Die Jerseybul

Argieffoto (Foto: Ella_87/Pixabay)

Een jaar kuier Nonnie weer ʼn slaggie by ons op die sendingstasie. Sy is my kleinsus en is meer as dertien jaar jonger as ek en dis lekker om “Boeta” te wees. Ons brandmerk bees en spuit sommer ʼn slag die lot en Nonnie is my handlanger. Maar die lot bees daar op die sendingstasie is ʼn behoorlike bontspul met sewe verskillende soorte bulle tussen drie verskillende soorte koeie. Dis toe dat ek aan’t smous raak en kort daarna moet die Jerseybul voort.

Enige goeie beesmens weet ʼn Jerseybul is net deuskant die satan self want al is hulle klein van lyf, is hulle groot van hart. Nonnie kom saam en is ewe netjies geklee in blomrokkie en fyn skoentjies. Die manne laai die Jerseybul op die Toyota Dina met die hoë beestralies en druk sommer ʼn paar lang teerpale halfpad deur die traliewerk sodat die Jerseybul nie te veel beweegspasie het nie. Maar ek is gerus want ek ken van beeslaai en die tralies op die Dina is lekker hoog en sterk. Net so vir ʼn na-kousel gooi ek darem ʼn bondel tou agter die sitplek in en daar trek ons.

Ons was net by Karl-Heinz Duvel se plaas verby op pad na Kranskop, toe is daar ʼn geweldige slag op die dak en die Dina. Die dak is heel ingeduik en ek dag ʼn vliegmasjien het op ons geval. Ek skop briek en voor ons nog behoorlik tot stilstand kom, toe voeter die Jerseybul bo van die dak af en val hom half te vrekte hier voor ons in die teerpad. Die doodmaak en uitspring was een ding, maar toe ek voor die trokkie kom, toe wriemel die bul hom hier onder die bumper uit en staat wankelrig my en aangluur agter twee verwoede oge. Ek sit net daar om en ruk die bondel tou agter die sitplek uit en kry darem ʼn lus rondom die twee horings gemaak. Net toe trek die bul daar weg en hy hol laat hy vrek hier teen die bult af in die rigting van Ivan Voigts se plaas doer onder teen die spruit.

Ek is nog jonk en jeugdig en ek hou by, maar so al hollende moet ek die bondel tou uitryg. Later is die bul so amper twintig meter voor my en ek vlie behoorlik daar in die paadjie tussen die suikerrietlande af. Ek dink die valslag moes die Jerseybul ietwat omgeëllie het want later sien ek hy begin spoed verloor. So ʼn ent vorentoe duik daar ʼn Eskom-paal op teen die paadjie en dis toe laat ek spoed optel. Ek hol laat my speeksel sulke gomslyme maak in my mond en later is ek kort op die bul se hakke. Toe ons by die paal kom, hou hy links en ek vat regs en blitsvinnig kry ek nog ʼn kinkel om die paal gemaak voor die bul loop styfrem. So amper trek hy Eskom daar van lyn af. En daar staan ons al hygend vir mekaar en loer met die stuk tou tussen ons.

Eers staat die bul stil maar toe begin hy stadig nader kom. Soos hy kom, trek ek die tou al stywer en staan ek al verder weg van die paal. Later staat hy teen die paal en beloer my en ek dans al om die paal totdat ek die Jerseybul vasgewoel het. Toe is dit die lang pad terug na die trokkie waar Nonnie stomgeslae sit. Ons jae daar af na Karl-Heinz se plaas en gelukkig is hy ʼn vrymoedige mens.

Gewilliglik spring hy in sy geel Peugeot-bakkie en loop laai sommer ʼn span man om te kom help. Ná ure se gestoot en getrek het ons die Jerseybul weer op die Dina en toe weef ons hom behoorlik toe met die bol tou. Al brullend en loeiend is ons deur Greytown al die pad af tot in Muden. Die Dina lyk later of hy wals of bokspring soos die Jerseybul stoei met die bol tou en soms kan ek beswaarlik die bedryf op die pad hou. Maar ons het aangekom en hom vredeliewend by sy nuwe tuiste op Lemora Orchards besorg. Daar het hy vrugbaar gelewe vir vele jare.

Maar vir my het hy vir altyd aangegluur.

Nou is Nonnie ook al ʼn grootvrou en bly in die verre Amerika. Nou die dag sit maak ons vuur en sy vat die storie van die Jerseybul. Ons praat van daai groot skrik en die ingeduikte dak van die Dina en brandbors-hollery teen die heuwels van Natal. Ons is terug op ver paaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

dries ·

Dit vat my ook terug na ons jerseybul op die plaas baie jare terug. Hy het in ‘n versterkte kampie gebly maar die moelikheid het altyd gekom sodra hy sy dinge moet doen by die koeie. Dan moes ons bontstaan. Later het my oorlede Pa ‘n stuk sinkplaat prakseer wat voor die bul se kop aangebring is dat hy nie so lekker kan sien nie, maar hy het ontslae geraak van die bedryf in minute. Die ring in sy neus het min effek gehad as jy hom iewers heen moet vat, ek reken dit het hom net meer beneuk gemaak. Nouja, dis jare terug daai. Dankie Koos.

Stephan de S ·

Pure plaas. So n omgesukkelde ingelsmanbul het my self eendag deur n doringdraad laat rol asof daar geen heining was nie. Ek was so tien jaar oud en dit was die buurman se bul en ek was vd plaasskool af pad huis toe. Goeie ou herinneringe!

Lerato ·

Koos
Jy’s ‘n doring, om so met ‘n Jersey bul te spook is nie kinderspeletjies nie.

aj ·

Vir ‘n Jersey bul het ons ook heilige ontsag gehad!

Lekker om die kinderjare te herleef met Koos se vertelling!

Heerlik … DANKIE!

Plaaskind ·

Dankie Koos, my tone krul behoorlik van lekkerte, ek het jou storie so geniet!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.