Die (koffie)moer is suur

Argieffoto (Foto; israelbest/Pixabay)

Hier teen die Weskus praat onse mense mos ʼn anderse soort van Afrikaans. Soms grens dit aan die onwelvoeglike maar as jy mooi dink, hoor jy uiteindelik die skone klanke van pure taal. Soos nou die dag is ek weer by die dokter op Jacobsbaai en sy vertel my van die antie wat se moer suur geword het. Skynbaar was sy moeg gewag vir die oompie en toe gebeur die onheil. Dis ʼn vrome dokter, die ene van Jacobsbaai, en toe sit wonder ek nou oor die onwelvoeglikheid. Toe onthou ek iets wat met my gebeur het in Irak.

Ek drink koffie. En ek praat nou van ordentlike moerkoffie gebrou in ʼn ketel of pot en die goed moet sterk wees – soveel so laat mens sommer aan’t bewe raak as jy die tweede kommetjie sluk. Ons sit die dag daar in Karada in die middedorp van Bagdad en ons drink koffie. Lekker sterk met so ʼn knertsie room sodat hy net so half blas vertoon. Maar die goed proe verkeerd. Ek is al gewoond aan goed wat mense verkwansel as koffie wat eintlik een of ander liegspul is, so ek aanvaar die lyding maar gedweë. Later van dae grawe ek iewers in ʼn stoorkamer ʼn regte Italjaanse koffie-prutter uit en kry sommer daar by die stoorman ʼn vol blik moerkoffie ook. So reis ek nou met my eie koffie en prutter en die dankbaarheid is groot. Eendag is ek weer daar by ou Morgan in Karada-basis en ek brou vir ons koffie sommer daar in die kantoor. Morgan raak lofliedere aan die sing ná die eerste teug en vra in ekstase waar ek die hemelse goed kry. Wys hom ewe trots my blik moerkoffie en toe breek die dag. “Maar ons drink dan dieselfde koffie hier in Karada en ons koffie proe soos drek.” Net daar laat haal ons koffie van die eetsaal en begin ʼn proe-sessie. Later is die hele kantoor betrokke en ʼn volle wetenskaplike “proe” word gehou. Die uitslag is oorverdowend. “Sir Yacoub is the winner.”

Ná die wonderlike wenskoot sit werk ek nou salig maar die besigheid pla my. Later vat ek die pad hier af na die kombuis en vra vir Ali – ek dink dit was nr 3, waar is die koffieketel. Hy vat my na so ʼn groot Amerikaanse bedryf wat vasgenael sit teen die muur in die kombuis. Groots verduidelik hy aan my hoeveel gemaalde koffie mens op ʼn slag daar infoeter en hoeveel water en dan wag jy ʼn paar minute en dan vloei die swart saligheid onder uit. Ek vra ewe vroom wat word van die moer. “Moer? – Wat is moer?” antwoord hy in Ingels. Ek probeer verduidelik dat daar mos moer oorbly as mens koffie maak en die goed moet mos iewers uit, maar Ali nommer 3 is onskuldig. Ek laat sleep ʼn klimding nader en loer bo by die Amerikaanse bedryf in. Toe sien ek dit. Die bedryf lê bek-toe vol van moer. En ek praat nou van toeka se moer.

Ali tree sy medewerkers aan. Dis nou Ali nommer 1 en Ali nommer twee en hulle drie trek die Amerikaanse affêre daar af en sleep hom na die opwasgedeelte van die kombuis. Toe begin ons uitgrawe. Hope en hope moer en hoe verder ons sak, hoe suurder word dit. Uiteindelik is die prutmasjien gereinig en staan ewe blinknuut op sy pos. Daai middag is daar ʼn ligte rewolusie in die eetsaal. Mense staan tou om koffie te kry en alger besing die lof van die aankoper wat uiteindelik ordentlike koffie uit die VSA gekry het. Ons andere is doodstil – net dankbaar mens is nie vergiftig deur die suurmoer van vroeger se dae nie.

Koffiemoer moet jy uitgooi. As jy die koffie afgegooi het, moet die moer uit. Dis soos met kwaadword. Kry hom uit en weg en moenie op hom loop lê nie.

Maar as jy weer hier in Namakwaland of teen die Weskus kom en iemand ontstig jou oor “moer”; onthou tog my storie en moenie al te preuts wees nie. Netnou is jy die ene wat se koffie te lank op die moer gestaan het. Dan is dit tyd vir die bekering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.