Die korona-effek

Argieffoto (Foto: Hari Mohan/Pixabay)

Die nuwe koronavirus het die wêreld soos ʼn vuishou getref. En dit het amper letterlik ons almal se asem uitgeslaan.

Mens sien dit in die rye wat uit Makro se deure staan, leë rakke waar die toiletpapier, langlewemelk, gesigmaskers en sanitasiemiddels moet wees in plekke soos Checkers, Woolworths, Dis-Chem en Clicks.

Dis soos Y2K [die oorgang van 1999 na 2000] van voor af, maar hierdie keer is dit egter Y2K op steroïde, met komplimente van sosiale media. Almal hardloop paniekerig rond om weg te kom van iets waarvan hulle amper niks weet nie. Ten minste met Y2K het ons ʼn tipe gemene “vyand” gehad. Nou is dit jou medemens en dit wat hulle dalk het, of nie het nie. Die wêreld het te klein geword.

Selfs ek was nogal oorweldig toe ons president (baie wys, dink ek) aangekondig het die land se grense word gesluit, skole word vir ʼn maand toegemaak en self-isolasie moet toegepas word. Maar heel menslik het ek begin dink aan dinge soos… Ai tog, ek wou nog gegaan het vir my verjaarsdagmassering; dit beteken ons sal ons vakansie moet uitstel… Erg selfsugtig, ek weet.

Ek wou amper vir myself sê: First World Problems. Miskien was dit ʼn mate van vermyding van die werklikheid. My manier om nie te dink aan wat nou eintlik gebeur nie.

Dit was egter my vierjarige seuntjie se woorde wat my tot stilstand geruk het. Ons was in die winkel, besig om maar ʼn paar nodige dingetjies, wat dalk mag opraak, te koop toe hy vra: “Mamma, wanneer is dit genoeg…?”

Wanneer is dit genoeg…?

Ek weet hy het verwys na my waentjie vol goed, maar ek het ewe skielik net gesien hoe almal rondhardloop en desperaat dinge koop wat hulle dínk hulle nodig het.

Daar het al ʼn hele paar keer oomblikke gekom waar vrees die oorhand oor my wou kry. Ek het gewonder wat sal gebeur as ek of my familie dit kry. Wat as een van ons sterf? Wat gaan gebeur as ons kos opraak in die land? Wat as hierdie situasie vir lank aangaan?

Dis op sulke oomblikke wat ek elke keer teruggekom het na die feit: Ek gee nie om wat gebeur nie, dis nou die tyd om kwaliteittyd te spandeer met my hartsmense en om voort te gaan om goed te doen, soos die Bybel sê. Want niks anders as dit maak saak nie. ʼn Massering is net nie meer belangrik nie en vakansies maak nie meer saak nie. Selfs kos raak amper oorbodig.

As ons net mekaar gaan hê, en daar is nie meer kos nie en ons moet net op mekaar staatmaak: gaan ons uitreik na mekaar en mekaar help? Gaan ons iets van onsself opgee om ander eerste te stel? Dalk ten koste van onsself? Gaan ons die selfsugtige “ek” uiteindelik opgee?

Want ek kon nie help om te wonder of ons eindtye dalk heeltemal anders lyk as wat ons al die tyd gedink het nie. En nou moet ons begin terugkeer na die basiese dinge in die lewe. Want dit maak nie saak hoe baie geld ons het nie, dit gaan ons op hierdie oomblik net mooi niks help nie. Vra elke celebrity wat al die virus gekry het. Die virus maak alles gelyk en uiteindelik gaan dit neerkom op hoe ons harte lyk en wat ons vir die mense om ons kan beteken.

En ja, menslik is ons maar bang vir die onbekende. Hierdie dodelike onsigbare kiem wat onder ons begin maai soos ʼn wolf in skaapklere. Dís wanneer die vrees amper wil wen… Maar dan dink ek… Hoekom is ek bang? Is dit nie tog wat Paulus sê nie? Om te leef is vir my Christus en om te sterf is vir my wins. (Fil. 1:21) Daar is nie ʼn verloorder hier nie.

Is hierdie nie dalk die genadetyd waarmee God weereens sy hand na ons sterflinge uitsteek en ons smeek om dit te vat nie? Is dit nie sy manier om die wêreld die hoeveelste wake-up call te gee nie?

Dalk is dit ons kans om weer te fokus op dít wat ewigheidswaarde het en die sterflike dinge te laat wegval. Miskien is dit die positiewe korona-effek waarvoor ons almal moet swig, in ʼn eg menslike manier…

Hou op bang wees, help waar jy kan, sê vir die mense na aan jou jy is lief vir hulle, wees veilig en pas jouself mooi op. Mag God by jou wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae