Die gras is altyd groener elders…

(Argieffoto: Michael Probst/AP)

Afrikaners is dalk die volk wat, gemeet aan sy getalle, die meeste blootgestel is aan emigrasie (insluitende remigrasie terug na die land van herkoms, en semi-grasie, dus trek binne die land).

Dat daar goeie redes is om te gaan, is bekend en almal het al vir of teen emigrasie geredeneer met vriende en familie. Trouens, ek dink daar is bykans geen familie wat nie geraak is deur emigrasie nie.

Voor emigrasie is daar egter altyd eers persepsies oor ʼn bestemming en die bekende stoot- en trekfaktore. Afrikaners het almal van hoorsê, en soms uit ondervinding, ʼn idee van hoe sekere lande is. Dis lankal nie meer net die standaard-emigrasiebestemmings soos Brittanje, VSA, Nieu-Seeland, Australië en Kanada nie.

Self het ek nou ook die ondervinding van tweemalige emigrasie, naamlik van Duitsland na Suid-Afrika in 1995, en weer na Duitsland oftewel Europa in 2019. Duitsland was daarby eintlik ʼn voor die hand liggende landingsplatform, maar oud sal ons hier nie word nie. Die stootfaktore, wat my destyds uit Duitsland na Suid-Afrika laat emigreer het, bestaan nog steeds, maar die trekfaktore van Suid-Afrika bestaan lankal nie meer nie.

Nogtans sal ons hoogswaarskynlik eendag weer terugkeer soontoe. Of ons binne in Europa nog ʼn skuif maak, sal die tyd moet leer. Vir nou is ons goed gevestig en is nog lank nie moeg vir Duitsland nie. Dit alhoewel die bekoring en nuutheid van die begin natuurlik verby is. So ook word die uitwerkings van swak politieke bestuur van die afgelope sowat 15 jaar meer en meer sigbaar en voelbaar, en die stoom van die goeie jare al minder.

Interessant is dit egter altyd om na die beeld te kyk wat ander mense van jou land van herkoms het. Toe ek destyds met my hele hart na Suid-Afrika gekom het, was dit vir talle Suid-Afrikaners tyd om te trek. Vele het gedink dat Duitsland naby die hemel is en kon my keuse nie begryp nie. Telkens is ek gevra: “Hoe verlaat jy dan so ʼn mooi en voorspoedige land?“.

lig_boekevat_bos…stemming.jpg

Die Bosveld (Foto: Reint Dykema)

Nou is dit weer andersom. Talle Duitsers dink Suid-Afrika is ʼn baie bekorende land en wil altyd weet hoekom ek van daardie pragtige sonskynland juis na koue en onvriendelike Duitsland verhuis het.

Dit bring my by die punt van persepsies: mense kyk met die bril van vakansiegangers na ʼn land, of hulle persepsie is gegrond op enkele nuusberigte, dikwels oordrewe en meesal al deur die tyd ingehaal. Dit kan ek sommer illustreer. In die 1990’s het in Suid-Afrika die beeld van Duitsland bestaan van die 1960’s: georden, voorspoedig, gedissiplineerd, skoon, netjies, doeltreffend, etnies homogeen, veilig en behoudend.

Dele daarvan was in ʼn mate waar. Dit het egter al destyds min met die werklikheid te doen gehad en vandag nog minder. Nogtans is dit om goeie redes een van die gewildste emigrasiebestemmings. Andersom is die persepsies van Suid-Afrika in Duitsland destyds: die wonderlike reënboogland, elke reisiger se droom, lieflike weer, mooi landskap, vele geleenthede, vriendelike mense en ʼn bekorende etniese veelvoud. Ook dit is, of was, hoogstens net ʼn klein deel van die werklikheid.

Interessant is ook wat ek tydens ons onlangse vakansie van ʼn Kroatiese toergids teenoor Amerikaanse toeriste gehoor het: “Julle beny ons om ons mooi land met sy strande, ou geskiedenis, mooi natuur, vriendelike mense, en bekoorlike skilderagtige stede en dorpe. Maar ons wens weer ons was burgers van die VSA, want julle het een ding wat ons nooit sal hê nie, naamlik stabiliteit”.

In die hawestad Split (Foto: Verskaf)

Daar het dit my weer opgeval hoe oppervlakkig die sienswyse van die toeris is. Met Kroasië gaan dit tans voorspoedig. Die skok van die oorlog met Serwië in die 1990’s sit egter nog vlak. Die etniese kruitvat Bosnië-Herzegowina, asook Serwië met sy wrok teen sy buurlande en sy bondgenootskap met Rusland, maak die toekoms ook onseker.

Buiten vir persepsie het elke land die prys wat jy vir die voordele moet betaal. Nie net in terme van geld nie. As ʼn reël geld die volgende: waar dit onstabiel is, is die lewenskoste laer, en die weer gewoonlik aangenaam (dit geld algemeen vir die globale Suide, selfs Suid-Europa). Waar dinge voorspoedig en stabiel is (Noord- en Wes-Europa, VSA, Kanada, ensovoorts), is die lewenskoste hoog en dikwels is die weer ook minder aangenaam.

Natuurlik is daar ook plekke wat die beste van beide bied.

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Treurwilger ·

Baie interessant.
Wens die skrywer net voorspoed en geluk toe, en nog báie artikels vir Maroela!
Doer Onder is wel ver, maar ook die naaste wat ‘n Suid-Afrikaner ooit aan ‘n Suid-Afrikaanse leefstyl kan kom, sonskyn, strande, bekende sportsoorte, groot oop vlaktes, noem maar op.
Dis net ongelukkig nie Suid-Afrika nie.

piet ·

Ek wonder of die lewe in een van die Suid-Amerikaanse lande nie baie soos in SA sal wees nie. Australie is eerste wereld, te prim en proper, ‘n regte nanny state met te veel reels en regulasies en invloed van die owerhede.

Autobahn ·

Hallo Treurwilger, jy het nie verhuis na Australië nie, of het jy?

Vrijburger ·

“Buiten vir persepsie het elke land die prys wat jy vir die voordele moet betaal. Nie net in terme van geld nie.” – Is ‘n groot, groot waarheid en my ondervinding ook.

Voilet ·

Talle mense wat oorsee gaan bly , kom weer terug. Die gras is groener aan die anderkant want daar is te veel “honde bollie” wat alles groen laat lyk

Hier in SA het ons , ons dinge ..maar genade in ander lande gaan dit nog erger

Republikein in die Wes Kaap ·

Mense wat langer as 7 jaar oorsee woon kom selde terug, al wil hulle. Hulle is dan gevestig in beroepe en hul kinders word daar gebore en groot gemaak. Enkelopendes ontmoet hul troumaats daar. Terug in SA is dit maar weer regstellende aksie en BEE en die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.