou gepraat word as hy ter sprake kom.

“Dié ou oom Dawie, onthou ek, was nie juis die fluksste van boere nie. Solank hy liggaam en siel aanmekaar gehou het met ʼn klompie slaggoed wat hy kon verkwansel, was hy tevrede. Maar waarmee hy wel ywerig was, was kuier. Tydig en ontydig het hy gekuier, by die bure, op die dorp, óral.”

Oom Sopie het nog ʼn stukkie nekvleis fyngekou terwyl ons ander nou eers hierdie bietjie agtergrond oor oom Dawie Lieslap verwerk het.

“En dan het die ou nóg so ʼn ou swakkigheidjie gehad. Hy was dol oor vaaljapie.  Hy het vaaljapie gedrink soos wat ons koffie drink, van vroemôre tot laataand, maak nie saak waar hy kuier nie, sy vaaljapie het met hom saamgery op die bakkie, net vir ingeval die man by wie hy gaan kuier nie self ʼn ou voorraadjie het nie… Hy het dit net nie vaaljapie genoem nie, hy het altyd gepraat van vaalbek. En sy bure en vriende het geweet. As oom Dawie Lieslap by die plaashek indraai, kon hulle maar die botteltjie vaalbek gaan uithaal, want hy sillie koffie drink nie.”

Koffie het óns wel gedrink, en dit was tyd om te skink. Intussen het die boormasjien maar so staan en doef-doef soos hy al hoe dieper deur die dorbank en die ander grondlae knaag om by die kosbare water uit te kom waarna oom Sopie so soek.

“Eendag is my pagoed toe besig om te boor daar op hul ou grondjie en oom Dawie het ook kort-kort daar aangery om te kom hoor hoe dit vorder,” gaan oom Sopie voort. “En natuurlik met allerhande raad vir die boorman oor hoe hy nou éíntlik sy boor moet boor. En met elke bietjie raad wat hy uitgedeel het, het my pa se voorraad vaaljapie ook deurgeloop.

“Die ou man was later eintlik half lastig daar by die boordery en elke keer as die manne hom sien aankom het, het hulle al gebrom van die ou neus-insteker wat al weer op pad is. Tot hulle ook agtergekom het dit gaan eintlik maar net om ʼn verskoning om nog ʼn bekertjie vaalbek weg te slaan.”

Oom Sopie het ʼn slag opgestaan en na die boormasjien toe gestap om te hoor of alles nog op koers is daar, toe kom sit hy weer op sy riempiestoeltjie hier waar die kooltjies nog smeul nadat ons koffie gemaak het.

“My pa-hulle en die boorman het toe eendag besluit om vir ou Dawie ʼn streep te trek. Nou julle ken mos daardie outydse boormasjiene. Die ding het mos ʼn boor gehad wat hy so in die aarde ingestamp-stamp het, en as daar dan water bereik word, het hulle mos so ʼn lang hol ding, mens kan amper sê ʼn skepding, in die gat af laat sak om die water te toets, dis nou of hy brak is, en of daar dalk nog dieper geboor moet word. Hulle kon daarmee ʼn klomp water optrek vir die toetsslag.

“Toe die manne die oggend weer vir oom Dawie Lieslap so voor die stofwolkie uit sien aankom, gooi hulle gou die skepding vol vaaljapie en laat hang dit net so in die boorgat, en toe die ou oom stilhou en vra hoe dit gaan, kon die manne dadelik vertel dat hulle in die water is en dit nou net wil toets.

“Oom Dawie Lieslap staan natuurlik dadelik nader. ‘Nou toe manne, laa’k sien wat julle gekry het?’ sê hy.

“Hulle laat sak toe kamtig die skepding, trek hom later weer op en keer hom in ʼn sinkbad om wat daar eenkant gestaan het. Oom Dawie staan en kyk ewe na die water wat dan nou opgetrek is.

“Die boorman skep toe so ʼn beker vol van die goed in die bad en hy gee dit vir oom Dawie om te proe. Die ou oom moet nou sê of die water te brak is en of die vee dit darem sal suip.”

Oom Sopie het gewéét hoe ʼn mens ʼn storie vertel, dat jy partykeer ook net so ʼn  wyletjie moet stilbly om jou toehoorders nuuskierig te maak. Hy het dié môre daar in die veld die taktiek op ons ander ook toegepas, en dit het gewerk, want ons wou toe natuurlik weet wat oom Dawie Lieslap se uitspraak oor die watervonds is.

“Tja,” sê oom Sopie met ʼn laggie, “die ou vat toe die beker en hy slaan ʼn groot mondvol weg. Die ander staan en hou hom dop om te hoor wat hy gaan sê. Toe sien hulle die ou twyfel nou, hy weet nou wragtie nie wát om te sê nie. En asof hy wou seker maak dat hy nou nie nonsies staan en praat nie, skep hy self sommer nog ʼn beker vol van die kamtige water en proe weer lank en lustig daaraan.”

“En wat is sy bevinding toe, oom Sopie?” vra een van die manne wat toe al deur sy nuuskierigheid oorval is.

“Nee, jong, die ou sit die beker neer, veeg ʼn slag so oor sy mond, en hy kom klop my pa so op die skouer en hy sê: ‘Ou broer, en was die Liewe Vader darem vandag vir jou góéd! Jy kom boor net vir water, en jy boor so wragtag ʼn  vaalbek-aar raak! Dís nou wat ek ʼn seëning noem!”

Ons ander het nooit die res van die storie gehoor het nie, want op daardie oomblik het die boorman ons nader geroep toe hy die eerste skepding vol water uit die boorgat optrek. Ons moes kom proe, maar ons het darem geweet dit sou dalk brak wees, maar dit sal nie vaalbek wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.