Die jaar toe Covid Kersfees probeer ‘steel’ het

Die Grinch (Foto: ErikaWittlieb/Pixabay)

Daar is ʼn storie oor ʼn suinige, geïsoleerde ou man wat almal in die dorpie waar hy gebly het, se Kersfees probeer ruïneer het, deur die hele tyd die Kersversierings te steel. Hy het geglo as hy die “ekstras” sou wegvat dat Kersfees, die tyd waar almal gelukkig en vredevol is, nie sou plaasvind nie. Uiteindelik het die dorpie se mense besluit hulle het nie enige van hierdie dinge nodig om nog steeds Kersfees te kan vier nie. Dié tyd gaan eintlik oor vrede en samesyn.

2020 was die vreemdste jaar wat daar seker nog ooit was… Wel, vir my altans. Die hoeveelheid ervarings en onsekerheid wat ons moes deurmaak terwyl ons in ʼn konstante mentaliteit van oorlewing was, was ʼn onmenslike hoeveelheid stres op enige mens se lewe.

Covid-19 het soos ʼn dief in die nag gekom, waar dit eers net statistieke van onbekende, gesiglose mense was. Hier en daar was daar ʼn verlangse kennis wat siek geword het. Maar die getal sterftes het elke dag geklim, nie net in die wêreld nie, maar ook in ons land.

Ons is onder “huisarres” geplaas, vir redes wat ons soms gesukkel het om te verstaan. Ewe skielik was ons almal onderwysers terwyl ons nie geweet het of ons nog ons ander daaglikse werk het nie en of ons genoeg kos op die tafel sal kan sit en of ons ooit weer ons familie in ander stede, moenie eens praat van ander lande, gaan sien nie. Die lewe was op sy kop.

Maar soos goeie Suid-Afrikaners het ons besluit ons lag eerder oor die tragedie as wat ons gaan lê. Ons het grappies gemaak, onder die tafel begin deal om sekere goed in die hande te kry wat ons makliker deur hierdie moeilike tyd sou kry en ons het weer begin nuwe idees kry oor hoe om aanlyn te werk of nuwe geleenthede begin sien waar ‘rona ons vir ʼn ace geslaan het.

Dinge het weer begin normaliseer en ons het weer meer begin werk, winkels toe gegaan en selfs begin reis. Hierdie moontlikhede het ons waarskynlik soms laks gemaak in ons voorkoming van verdere infeksies. Of dalk was dit maar net die virus wat wel sy pad ook rondom hierdie struikelblok gevind het. Wie sal ooit weet? (Dalk oor 100 jaar sal mense beter verstaan wat op dees aarde hierdie jaar soveel chaos veroorsaak het.) Maar ʼn tweede golf Covid-19 het ons net voor Kersfees getref en hier het die “Grinch”, alias Covid-19, werklik sy moue begin oprol en ingeklim om alles in sy vermoë te doen om ons vreugde (die bietjie wat nog oor was ná ʼn baie uitmergelende jaar van geen vakansie of rus nie) te kom steel.

In ons huis het manlief positief getoets vir Covid-19 en ek was basies ʼn enkelouer (julle is elke dag in my gebede!) vir die twee weke wat nodig was om te isoleer. Gelukkig het hy só herstel dat ons wel ons vliegkaartjies kon skuif, en ons die familie in die noorde net betyds vir Kersfees kon besoek. Oukersdag is ons gepak en gestewel, en net toe ons in die motor wil klim, vind manlief ʼn balaklawa op ons motor se agterste sitplek. En net daar besluit ek dat ons nêrens heen gaan nie. Hierdie hele wêreld is op sy kop en God probeer vir my iets sê – wat dit is het ek in daardie stadium nog nie geweet nie, maar dit was oukei.

Twee dae later het ek gesien waarom ons nie moes reis nie, en ek prys Hom nog elke dag daarvoor. Ek het self positief getoets. My ouers en skoonpa sou almal waarskynlik teen daardie tyd reeds by my aangesteek het.

Wat ek ook besef het is dat Kersfees (my gunstelingtyd van die jaar) nie gebonde is aan ʼn datum nie en geen Grinch, Covid-19 of dief sal dit by my kom steel nie. Net soos daardie mense van die dorpie gaan ek nie toelaat dat my omstandighede my innerlike vrede of vreugde kom steel nie.

Jesus het ook in ʼn tyd van chaos gekom. Niks het verloop soos Sy mense gedink het dit gaan of verwag het nie. Hulle is selfs regeer deur mense wat niks van hulle gehou het nie en hulle onderdruk het. Daar was nie eens ʼn plek vir Hom en sy gesin om te slaap die aand wat Hy die wêreld ingekom het nie. En ja, dit was nie rêrig 25 Desember nie, ek weet. (Maar dis tog lekker dat daar een dag in die jaar daarvoor uitgesit is vir die hele wêreld om dit te vier, of hulle nou dit weet of nie.) Maar Hy het steeds gekom. Hy het steeds die vrede wat alle verstand te bowe gaan, na ons toe gebring op dié dag wat Hy gekom het.

So waarom sou ek dan toelaat dat Covid-19, die Grinch of enige iets anders my vrede en vreugde tydens Kersfees steel? Kersfees se Groot Geskenk is steeds in ons harte. En ja, in hierdie lewe en op hierdie aarde gaan ons getoets word deur virusse wat ons lywe aftakel, deur Kersfees-etes wat nie plaasvind nie, en ʼn onbekende toekoms waar ons nie weet wat nog voorlê nie. Maar ons weet waarheen ons op pad is, en dís die Kersgeskenk wat niemand kan steel nie.

Mag ons die hele 2021 aan dié Kersgeskenk vashou, sodat ons nie die volgende Kersfees onkant gevang word deur enige iets wat die Grinch probeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.