Die groot vassit

Foto: Koos Greeff

Eendag bel ʼn man my met ʼn vreemde vraag. Hy moet ʼn advertensie maak vir ʼn voertuigmaatskappy en die grootbase van oorkant die waters wil hê die advertensie moet in Angola gemaak word. Nou vra die man of ek kan help. Maar dis al ʼn paar jaar terug en teen daai tyd was ek en die Duitser al mooi ingesout – ons weet van sukkel.

As jy dink dit sukkel in Suid Afrika, moet jy tog bietjie in Angola loop kuier. Net om die klomp toerusting deur die grens te kry is ʼn moedelose bedryf. So ek volstaan by ʼn “nee”. Ek vertel hom mooi watter onheile en ellende op hom wag en hy hoor skynbaar, want later bel hy weer en vra of ek Angola iewers in Namakwaland kan herskep.

Ons lot bekyk toe my foto’s en vra sommer vir Google ook en later is ons oortuig dat die suidweste van Angola nogal so ietwat soos onse omgewing lyk. Markus soek mens wat Portugees kan praat en ek soek palmbome en hulp.

So daag die span later op – ʼn hele 75 van hulle sommer met ʼn helikopter ook en ons jae heen en weer en bou Angola en breek weer af en verplaas die hele lot na ʼn ander omgewing en verf die goed om anderster te lyk en dan verfilm die span weer. Dis ʼn yslike gewoel en die hele Klawer is oorvol van inkommers.

Op ʼn dag besluit die grootbaas die klomp bakkies moet nou op ʼn soutpan loop jae. Die naaste ordentlike soutpan is seker Verneukpan en dis ver. So vat ons sommer een van die nat panne hier teen die Weskus. Ek is ewe die vorige dag al uit doer heen en sien die pan is darem redelik droog. Ry hom sommer lekker met die Nissan. Daai volgende oggend stap ek die pan plat en merk die nat kolletjies met stokkies en rietjies. Beplan ʼn mooi harde pad wat so effe krom loop oor die pan. En toe daag die span op – die hele lot tesame met ʼn klomp regte drywers – dis nou uit-geleerde manne amper soos Giniel de Villiers wat ʼn motor kan drywe want ons lot plaasjapies kan skynbaar nie ʼn motor dryf nie.

Ek vertel hulle so half skoorvoetend waar die nat kolletjies is en hoe hulle moet ry en daar trek die hele sewe van hulle met sulke splinternuwe blink bakkies na die oorkant van die pan. Die kameramense klim in die helikopter en die lot staan op aandag totdat die helikopter op die presiese regte plek in die hemel hang toe vlie hulle weg. Net een stofstreep soos hulle kom en hulle maak die duskant en die tjopper kom sit. Almal lag breedbek en toe klim die kameraman daar uit. Skynbaar het ʼn haar op die lens van sy kamera gaan vassit en nou moet die hele bedryf oorgeskiet word. Ek maak kapsie en vertel van vassit maar die geleerde drywers weet van beter en daar trek hulle.

Maar ek onthou sterk hoe ons klompie matriekseuns op daai einste pan vasgesit het. Met mooipraat het ek Ryan Engelbrecht se Land Cruiser geleen gekry en ons lotjie rammetjies gaan vier die eksamen wat verby is en die grootmenslewe wat aanbreek. Heinz Baer vat die wiel en ons ry daai einste pan in. Net so ʼn bietjie toe sit ons vas. Grawe daai ganse dag modder-drek en toe moet ons daai gesmeersel afskrop van die Cruiser. Maar die geleerdes wil nie weet nie. Ek skrou nog agterna oor die draadlosie dat hulle moet wegbly van hulle ou spore maar wat wou, hulle kom.

Mooi netjies in die middel van die pan toe val hulle vas. Sewe bakkies wat op hulle pense lê in souterige swart modder. Toe kom jae die uitsleepdiens onverskrokke daar aan met sy dikwiel Land Cruiser en daar val hy ook. Die grootbaas stuur sommer die Samil-trok wat die groot kragopwekker dra daar in en daar sit hy ook. ʼn Onverskrokke boerseun bied aan om te kom help met die dubbelwieltrekker en val so diep in laat die modder amper die enjin oorval. Watter gemors. Dit kos graafmasjien laat kom en pad maak tot by die lot en toe een vir een hulle daar verlos. Ure en dae se werk.

Oppas vir ʼn nat pan. Dis geen mens se speelmaat daai nie. Ek het nou nog die foto’s van daai groot vassit. En moenie kom lieg oor jou bakkie se tekkies of wonderlike ewenaar-sperre nie. Op ʼn natterige pan sal jy jou alie sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Joan Strydom ·

dit is ’n besondere vertelling en as mens eerstehandse kennis het van ouens wat glo hulle voertuie is beter as enige ander s’n, dan lag jy want jy weet.

Esme ·

Interessant sal onthou as ons ooit n pan moet aandurf – pragtig vertel.

Arak ·

Baie oulik, dankie. Min dinge wat mens so vinnig so nederig kan kry soos vassit op so ‘n nat pan. En as die ou bordjies nou vir jou sê “Bly op die pad”, dan bly jy maar op die pad…

Pieter ·

Ai Koos, dankie man…..goed vertel maar jy het nou net weer n skaamte en verleentheid vir my geskep! My seuns gaan hierdie storie een of ander tyd vandag lees!!
Opsomming:
Met my nuwe 4×4 in my eie tuin so vasgeval.
Eish?

John ·

Ek hoop jy het die hele storie verfilm… Mens kan geld maak daarmee.

Lydia ·

Dankie vir die lekker-lees artikel. Het dit geniet en sal die les onthou.

JAN ·

Dankie Koos. Mooi!! geniet.
Ewenaar- sperre is seker die dif – lock ?

Stephan de S ·

Dankie Koos…ek mis nooit jou stories nie. Mag jy en die Duitser nog baie avonture beleef. Klink of sy al bietjie afgekoel het!!

Leon ·

Ek kan my net indink hoe moet die storie klink as hy so uit die “perd se bek” mondelings vertel word!
Pragtige storie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.