Die honger kamp

Argieffoto (Foto: Nasir Akhtar/Pixabay)

Een jaar besluit ons klomp neefs ons gaan kamp by die “Mond”. Vir julle uitlanders, dis die plek waar die Olifantsrivier in die see loop neffens anderkant Papendorp.

Ek is die oudste neef en boonop ʼn uitgeleerde Voortrekker-verkenner. So ek moet die koskopery hanteer. Vir dae aaneen beplan ek presies. Die regte hoeveelheid proteïne, kalorieë en vitamines. Die spyskaart is gebalanseerd en perfek. Hierdie kampery van ons klomp neefs sal uitstaande wees en ons lot sal blakend van gesondheid terugkeer.

Pappa laai ons lot op die ou Datsun-bakkie en vroegmiddag stap ons oor die vloedvlaktetjies na een van die eilandjies daar by die Mond. Ons grou holtes aan die windstil-kant van die duine en rig skerms op want die son kan jou gaar brand hier teen die Weskus. En die visstokke word staangemaak teen die waters. Maar dis so half oosweer en niks byt of vat nie so ons wend ons tot die rugsak. Met groot omhaal haal ek die volledig gebalanseerde aandete te voorskyn kompleet met sout en speserye.

Maar die neefs staar verstom na die gebalanseerde aandete en toe begin die gestoei want ek het vergeet ons is ses jong ramme bymekaar. Ek het sowaar net vir een mens kos ingepak! Daai volgende oggend was die hele week se kosse reeds op en sak die groot hongerte oor ons neer. Selfs die sout en peper was op.

Kort ná dagbreek vang Nico ʼn verhongerde steenbrasvissie maar so ʼn louwarm vis sonder sout gaat maar sleg af. Om my sonde te bely bied ek aan om sout te loop soek. So beur ek oor modderslyk-vlaktes en tussen biesies deur tot by Papendorp se soutpan en raap ʼn sakkie sout daar. Toe weer terug.

Intussen het die neefs vasgestaan teen die viswaters maar geen geluk kom hulle kant toe nie. Later kou ons takkies en soek veldkosse op die eilandjie. En die neefs is stil-kwaad van die hongerte. Gelukkig is ek darem groter as hulle anders het ek pak gekry daai namiddag.

Sononder daal die besef neer dat ons hier sal moet weg of ons sal dood. Ons staan alger teen die viswaters en staar hoopvol na die Mond se kant want die gety kom in. Die eerste wat kom is die seevoëls. Sulke bondels meeue en sterretjies en tobies en annerlike goeters en die spul duik en loop sit op die water en pik. En toe begin die water lewe. Van hierdie kant reg oor die rivier tot oorkant. Dit lyk asof die water ʼn lewendige ding is; iets wat sy lyf skud en bewe. Stom kyk ons die verskynsel aan en toe begin byt die harders. Later sit ons sommer twee of meer hoeke aan die lyne en sommige manne gooi in sonder aas. Die harders vat enige ding wat voorkom en ons sleep hulle twee-twee daar uit.

Daai aand toe braai ons vars harders met regte Papendorp-sout en ons raak salig aan die slaap. Tot die volgende môre – toe is ons drinkwater op want ek het mos net vir een man gepak. Dis toe dat ons ses neefs maar ons sakke pak en die sandstrand aandurf na Strandfontein toe.

Gelukkig het Pappa altyd ʼn sleutel iewers weggesteek gehad vir die onwis en kon ons “Gesondheid” se deur oopkry. Iewers het ons ʼn paar rand uitgekrap en daarmee by oom Mossie se winkel ʼn paar liter roomys gekoop. Daar was iewers in die huis ook ʼn bottel soetwyn. Toe het ons geëet en gedrink en gerus.

Na allie jare praat ons neefs nog oor daai “honger kamp”. En oor die genade wat soos ʼn lewendige dierasie by die Mond ingekom het en die hele rivier laat lewe het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JAN ·

Hierdie is ń aangrypende metafoor. Dankie Koos.
Herinner aan Elisa se gebed vir sy slaaf: ” Ag God maak tog sy oge oop dat hy kan sien ons is baie meer as hulle…!”
Ai

Koos ·

Dankie julle. So kan mens jouself behoorlik bedrieg en dan dink ons ons is so slim!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.